Juda en Tamar
1In daardie tyd het Juda laer af getrek, weg van sy broers, en sy tente opgeslaan tot hy gekom het by 'n man van Adullam met die naam Gira. 2Daar het Juda 'n Kanaänitiese man, met die naam Sua, se dogter gesien. Hy het haar as vrou geneem en by haar ingegaan. 3Sy het swanger geraak en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom die naam Er gegee. 4Sy het weer swanger geraak en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom die naam Onan gegee. 5Sy het weer 'n keer aan 'n seun geboorte gegee en hom die naam Sela gegee. Juda was in Kesib toe sy aan hom geboorte gegee het.
6Juda het vir Er, sy eersgeborene, 'n vrou geneem met die naam Tamar. 7Maar Er, Juda se eersgeborene, was sleg in die oë van die Here, en die Here het hom laat sterf. 8Toe sê Juda vir Onan: “Gaan in by jou broer se vrou en doen jou plig as swaer teenoor haar, en vestig vir jou broer 'n nageslag!” 9Maar Onan het geweet dat die nageslag nie sy eie sou wees nie. Daarom het hy, wanneer hy by sy broer se vrou ingegaan het, sy saad op die grond gestort, om nie vir sy broer 'n nageslag te gee nie. 10Wat hy gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here, en Hy het ook hom laat sterf. 11Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan bly as 'n weduwee in die huis van jou pa totdat my seun Sela groot is.” Want, het hy gedink, anders sterf hy ook soos sy broers. Tamar het toe in die huis van haar vader gaan bly.
12Intussen het baie dae verloop. Juda se vrou, die dogter van Sua, het gesterf. Nadat Juda klaar gerou het, het hy en sy vriend Gira, uit Adullam, opgegaan na die skeerders van sy kleinvee in Timna. 13Daar is aan Tamar berig gebring: “Kyk, jou skoonpa gaan op na Timna om sy kleinvee te skeer.” 14Sy trek toe die klere van haar weduweeskap uit, bedek haar gesig met 'n sluier en vermom haar. Sy het by die ingang van Enajim, wat langs die pad na Timna is, gaan sit; want sy het gesien dat Sela grootgeword het, maar sy is nie vir hom as vrou gegee nie. 15Toe Juda haar sien, het hy haar as 'n prostituut beskou, want sy het haar gesig bedek. 16Hy het op die pad na haar afgedraai en gesê: “Kom, ek wil by jou ingaan!” Hy het immers nie besef dat dit sy skoondogter was nie. Sy vra toe: “Wat sal jy my gee as jy by my ingaan?” 17Sy antwoord was: “Ek sal self vir jou 'n boklam uit my kleinvee stuur.” Maar sy het gesê: “As jy vir my 'n pand gee totdat jy dit stuur, ja.” 18Hy vra toe: “Wat is die pand wat ek vir jou moet gee?” Sy het geantwoord: “Jou rolseël en koord en die staf in jou hand.” Hy het dit vir haar gegee en by haar ingegaan, en sy het van hom swanger geword. 19Sy het opgestaan en weggegaan. Sy het haar sluier afgehaal en die klere van haar weduweeskap aangetrek.
20Juda het toe die boklam saam met sy vriend uit Adullam gestuur om die pand by die vrou te kry. Maar hy kon haar nie kry nie. 21Hy het vir die manne van haar plek gevra: “Waar is die prostituut wat in Enajim langs die pad was?” Maar hulle het gesê: “Hier was nie 'n prostituut nie.” 22Hy keer toe terug na Juda en sê: “Ek kry haar nie, en die manne van die plek het ook gesê, ‘Hier was nie 'n prostituut nie.’ ” 23Toe sê Juda: “Laat sy dit hou, anders word ons verag. Kyk, ek het wel hierdie boklam gestuur, maar jy het haar nie gekry nie.”
24Ongeveer drie maande later word daar toe aan Juda berig gebring: “Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en erger nog, kyk, sy is swanger van die hoerery.” Juda sê toe: “Bring haar uit, sodat sy verbrand kan word.” 25Terwyl sy uitgebring word, stuur sy toe 'n boodskap vir haar skoonvader: “By die man aan wie hierdie goed behoort, het ek swanger geraak.” Sy het ook gesê: “Stel tog vas aan wie hierdie rolseël en koord en staf behoort!” 26Juda het dit herken en gesê: “Sy is reg, eerder as ek; want ek het haar mos nie vir my seun Sela gegee nie.” Hy het nie weer met haar gemeenskap gehad nie.
27En toe dit tyd word vir haar bevalling, kyk, toe is daar 'n tweeling in haar moederskoot! 28Terwyl sy geboorte gee, steek een 'n handjie uit. Die vroedvrou neem dit toe en bind 'n stukkie karmosynrooi tou aan sy hand, met die woorde: “Hierdie een het eerste uitgekom.” 29Maar toe hy sy handjie terugtrek, daar kom sy broer uit! Toe sê sy: “Wat 'n deurbraak het jy ter wille van jouself gemaak!” Hulle het hom Peres genoem. 30Daarna het sy broer uitgekom, die een wat die stukkie karmosynrooi tou aan sy handjie gehad het. Hulle het hom Serag genoem.