Skuldbelydenis van die Jode
1Nadat hierdie sake afgehandel is, het die leiers na my gekom en gesê: “Die volk Israel, die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die naburige volke ten opsigte van die afstootlike gebruike van die Kanaäniete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete, die Ammoniete, die Moabiete, die Egiptenare en die Amoriete nie, 2maar van die dogters uit dié nasies vir hulle en vir hulle seuns as vroue geneem. So het die heilige saad vermeng geraak met die naburige volke. Die leiers en gesagsdraers het die voortou geneem met hierdie ontrouheid.”
3Toe ek hiervan hoor, het ek my klere en my mantel geskeur en die hare uit my kop en baard gepluk. Ek het verslae gaan sit. 4Almal wat ontsag het vir die woorde van die God van Israel, het by my saamgekom oor die ontrouheid van die ballinge, en ek het tot met die aandoffer verslae gesit. 5Met die aandoffer het ek opgestaan van waar ek in ootmoed geboë was, en met geskeurde klere en mantel op my knieë gaan staan en my handpalms na die Here my God uitgesteek. 6Ek het gesê: “My God, ek is te skaam en verleë om my gesig na U, my God, op te lig, want ons sonde het hoër as ons koppe opgestapel en ons skuld strek tot aan die hemel. 7Van die tyd van ons voorvaders tot op hierdie dag is ons skuld groot. As gevolg van ons sondes is ons, ons konings en ons priesters uitgelewer aan die mag van die konings van ander lande, aan die swaard, gevangenskap, plundering en beskaming, soos dit vandag nog is. 8En nou, vir 'n kort oomblik, was daar genade van die Here ons God om vir ons vrygeraaktes te laat oorbly, en vir ons vastigheid in sy heilige gebied te gee, om ons oë te verhelder en ons 'n bietjie nuwe lewe in ons slawerny te gee. 9Ons is inderdaad slawe, maar in ons slawerny het ons God ons nie verlaat nie. Hy het sy troue liefde oor ons uitgestrek voor die konings van Persië om aan ons nuwe lewe te gee, om die huis van ons God weer op te rig en die ruïnes daarvan te herstel en vir ons 'n skans in Juda en Jerusalem te gee.
10“Ons God, wat kan ons dan nou in die lig hiervan sê? Want ons het u opdragte verontagsaam 11wat U by monde van u dienaars, die profete, beveel het, ‘Die land waar julle ingaan met die doel om dit in besit te neem, is 'n besoedelde land. Dit is deur die nasies in daardie streke besoedel met hulle afstootlike gebruike. Hulle het dit van hoek tot kant gevul met hulle •onreinheid. 12Moet daarom nie julle dogters aan hulle seuns gee nie, en moet ook nie hulle dogters vir julle seuns as vroue neem nie. Julle mag vir ewig nie hulle vrede en voorspoed nastreef nie, sodat julle sterk kan wees en die goeie van die land kan geniet en dit vir altyd aan julle kinders kan nalaat.’
13“U, ons God, het ons sondeskuld minder geag as wat dit werklik is en van ons, soos ons hier is, laat vry word. Sal ons dan nou werklik, ná alles wat oor ons gekom het deur ons bose dade en ons groot skuld, 14tog wéér u bevele minag en ondertrou met die volke wat hierdie gruweldade pleeg? Gaan U toornig bly op ons totdat ons vernietig is, en daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie? 15 Here, God van Israel, U is regverdig, en tog het U ons laat oorbly as mense wat vry geraak het, soos dit vandag is. Hier is ons voor U met ons skuld, omdat niemand hieroor voor U kan bly staan nie.”