1Ná verloop van twee jaar het die farao gedroom: Kyk, hy staan langs die Nyl, 2en meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. 3Maar kyk, sewe ander koeie wat lelik lyk en maer is, kom toe ná hulle op uit die Nyl, en hulle gaan staan langs die koeie op die wal van die Nyl. 4Die koeie wat lelik lyk en maer is, vreet toe die sewe koeie op wat mooi lyk en vet is. Toe word die farao wakker. 5Hy het aan die slaap geraak en 'n tweede keer gedroom: Kyk, daar was sewe koringare, vet en mooi, aan een halm, 6en meteens spruit daar ná hulle sewe koringare uit, maer en verskroei deur die oostewind. 7En toe sluk die maer are die sewe vet en vol are in. Die farao het wakker geword en kyk, dit was 'n droom!
8Die oggend was sy gees onrustig, en hy ontbied toe al die waarsêerpriesters en wyses van Egipte. Die farao vertel toe vir hulle sy drome; maar niemand kon dit vir die farao verklaar nie.
9Die hoof van die skinkers praat toe met die farao: “My eie misstappe moet ek vandag in herinnering roep. 10Die farao het hom bloedig vererg vir sy dienaars en het my onder bewaking geplaas in die huis van die hoof van die lyfwag, vir my en die hoof van die bakkers. 11Ons het in dieselfde nag gedroom, ek en hy; elkeen het sy eie droom met 'n besondere betekenis gedroom. 12By ons was daar 'n Hebreeuse jong man, 'n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het dit vir hom vertel, en hy het ons drome vir ons verklaar. Vir elkeen het hy dit volgens sy droom verklaar. 13En soos hy dit vir ons verklaar het, het dit gebeur: Vir my het die farao in my amp herstel, maar hom het hy opgehang.”
14Die farao het Josef toe laat roep, en hulle het hom gou uit die put gehaal. Nadat hy geskeer en ander klere aangetrek het, het hy na die farao gegaan. 15Die farao sê toe vir Josef: “Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan verklaar nie. Ek het van jou gehoor, naamlik dat jy net 'n droom hoef te hoor om dit te verklaar.” 16Josef het die farao geantwoord: “Dit berus nie by my nie! Net God kan 'n gunstige antwoord gee vir die farao.”
17Toe sê die farao vir Josef: “Kyk, in my droom staan ek op die wal van die Nyl. 18Meteens kom daar uit die Nyl sewe koeie op wat mooi lyk en vet is, en hulle wei in die oewergras. 19Maar kyk, sewe ander koeie wat treurig en baie lelik lyk, kom toe ná hulle op uit die Nyl. Ek het in die hele Egipteland nog nooit koeie gesien wat so lelik soos hulle is nie. 20En toe vreet die maer en lelike koeie die eerste sewe vet koeie op! 21Toe hulle in hulle ingewande was, kon 'n mens nie eers sien dat hulle in hulle ingewande ingegaan het nie. Hulle het so sleg gelyk soos aan die begin. Toe het ek wakker geword.
22“Toe sien ek in my droom: Kyk, sewe koringare, vol en mooi, staan op uit een halm. 23Meteens spruit daar ná hulle sewe maer koringare uit, verskroei deur die oostewind, 24en toe sluk die maer are die sewe mooi are in! Ek het dit vir die waarsêerpriesters vertel, maar niemand kon dit vir my verduidelik nie.”
