Susanna
Susanna se skoonheid
1'n Man met die naam Jojakim het in Babilon gewoon. 2Hy het getrou met 'n vrou genaamd Susanna, dogter van Hilkia. Sy was baie mooi en iemand wat ontsag gehad het vir die Here. 3Aangesien haar ouers opregte mense was, het hulle hulle dogter volgens die •Wet van Moses opgevoed. 4Jojakim was baie ryk en het 'n pragtige tuin by sy huis gehad. Die Jode het gewoonlik by hom byeengekom omdat hy die meeste aansien van hulle almal gehad het.
5In daardie jaar is twee oudstes uit die volk as regters aangestel. Hulle was van die soort van wie die Here gesê het: “Wetteloosheid het uit Babilon voortgekom – van oudstes, regters, wat veronderstel was om die volk te regeer!” 6Hierdie twee het baie tyd in Jojakim se huis deurgebring en almal wat regsake gehad het, het na hulle gekom.
7Wanneer die mense teen die middag vertrek het, het Susanna gewoonlik haar man se tuin binnegegaan en daar rondgestap. 8Die twee oudstes het haar elke dag daar sien ingaan en rondstap, en hulle is oorval deur 'n begeerte na haar. 9Hulle denke het pervers geraak en hulle het hulle oë afgewend om nie na die hemel te kyk en hulle aan regverdige oordele te herinner nie. 10Al twee was siek van hartstog oor haar, maar hulle het nie vir mekaar van hulle pyniging oor haar vertel nie, 11omdat hulle skaam was om hulle begeerte om intiem met haar te verkeer, teenoor mekaar te erken. 12Hulle het haar egter elke dag gretig afgeloer om na haar te kyk.
13Eendag het die een vir die ander gesê: “Laat ons dadelik huis toe gaan; dit is etenstyd.” Hulle het uitgegaan en is afsonderlik daar weg, 14maar al twee het omgedraai en by dieselfde plek uitgekom. Toe hulle mekaar vra wat die rede is, het hulle hulle hartstog teenoor mekaar erken. Hulle het toe saam 'n tyd afgespreek waarop hulle haar alleen sou kon kry. 15Hulle het gewag op 'n geskikte geleentheid. Toe gebeur dit dat sy met net twee diensmeisies die tuin binnegaan soos sy die vorige dag en die dag daarvóór gedoen het. Sy wou in die tuin bad omdat dit warm was. 16Daar was niemand anders nie behalwe die twee oudstes, wat weggekruip en haar dopgehou het. 17Sy het vir die diensmeisies gesê: “Gaan haal vir my olie en seep, en sluit die tuin se hekke sodat ek kan bad.” 18Hulle het gemaak soos sy gesê het, die hekke van die tuin gesluit en by die syhek uitgegaan om te gaan haal wat sy hulle beveel het. Die diensmeisies het nie die oudstes gesien nie omdat hulle weggekruip het.
19Toe die diensmeisies uit is, het die twee oudstes opgestaan en op Susanna afgestorm 20en vir haar gesê: “Kyk, die hekke van die tuin is gesluit, niemand sien ons nie en ons smag na jou. Gee nou toe en verkeer intiem met ons. 21Maar weier jy, gaan ons teen jou getuig en sê dat 'n jong man by jou was en dat dit is hoekom jy die diensmeisies van jou af weggestuur het!”
22Susanna het gekreun: “Ek is heeltemal vas! As ek dit doen, beteken dit my dood. As ek dit nie doen nie, sal ek nie uit julle mag kan ontsnap nie. 23Maar dit is vir my beter om dit nie te doen nie en in julle mag te val, eerder as om voor die Here te sondig.” 24Susanna begin toe luidkeels skreeu, en die twee oudstes het ook geskreeu, maar teen haar. 25Een van hulle het gehardloop en die hekke van die tuin oopgemaak. 26Toe die mense in die huis die geskreeu in die tuin hoor, storm hulle deur die syhek in om te sien wat haar oorgekom het. 27Toe die oudstes hulle stories vertel, het die dienaars baie skaam gekry omdat iets soortgelyks nog nooit tevore van Susanna gesê is nie.
