Eenheid van die kerk
1Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here 'n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is, waardig is: 2deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, 3en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede –
4een liggaam en een Gees,
soos julle ook deur julle roeping
tot een hoop geroep is:
5een Here, een geloof, een doop,
6een God en Vader van almal,
wat oor almal en deur almal
en in almal is.
7Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. 8Daarom staan daar:
“Toe Hy opgevaar het na bo,
het Hy krygsgevangenes weggevoer;
Hy het gawes aan die mense gegee.”
9“Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? 10Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. 11En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, 12om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, 13totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. 14Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; 15maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof 16uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde.
Ou en nuwe lewe
17Dit sê en bevestig ek dan in die Here: Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie. 18Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is, deur die hardheid van hulle harte. 19Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid, om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg.
20Maar julle het •Christus nie so leer ken nie. 21Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, 22naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. 23Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. 24Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware •geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.
Vermanings oor die alledaagse lewe
25Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. 26Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 27Moenie vir die Duiwel plek gee nie.
28Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. 29Nie 'n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder 'n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. 30En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. 31Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. 32Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in •Christus julle ook vergewe het.