25Josef sê toe vir die farao: “Die drome van die farao – dit is maar een droom. Dit wat God gaan doen, het Hy aan die farao bekend gemaak. 26Die sewe mooi koeie is sewe jare, en die sewe mooi koringare is ook sewe jare. Dit is een droom. 27Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare, en ook die sewe maer are, verskroei deur die oostewind. Dit sal sewe jaar van hongersnood wees. 28Dit is soos ek vir die farao gesê het: Wat God gaan doen, het Hy die farao laat sien. 29Kyk, daar kom sewe jaar van groot oorvloed in die hele Egipteland. 30Maar daarna breek sewe jaar van hongersnood aan, en al die oorvloed in Egipteland sal vergete wees. Die hongersnood sal die land uitmergel. 31Die oorvloed in die land sal vanweë die hongersnood wat daarop volg, nie meer onthou word nie. Ja, dit sal baie erg wees. 32En wat die herhaling van die droom aan die farao op twee maniere betref: Omdat die saak van God se kant af vasstaan, is God haastig om dit gou te doen.
33“Daarom moet die farao 'n man met insig en wysheid kies, en hom oor Egipteland aanstel. 34Die farao moet optree en opsigters aanstel oor die land, en hy moet in die sewe jaar van oorvloed een vyfde van Egipteland se oes opeis. 35Hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, bymekaarmaak. Hulle moet op gesag van die farao voedsel in die dorpe opgaar en bewaar. 36Die voedsel sal as voorraad vir die land dien vir die sewe jaar van hongersnood wat in Egipteland sal heers, sodat die land nie deur hongersnood ten gronde gaan nie.”
37Die saak was goed in die oë van die farao en al sy dienaars; 38en die farao het vir sy dienaars gevra: “Sal ons so iemand vind, 'n man in wie die Gees van God is?” 39Toe sê die farao vir Josef: “Noudat God dit alles aan jou bekend gemaak het – daar is niemand so verstandig en wys soos jy nie – 40sal jy self hoof van my hofhouding word, en aan jou bevele sal my hele volk gehoorsaam wees. Net wat die troon betref, is ek jou meerdere.”
41Die farao het vir Josef gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.” 42Toe haal die farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan Josef se vinger. Hy het hom linneklere laat aantrek en 'n goue ketting om sy nek gehang. 43Hy het Josef laat ry op die tweede strydwa wat aan hom behoort, en daar is voor hom uitgeroep: “Gee pad!” So het hy hom oor die hele Egipteland aangestel.
44Die farao het vir Josef gesê: “Ek is die farao, maar sonder om jou in ag te neem, mag niemand in die hele Egipteland 'n hand of 'n voet lig nie.” 45Die farao het Josef die naam Safenat-Paneag gegee, en hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, aan hom as vrou gegee.
Josef het Egipteland deurreis. 46Hy was dertig jaar oud toe hy in diens van die farao getree het, die koning van Egipte. Hy het van die farao af vertrek en die hele Egipteland deurkruis.
47Die land het in die sewe jaar van oorvloed volop voedsel gelewer. 48Hy het al die voedsel wat daar in sewe jaar in Egipteland was, bymekaar gemaak. Hy het die voedsel in die dorpe ingebring. Die voedsel van die dorp se landerye wat daar rondom was, het hy daar ingebring. 49Josef het graan opgegaar soos die sand van die see, besonder baie, totdat hy opgehou het om dit te tel; want dit was ontelbaar.
50Vir Josef is twee seuns gebore voordat die jare van hongersnood aangebreek het – seuns wat Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. 51Josef het die eersgeborene Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my al my swaarkry laat vergeet, en ook my hele familie”. 52Sy tweede seun het hy Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.
53Die sewe jaar van oorvloed wat daar in Egipteland was, het tot 'n einde gekom, 54en sewe jaar van hongersnood het aangebreek, net soos Josef gesê het. Daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood. 55Toe die hele Egipteland ook honger ervaar, en die volk by die farao om hulp roep vir brood, het die farao vir al die Egiptenare gesê: “Gaan na Josef! Wat hy vir julle sê, moet julle doen.”
56Toe daar hongersnood oor die hele land was, het Josef al die voorraadskure oopgemaak en graan aan die Egiptenare verkoop. Die hongersnood was straf in Egipteland. 57Die hele wêreld het na Egipte gekom om by Josef graan te koop, want die hongersnood was straf oor die hele aarde.