Moses se opvolger
1Moses het toe gegaan en hierdie woorde aan die hele Israel oorgedra. 2Hy het ook vir hulle gesê: “Ek is nou honderd-en-twintig jaar oud. Ek kan nie meer uittrek en terugkeer nie, en die Here self het vir my gesê, ‘Jy mag nie hierdie Jordaan oorsteek nie.’ 3Die Here jou God gaan voor jou oortrek; dit is Hy wat daardie nasies voor jou sal uitdelg en verdryf. Josua gaan ook voor jou oortrek, soos die Here gesê het. 4Die Here sal aan hulle doen wat Hy aan Sihon en Og, die konings van die Amoriete, en hulle land gedoen het toe Hy hulle uitgedelg het. 5Die Here sal hulle aan julle oorgee, en julle moet teen hulle optree ooreenkomstig elke gebod wat ek julle beveel het. 6Wees dapper en sterk; moenie bang wees nie en moenie vir hulle skrik nie, want die Here jou God, Hy is die Een wat saam met jou gaan; Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie.”
7Toe roep Moses vir Josua nader en sê vir hom ten aanhore van die hele Israel: “Wees dapper en sterk, want dit is jy wat saam met hierdie volk na die land moet gaan wat die Here aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle te gee. Jy sal hulle dit laat erf. 8Die Here is die Een wat voor jou uitgaan; Hy is by jou, Hy sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie.”
Gereelde voorlees van die wet
9Moses het hierdie wet neergeskryf en dit vir die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, gegee, en ook vir al die oudstes van Israel. 10Moses het hulle beveel: “Aan die einde van sewe jaar, op die vasgestelde tyd van die jaar van kwytskelding, tydens die Huttefees, 11wanneer die hele Israel kom om voor die Here jou God te verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet jy hierdie wet aan die hele Israel voorlees, sodat hulle dit kan hoor. 12Roep die volk byeen, manne, vroue en kinders, asook die •vreemdelinge wat in julle dorpe is, sodat hulle dit kan hoor, en sodat hulle dit kan leer en vir die Here julle God ontsag kan hê, en al die woorde van hierdie wet nougeset kan nakom. 13En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet dit hoor, en leer om vir die Here julle God ontsag te hê so lank as julle leef op die grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.”
Opdragte aan Josua
14Die Here het vir Moses gesê: “Kyk, jou tyd om te sterf, is naby. Roep Josua, en gaan neem dan julle plek in die Tent van Ontmoeting, sodat Ek aan hom opdragte kan gee.” Moses en Josua het gegaan, en toe hulle in die Tent van Ontmoeting gaan staan, 15het die Here in die tent in 'n wolkkolom verskyn. Die wolkkolom het by die ingang van die tent bly staan. 16Toe sê die Here vir Moses: “Kyk, jy gaan binnekort by jou voorouers rus, maar hierdie volk sal opstaan en agter die vreemde gode in hulle midde aan hoereer – die gode van die land waarheen hulle op pad is. Hulle sal My verlaat en my verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek. 17My toorn sal op daardie dag teen hulle ontbrand; Ek sal hulle verlaat en my gesig vir hulle verberg. Dan sal hulle 'n prooi wees, en baie rampe en ellende sal hulle tref. Op dié dag sal hulle sê, ‘Is dit nie omdat ons God nie in ons midde is dat hierdie rampe ons tref nie?’ 18Ek sal egter op daardie dag my gesig heeltemal verberg oor al die kwaad wat hulle gedoen het toe hulle hulle na ander gode gewend het. 19Teken dan nou hierdie lied vir julle op en leer dit vir die Israeliete; lê dit vir hulle in die mond, sodat hierdie lied vir My 'n getuie kan wees teen die Israeliete. 20Want Ek sal hulle bring na die grond wat Ek aan hulle voorvaders met 'n eed beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning – maar hulle sal eet en versadig raak en vet word, en hulle na ander gode wend en dié dien; hulle sal My minag en my verbond verbreek. 21En wanneer baie rampe en ellende hulle tref, sal hierdie lied openlik as getuie teen hulle dien, omdat dit nie vergete sal raak en uit die mond van hulle nageslag verdwyn nie. Ja, Ek ken die neiging wat hulle nou al openbaar, voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met 'n eed beloof het.”
22Moses het op daardie dag hierdie lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer. 23Die Here het Josua, die seun van Nun, opdrag gegee en vir hom gesê: “Wees dapper en sterk, want dit is jy wat die Israeliete moet inbring in die land wat Ek met 'n eed aan hulle beloof het. Ek sal met jou wees.”
24Nadat Moses die woorde van hierdie wet tot die einde in 'n •boekrol geskryf het, 25het hy die Leviete wat die verbondsark van die Here dra, beveel: 26“Neem hierdie wetboek en plaas dit langs die verbondsark van die Here julle God. Dit moet daar wees as 'n getuie teen jou, Israel, 27want ek ken jou opstandigheid en hardnekkigheid. Kyk, as julle, terwyl ek nou nog by julle in die lewe is, opstandig is teen die Here, hoeveel te meer ná my dood! 28Roep al die oudstes van julle stamme en julle opsieners bymekaar hier by my; ek wil hierdie woorde duidelik vir hulle sê, en die hemel en die aarde as getuies teen hulle neem. 29Want ek weet dat julle ná my dood julle ernstig sal wangedra en sal afwyk van die pad wat ek julle beveel het, en dat die onheil julle sal inhaal aan die einde van die dae, omdat julle gaan doen wat verkeerd is in die oë van die Here deur Hom uit te tart met die werk van julle hande.”
Lied van Moses
30Moses het, ten aanhore van die hele geloofsgemeenskap van Israel, die woorde van hierdie lied tot die einde voorgedra.