Getuienis van die twee oudstes
28So gebeur dit die volgende dag, toe die mense weer in die huis van Susanna se man Jojakim bymekaarkom, dat die twee oudstes ook gekom het, gedryf deur die bose bedoeling om Susanna te laat doodmaak. 29Hulle het voor al die mense gesê: “Laat haal Susanna, dogter van Hilkia, die vrou van Jojakim!” Hulle het haar laat haal. 30Sy het gekom saam met haar ouers, haar kinders en haar hele familie. 31Susanna was besonder fyn en het 'n mooi figuur gehad. 32Omdat sy 'n sluier gedra het, het die booswigte beveel dat die sluier afgehaal word sodat hulle hulle aan haar skoonheid kon versadig, 33maar dié wat saam met haar was en ook die ander wat haar gesien het, het gehuil. 34Die twee oudstes het tussen die mense opgestaan en hulle hande op haar kop gesit. 35Sy het egter gehuil en opgekyk na die hemel omdat haar hart op die Here vertrou het. 36Maar die oudstes sê toe: “Terwyl ons alleen in die tuin gestap het, het hierdie een met twee diensmeisies ingekom, die hekke van die tuin gesluit en die diensmeisies laat gaan. 37Toe kom 'n jong man wat weggekruip het, na haar en gaan lê by haar. 38Ons was in die hoek van die tuin en toe ons die oortreding sien, het ons na hulle gehardloop. 39Ons het gesien dat hulle intiem verkeer, maar ons kon hom nie vashou nie omdat hy sterker as ons was, en die hekke oopgemaak en uitgestorm het. 40Ons het háár egter gegryp en gevra wie die jong man was, 41maar sy wou ons nie sê nie. Dit getuig ons.” Die vergadering het hulle geglo omdat hulle oudstes van die volk en regters was, en hulle het haar tot die dood veroordeel.
Ontmaskering van die twee oudstes
42Maar Susanna het luidkeels uitgeroep: “Ewige God, U ken dit wat verborge is; U weet alles voordat dit gebeur. 43U weet dat hulle vals teen my getuig het, en kyk, nou gaan ek sterf, hoewel ek niks gedoen het van dit alles waarvan hulle my kwaadwillig beskuldig het nie!” 44Die Here het haar geroep gehoor.
45Toe sy weggelei word om doodgemaak te word, het God die heilige gees van 'n baie jong man met die naam Daniël opgewek. 46Hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie vrou!” 47Al die mense het omgedraai na hom toe en gevra: “Wat beteken hierdie woorde wat jy gesê het?” 48Hy het tussen hulle gaan staan en gesê: “Israeliete, is julle so onnosel? Julle het sonder ondervraging en sonder om die waarheid te bepaal 'n dogter van Israel veroordeel. 49Gaan terug hof toe, want hierdie twee het vals teen haar getuig.”
50Al die mense het haastig teruggegaan. Die ander oudstes het vir Daniël gesê: “Kom, sit tussen ons en vertel ons, want God het jou die gesag van 'n oudste gegee.” 51Daniël sê toe vir hulle: “Vat hulle ver weg van mekaar en ek sal hulle ondervra.”
52Toe hulle van mekaar weggeneem is, het hy een van hulle geroep en vir hom gesê: “Jy, wat in boosheid oud geword het – die sondes wat jy in die verlede gedoen het, het jou nou ingehaal! 53Jy het onregverdige uitsprake gelewer, die onskuldiges veroordeel en die skuldiges vrygelaat, terwyl die Here tog sê, ‘'n Onskuldige en regverdige mens mag jy nie om die lewe bring nie.’ 54Nou, as jy regtig die vrou gesien het, sê dan onder watter boom het jy hulle intiem met mekaar sien verkeer.” Hy antwoord: “Onder 'n gomboom.” 55Daniël sê toe: “Reg so! Jou gelieg kos jou jou kop, want 'n engel van God het reeds die vonnis van God ontvang en hy sal jou middeldeur sny!”
56Daniël het hom eenkant laat staan en opdrag gegee dat die ander een gebring moet word. Hy sê toe vir hom: “Kind van Kanaän en nie van Juda nie – skoonheid het jou mislei en begeerte het jou hart verderf! 57Dit is hoe julle die dogters van Israel gereeld behandel het. Hulle het uit vrees intiem met julle verkeer, maar hierdie dogter van Juda het nie julle wetteloosheid geduld nie! 58Sê dan nou vir my onder watter boom het jy hulle betrap terwyl hulle intiem met mekaar verkeer het.” Hy antwoord: “Onder 'n terebint.” 59Daniël sê vir hom: “Reg so! Jou gelieg kos jou ook jou kop, want die engel van God staan reg met die swaard om jou middeldeur te kap en so julle al twee uit te wis!”
60Die hele vergadering het hard geskreeu en God geloof wat diegene verlos wat op Hom hoop. 61Hulle tree toe teen die twee oudstes op omdat Daniël hulle deur hulle eie woorde as vals getuies ontmasker het. En die vergadering het met hulle gehandel soos húlle beplan het om aan hulle naaste te doen. 62Die vergadering het toe volgens die Wet van Moses gehandel, en hulle tereggestel. So is die verspilling van onskuldige bloed daardie dag voorkom.
63Hilkia en sy vrou het God geprys vir hulle dogter Susanna – so ook haar man Jojakim en die hele familie, omdat geen spoor van 'n skandelike daad by haar gevind is nie. 64Van daardie dag af het Daniël groot aansien by die volk geniet.