1Hiermee bedoel ek: Solank as die erfgenaam nog minderjarig is, verskil hy niks van 'n slaaf nie, alhoewel hy die eienaar van alles is. 2Maar hy staan onder die beheer van voogde en bestuurders, tot die tyd aanbreek wat deur sy vader bepaal is. 3Net so is dit ook in ons geval: Toe ons nog minderjarig was, was ons as slawe onderwerp aan die elementêre beginsels van die wêreld;
4maar toe die tyd vervul is,
het God sy Seun uitgestuur,
gebore uit 'n vrou,
gebore onder die wet,
5sodat Hy dié onder die wet
kon loskoop,
sodat ons as sy kinders
aangeneem kon word.
6En omdat julle sy kinders is,
het God die Gees van sy Seun
uitgestuur tot in ons harte,
die Gees wat roep: “Abba, Vader!”
7Jy is dus nie meer slaaf nie,
maar seun;
en as jy seun is,
is jy ook erfgenaam deur God.
Besorgdheid oor die Galasiërs
8Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie. 9En noudat julle God leer ken het – of liewer, noudat julle deur God geken is – hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die swak en minderwaardige elementêre beginsels, en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak? 10Julle onderhou vasgestelde dae en maande en tye en jare. 11Wat julle betref, is ek bevrees dat al my harde arbeid onder julle dalk tevergeefs was.
'n Ernstige beroep op die Galasiërs
12Ek smeek julle, broers, word soos ek, omdat ek soos julle geword het! Julle het my geen onreg aangedoen nie. 13Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het, 14en alhoewel my siek liggaam vir julle 'n beproewing was, het julle my nie verag of verfoei nie. Inteendeel, julle het my soos 'n engel van God ontvang, soos •Christus Jesus! 15Waar is julle blydskap oor my dan nou? Ek kan van julle getuig dat, indien dit moontlik was, julle julle oë sou uitruk en vir my sou gee! 16Het ek dan julle vyand geword omdat ek vir julle die waarheid vertel? 17Hulle beywer hulle nie met goeie bedoelings vir julle nie; inteendeel, hulle wil julle van my af weghou, sodat julle julle vir húlle kan beywer. 18Dis goed om julle altyd vir die goeie te beywer, en nie net wanneer ek by julle is nie. 19My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle, totdat Christus in julle gestalte kry. 20Ek wens ek was nou by julle, en kon met 'n ander stemtoon met julle praat, want ek is raadop met julle!
Abraham se twee seuns
21Sê vir my, julle wat onder die gesag van die wet wil staan, luister julle dan nie na die wet nie? 22Want daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin, en een by 'n vrou wat vry was. 23Die slavin se seun is op 'n natuurlike manier verwek, maar die vrou wat vry is se seun op grond van 'n belofte. 24Om dit allegories te stel: Hierdie twee vroue verteenwoordig twee verbonde: die een wat van die berg Sinai af kom, bring slawe voort; dit is Hagar. 25En Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië; sy verteenwoordig die huidige Jerusalem, omdat sy en haar kinders slawe is. 26Maar die Jerusalem daarbo is vry; sy is ons moeder! 27Want daar staan geskryf:
“Wees bly, onvrugbare vrou
wat nie geboorte skenk nie!
Jubel en juig,
jy wat nie geboortepyne ken nie!
Want die baie kinders
van die verlate vrou
is meer as dié
van die vrou met 'n man.”
28En julle, broers, is, net soos Isak, kinders van die belofte. 29Maar, soos hy wat op 'n natuurlike manier verwek is, destyds die een vervolg het wat deur die werking van die Gees verwek is, so gebeur dit ook nou. 30Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrou wat vry is, erf nie!” 31Daarom, broers, is ons nie kinders van die slavin nie, maar van die vrou wat vry is.