Kwartels en manna in die woestyn
1Die Israeliete het van Elim af weggetrek en die hele volksvergadering van die Israeliete het in die Sinwoestyn aangekom, wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het. 2Die hele volksvergadering van die Israeliete het teen Moses en Aäron gemor in die woestyn. 3Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die Here in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.”
4Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën; dan moet die volk uitgaan en genoeg vir elke dag bymekaarmaak, sodat Ek hulle kan toets of hulle my wet sal volg of nie. 5Op die sesde dag moet hulle voorberei wat hulle inbring; dit moet dan twee maal soveel wees as wat hulle daagliks bymekaarmaak.”
6Moses en Aäron het vir al die Israeliete gesê: “Vanaand sal julle weet dat dit die Here is wat julle uit Egipteland uitgelei het, 7en môreoggend sal julle die heerlikheid van die Here beleef, omdat Hy julle gemor teen die Here gehoor het. Wie is ons, dat julle teen ons mor?” 8“Ja,” het Moses bygevoeg, “wanneer die Here vir julle vleis in die aand gee om te eet en brood in die oggend om julle versadig te eet, omdat die Here julle gemor gehoor het wat julle teen Hom gerig het. Wie is ons? Dit is nie teen ons wat julle gemor het nie, maar teen die Here.”
9Moses sê toe vir Aäron: “Sê vir die hele volksvergadering van die Israeliete, ‘Kom nader voor die Here, want Hy het julle gemor gehoor.’ ” 10Net nadat Aäron met die hele volksvergadering van die Israeliete gepraat het, het hulle in die rigting van die woestyn gedraai, en kyk, die heerlikheid van die Here het in 'n wolk verskyn! 11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die gemor van die Israeliete gehoor. Praat met hulle en sê, ‘Laatmiddag sal julle vleis eet, en in die oggend sal julle versadig wees van brood. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is.’ ”
13In die aand het kwartels oorgekom en die kamp bedek, en in die oggend was daar 'n laag dou rondom die kamp. 14Toe die doulaag verdamp – kyk, toe is daar op die oppervlakte van die woestyn iets wat fyn en skilferagtig is, so fyn soos ysryp op die grond. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit?” Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gegee het om te eet. 16Dit is die opdrag wat die Here gegee het, ‘Elkeen van julle moet soveel bymekaarmaak as wat die aantal persone by julle kan eet – 'n omer per kop. Dan moet elkeen van julle dit neem vir wie in sy tent is.’ ”
17Die Israeliete het toe so gemaak; hulle het bymekaargemaak, die een baie en die ander een min. 18Toe hulle dit met 'n omer meet, het dié wat baie opgetel het, nie te veel gehad nie, en dié wat min opgetel het, nie te min gehad nie. Wat elkeen nodig gehad het om te eet, het hulle bymekaargemaak.
19Moses sê toe vir hulle: “Niemand moet daarvan oorhou tot die oggend nie.” 20Maar hulle het nie na Moses geluister nie. Party het daarvan oorgehou tot die volgende oggend, maar dit was vol maaiers en het gestink. Moses was woedend vir hulle.
21Hulle het dit elke oggend bymekaargemaak, elkeen soveel as wat hy kon eet; maar as die son warm word, het dit weggesmelt. 22Op die sesde dag het hulle twee keer soveel brood bymekaargemaak, twee omer vir elkeen. Al die leiers van die volksvergadering het gekom en dit vir Moses vertel. 23Hy sê toe vir hulle: “Dit is wat die Here gesê het, ‘Môre is dit 'n buitengewone Sabbat, 'n heilige Sabbat tot eer van die Here. Wat julle wil bak, moet julle bak, en wat julle wil kook, moet julle kook. Alles wat te veel is, moet julle veilig bêre tot die oggend.’ ” 24Hulle het dit weggesit tot die oggend soos Moses beveel het. Dit het nie gestink nie en daar was nie maaiers in nie. 25Moses het gesê: “Eet dit vandag, want vandag is 'n Sabbat ter ere van die Here. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. 26Vir ses dae moet julle dit bymekaarmaak, maar op die sewende dag, op 'n Sabbat, sal daar nie wees nie.”
27Op die sewende dag het van die mense uitgegaan om bymekaar te maak, maar hulle het niks gekry nie. 28Die Here sê toe vir Moses: “Hoe lank gaan julle weier om my gebooie en wette na te kom? 29Julle moet insien dat die Here vir julle die Sabbat gegee het – daarom gee Hy op die sesde dag twee dae se brood. Elkeen moet bly waar hy is; niemand mag op die sewende dag sy blyplek verlaat nie.” 30Die volk het toe op die sewende dag gerus. 31Die huis van Israel het dit man genoem. Dit was wit soos koljandersaad, en dit het geproe soos soetgebak met heuning.
32Moses het gesê: “Dit is wat die Here beveel het, ‘'n Volle omer daarvan moet bewaar word vir julle nageslagte, sodat hulle die brood kan sien waarmee Ek julle in die woestyn gevoed het toe Ek julle uit Egipteland uitgelei het.’ ” 33Daarom het Moses vir Aäron gesê: “Neem een kruik, plaas 'n volle omer manna daarin, en sit dit voor die Here neer om te bewaar vir julle nageslagte.”
34Soos die Here Moses beveel het, het Aäron dit toe later voor die Getuienis geplaas vir bewaring. 35Die Israeliete het die manna veertig jaar lank geëet, totdat hulle by bewoonde land gekom het. Die manna het hulle geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän aangekom het. 36'n Omer is 'n tiende van 'n efa.