Dawid koning oor die hele Israel
1Al die stamme van Israel het na Dawid in Hebron gekom en gesê: “Hier is ons – ons is u bloedfamilie. 2Selfs in die verlede, toe Saul oor ons koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here het vir u gesê, ