Waarskuwing teen verwaandheid
1“Luister, Israel! Jy trek vandag oor die Jordaan om nasies wat groter en magtiger is as jy te gaan verdryf. Daar is groot stede wat hemelhoog versterk is; 2daar is mense wat groot en lank is – die Enakiete, wat jy self ken en van wie jy self gehoor het dat mense sê, ‘Wie kan stand hou voor die Enakiete?’ 3Jy moet vandag weet dat die Here jou God, Hy wat voor jou oor die Jordaan gaan, 'n verterende vuur is. Hy self sal hulle uitdelg, ja, Hy self sal hulle voor jou verneder, sodat jy hulle sal verdryf en vinnig vernietig, soos wat die Here jou beloof het.
4“Wanneer die Here jou God hulle voor jou verjaag, moet jy nie in jou hart sê, op grond van my regverdigheid het die Here my in hierdie land ingebring om dit in besit te neem nie. Dit is omdat hierdie nasies goddeloos is dat die Here hulle voor jou uit verdryf, 5en nie op grond van jou regverdigheid of opregte hart nie, dat jy ingaan om hulle land in besit te neem. Dit is vanweë die goddeloosheid van hierdie nasies dat die Here jou God hulle voor jou uit verdryf, en sodat Hy die belofte gestand kan doen wat Hy met 'n eed bevestig het aan jou voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. 6Jy moet besef dat dit nie op grond van jou regverdigheid is dat die Here jou God vir jou hierdie goeie land gaan gee om dit in besit te neem nie, want jy is 'n hardnekkige volk.
7“Onthou, ja, moenie vergeet nie – jy het die Here jou God vertoornd gemaak in die woestyn. Van die dag dat jy uit Egipteland weggetrek het totdat julle op hierdie plek aangekom het, was julle voortdurend in opstand teen die Here. 8Ook by Horeb het julle die Here vertoornd gemaak. Die Here was so toornig op julle dat Hy julle wou uitdelg. 9Toe ek teen die berg opgegaan het om die kliptafels te ontvang, die tafels met die verbond wat die Here met julle gesluit het, het ek veertig dae en nagte lank op die berg gebly sonder om brood te eet of water te drink. 10Die Here het vir my die twee kliptafels gegee, gegraveer met die vinger van God. Daarop was al die woorde soos die Here dit vir julle op die berg op die dag van die byeenkoms uit die vuur gesê het. 11Toe die Here aan die einde van veertig dae en nagte vir my die twee kliptafels gegee het, die tafels met die verbond daarop, 12het die Here vir my gesê, ‘Staan op, gaan dadelik hiervandaan af onder toe, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het hulle wangedra. Hulle het gou afgewyk van die pad wat Ek hulle beveel het om te volg. Hulle het vir hulle 'n gegote beeld gemaak.’ 13Die Here het ook vir my gesê, ‘Ek het hierdie volk dopgehou. Kyk, dit is 'n hardnekkige volk. 14Laat My begaan, sodat Ek hulle kan uitdelg en hulle naam onder die hemel uitwis. Ek sal jou dan 'n nasie maak wat magtiger en meer is as hulle.’
15“Ek het omgedraai en van die berg afgegaan terwyl die berg aan die brand was. Die twee tafels met die verbond was op my twee hande. 16Ek sien toe, julle het inderdaad gesondig teen die Here julle God. Julle het vir julle 'n kalf, 'n gegote beeld, gemaak! Julle het vinnig afgewyk van die pad wat die Here vir julle voorgeskryf het. 17Ek het die twee tafels vasgevat en van my twee hande af neergesmyt. Ek het hulle voor julle oë stukkend gebreek. 18Ek het myself voor die Here neergewerp soos die eerste keer en veertig dae en nagte lank geen brood geëet en geen water gedrink nie, oor al julle sondes wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hom uit te tart. 19Ja, ek het gevrees vir die toorn en woede van die Here, wat so vertoornd was vir julle dat Hy julle sou uitdelg. Maar ook hierdie keer het die Here na my geluister. 20Die Here was selfs op Aäron so toornig dat Hy hom wou verdelg, maar ek het in daardie tyd ook vir Aäron ingetree.
21“Die stuk sonde wat julle gemaak het, daardie kalf van julle, het ek gevat en verbrand. Ek het dit verbrysel en heeltemal fyngestamp, totdat dit so fyn was soos stof. Ek het die stof toe in die spruit gegooi wat van die berg af kom. 22Ook by Tabera en Massa en Kibrot-Taäwa het julle die Here vertoornd gemaak. 23En toe die Here julle van Kades-Barnea af gestuur het met die woorde, ‘Trek op en neem die land in besit wat Ek vir julle gee,’ was julle opstandig teen die bevel van die Here julle God. Julle het Hom nie vertrou nie en nie na sy stem geluister nie. 24Julle was voortdurend in opstand teen die Here van die dag af dat ek julle leer ken het.
25“Ek het my voor die Here neergewerp. Die veertig dae en veertig nagte lank wat ek so bly lê het omdat die Here gesê het Hy gaan julle uitdelg, 26het ek tot die Here gebid en gesê, ‘Here my Heer, moet tog nie u volk, u eiendom wat U in u grootheid vrygekoop het en wat U uit Egipte uitgelei het met 'n sterk hand, uitroei nie. 27Dink aan u diensknegte, aan Abraham, Isak en Jakob. Moet tog nie ag slaan op die hardkoppigheid van hierdie volk en op hulle oortredings en sonde nie. 28Anders sê die land waarvandaan U ons uitgelei het: “Omdat die Here hulle nie kon inbring in die land wat Hy hulle beloof het nie, en omdat Hy 'n weersin in hulle het, het Hy hulle uitgelei om hulle in die woestyn te laat sterf.” 29Hierdie mense is tog u volk, u eiendom wat U met u groot krag en u uitgestrekte arm uitgelei het.’ ”