Judeërs se oorwinning
1 Toe, in die twaalfde maand, op die dertiende dag van die maand, dit is Adar, het die bevelskrifte wat deur die koning geskryf is, aangekom. 2 Juis op dié dag het die teenstanders van die Judeërs omgekom, want uit vrees vir die Judeërs het niemand teen hulle weerstand gebied nie. 3 Want die hoë amptenare van die provinsies en vorste en koninklike sekretarisse het die Judeërs gerespekteer, omdat vrees vir Mordegai hulle beetgepak het. 4 Dit het immers so gebeur dat die bevelskrif van die koning deur die hele koninkryk bekend geword het. 6 In die stad Susa het die Judeërs vyfhonderd mans om die lewe gebring, 7 onder andere vir Farsandata, Delfon en Fasga, 8 Fardata, Barea en Sarbaga, 9 Marmasima, Arufeus, Arseus en Zabuteus. 10 Hulle was die tien seuns van Haman, die seun van Hammedata, van Buga, die vyand van die Judeërs, en die Judeërs het hulle van hulle besittings gestroop. 11 Juis op dié dag is die getal van hulle wat in Susa omgekom het, aan die koning bekend gemaak. 12 En die koning het vir Ester gesê: “Die Judeërs het in die stad Susa vyfhonderd mans om die lewe gebring. En in die omstreke – wat dink jy het hulle daar gedoen? Wat eis jy nog? Dit sal vir jou gegee word.” 13 Ester het vir die koning gesê: “Laat die Judeërs toe om ook môre net so voort te gaan, sodat hulle die tien seuns van Haman kan hang.” 14 Hy het toegelaat dat dit so gebeur en het die liggame van die seuns van Haman aan die Judeërs in die stad oorhandig om dit op te hang. 15 Die Judeërs in Susa het op die veertiende van Adar bymekaargekom en driehonderd mans doodgemaak, maar hulle het niks geplunder nie. 16 En die res van die Judeërs wat in die koninkryk was, het bymekaargekom en hulleself verdedig, en hulle het rus gehad van hulle vyande, want hulle het op die dertiende van Adar vyftienduisend van hulle om die lewe gebring, maar niks geplunder nie. 17 Op die veertiende dag van dieselfde maand het hulle gerus, en hulle het dit altyd as 'n rusdag gevier, met blydskap en vreugde. 18 Die Judeërs in die stad Susa het op die veertiende bymekaargekom, maar nie gerus nie, en het altyd die vyftiende met blydskap en vreugde gevier. 19 Om dié rede vier die Judeërs wat in al die buitelandse gebiede verstrooi is, met vreugde die veertiende van Adar as 'n feesdag, en elkeen van hulle stuur porsies voedsel vir hulle bure. Maar die inwoners van die hoofstede vier die vyftiende dag van die maand Adar as 'n fees en 'n feesdag, en almal stuur porsies vir hulle bure.
Instelling van die Purimfees
20 Mordegai het hierdie gebeure in 'n •boekrol opgeteken en dit gestuur na die Judeërs wat in Artaxerxes se koninkryk was, of hulle naby was of ver, 21 om hierdie dae as feesdae te bevestig, en om die veertiende en vyftiende dae van Adar te vier, 22 omdat die Judeërs op hierdie dae rus gekry het van hulle vyande, en om die maand Adar, waarin hulle rou in blydskap en hulle hartseer in 'n feesdag verander is, in sy geheel met troues en feeste te vier, en om porsies voedsel vir hulle vriende en vir die armes te stuur. 23 En die Judeërs het dit wat Mordegai gestuur het, verwelkom. 24 Hy het geskryf hoe Haman, die seun van Hammedata, die Macedoniër, teen hulle geveg het, in so 'n mate dat hy 'n bevelskrif uitgevaardig en die lot gewerp het om hulle uit te roei, 25 en dat hy na die koning gegaan het met die versoek om Mordegai op te hang. Maar al die leed wat hy probeer het om die Judeërs aan te doen, het op hom neergekom en hy en sy seuns is gehang. 26 Daarom is hierdie dae Purim genoem op grond van die lot, want in hulle taal word die lot Pur genoem. Op grond van hierdie brief se inhoud, en alles wat hulle gely het en alles wat as gevolg hiervan met hulle gebeur het, 27 het die Judeërs dit toe vir hulleself ingestel en aanvaar vir hulle nageslag, en vir dié wat by hulle gevoeg sou word, naamlik dat hulle die maand nie anders sal gebruik nie, en dat hierdie dae gedenkdae is wat gevier sal word van geslag tot geslag in elke stad en familie en gebied, 28 en dat hierdie dae van die Purim vir altyd gevier sal word en dat die herinnering daaraan beslis nooit uit die geslagte sal verdwyn nie. 29 Koningin Ester, die dogter van Amminadab, en Mordegai, die Judeër, het alles neergeskryf wat hulle gedoen het en die brief aangaande die Purim bekragtig. 31 Mordegai en koningin Ester het dit self ingestel, op hulle eie gesag, en ten koste van hulle eie welsyn en teen hulle bedoeling in, dit laat instel. 32 Ester het dit deur 'n bevel vir altyd ingestel en dit is ter herinnering neergeskryf.