Inleiding
1-2Dit is die woorde van die •boekrol wat Barug, seun van Nerija, seun van Maäsaias, seun van Sedekia, seun van Asadia, seun van Gelkia, in die vyfde jaar, op die sewende van die maand, in Babilonië geskryf het, in die tyd toe die Galdeërs Jerusalem ingeneem en aan die brand gesteek het.
3Barug het die woorde van hierdie boekrol voorgelees ten aanhore van Jegonia, seun van Jojakim, aan die koning van Juda en ten aanhore van die hele volk, wat daarna kom luister het, 4en ten aanhore van die magtiges en prinse, ten aanhore van die oudstes en ten aanhore van die hele volk, van klein tot groot, almal wat by die Sudrivier in Babilonië gewoon het.
5Toe het hulle aanhoudend gehuil en onophoudelik gevas en voortdurend tot die Here gebid, 6en hulle het geld volgens elkeen se vermoë bymekaargemaak. 7Hulle het dit na Jerusalem gestuur, na die priester Jojakim, seun van Gelkia, seun van Sallum, en na die priesters, en na die hele volk wat saam met hulle in Jerusalem was. 8Ondertussen het Barug die voorwerpe van die huis van die Here wat uit die •tempel verwyder was, geneem om op die tiende van die maand Siwan na die land Juda terug te bring. Dit is nou die silwervoorwerpe wat Sedekia, seun van Josia, koning van Juda, gemaak het. 9Dit was nadat koning Nebukadnesar van Babilonië vir Jegonia en die hoë amptenare, die gevangenes en magtiges, asook die volk van die land, vanaf Jerusalem laat wegvoer en hom na Babilonië gebring het.
10Hulle het gesê: “Kyk, ons het vir julle geld gestuur. Koop met dié geld vir julle •brandoffers en •reinigingsoffers en wierook, en berei spysoffers en plaas dit op die altaar van die Here ons God. 11Bid dan vir koning Nebukadnesar van Babilonië se lewe en vir dié van sy seun Baltasar, sodat hulle dae hier op aarde soos dae in die hemel mag wees. 12Dan sal die Here vir ons krag gee en Hy sal ons oë verlig. Ons sal onder die beskerming van koning Nebukadnesar van Babilonië leef en onder die beskerming van sy seun Baltasar. Ons sal hulle vir 'n lang tyd dien en genade by hulle vind. 13Julle moet ook vir ons tot die Here ons God bid, omdat ons teen die Here ons God gesondig het. Die Here het tot op hierdie dag nog nie sy woede en toorn van ons weggekeer nie. 14Julle moet hierdie boekrol wat ons vir julle gestuur het, voorlees om op die feesdag en op vasgestelde dae belydenis te doen in die huis van die Here.”
Skuldbelydenis
15“Dan moet julle sê, ‘Aan die Here ons God behoort die geregtigheid, maar die skande behoort vandag aan ons, aan die mense van Juda, aan die inwoners van Jerusalem, 16aan ons konings en heersers, en aan ons priesters, ons profete en ons stamvaders. 17Ons het teen die Here gesondig 18en ons was ongehoorsaam aan Hom. Ons het nie na die stem van die Here ons God geluister deur volgens die voorskrifte van die Here te leef wat Hy persoonlik aan ons opgelê het nie. 19Van die dag wat die Here ons voorouers uit Egipte uitgelei het, tot vandag toe, was ons steeds ongehoorsaam aan die Here ons God. Ons was ongeërg deur nie na sy stem te luister nie. 20Die boosheid en die vloek wat die Here voorgehou het aan Moses, sy kneg, die dag toe hy ons voorouers uit Egipte uitgelei het om vir ons 'n land te gee wat oorloop van melk en heuning, kleef aan ons tot vandag toe. 21Tog het ons nie geluister na die stem van die Here ons God nie, ooreenkomstig al die woorde van die profete wat Hy na ons gestuur het. 22Ons het elkeen die gedagtes van sy bose hart gevolg deur ander gode te dien en die dinge te doen wat verkeerd is in die oë van die Here ons God.