Ester (Grieks) 6
Eer vir Mordegai
1 Die Here het daardie nag die slaap van die koning weggeneem, en hy het sy leermeester gevra om die •boekrol met die dagkronieke in te bring om vir hom daaruit te lees. 2 Hy het die deel uit die boekrol wat oor Mordegai geskryf is, gekry – oor hoe hy aan die koning gerapporteer het oor die twee eunugs van die koning toe hulle die paleis bewaak het en hulle hande aan Artaxerxes wou slaan. 3 Toe vra die koning: “Watter eer of guns het ons aan Mordegai bewys?” En die dienaars van die koning het gesê: “U het niks vir hom gedoen nie.” 4 Terwyl die koning besig was om navraag te doen oor die guns wat Mordegai aan hom bewys het, was Haman juis op daardie oomblik in die voorhof. Toe vra die koning: “Wie is in die voorhof?” Haman het ingekom om die koning te vra om Mordegai te hang aan die houtpaal wat hy gereedgemaak het. 5 Die dienaars van die koning sê toe: “Kyk, Haman staan in die voorhof.” En die koning sê: “Roep hom.” 6 Die koning sê toe vir Haman: “Wat moet ek vir 'n man doen aan wie ek eer wil bewys?” Haman het by homself gedink: “Aan wie wil die koning eer bewys behalwe aan my?” 7 Hy het vir die koning gesê: “Die man aan wie die koning eer wil bewys – 8 die knegte van die koning moet fyn linneklere bring wat die koning dra, en 'n perd waarop die koning ry, 9 en die koning moet dit gee aan een van die vername •Vriende van die Koning, en hy moet die man vir wie die koning liefhet, deftig klee en hom op die perd help en hy moet regdeur die breë straat van die stad uitroep en sê, ‘So sal gedoen word aan elke man aan wie die koning eer wil bewys!’ ” 10 Toe het die koning vir Haman gesê: “Soos jy gesê het, doen so aan Mordegai die Judeër, wat diens doen in die voorhof van die paleis; nie 'n woord van wat jy gesê het, moet agterweë bly nie.” 11 Haman het toe die kleed en die perd geneem en Mordegai deftig geklee, en hy het hom op die perd gehelp en deur die breë straat van die stad gegaan en aanhoudend uitgeroep en gesê: “So sal gedoen word aan elke man aan wie die koning eer wil bewys!” 12 Mordegai het teruggegaan na die voorhof, en Haman het teruggekeer na sy eie huis, ontsteld en met bedekte hoof. 13 Haman het vir sy vrou Susara en sy vriende vertel wat gebeur het, en sy vriende en vrou het vir hom gesê: “As Mordegai uit die geslag van die Judeërs is, is dit die begin van jou vernedering voor hom en sal jy beslis tot 'n val kom. Jy sal sekerlik nie in staat wees om jou teen hom te verdedig nie, want die lewende God is met hom.” 14 Terwyl hulle nog besig was om te praat, kom die eunugs aan om Haman gou na die feesmaal wat Ester voorberei het, te bring.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.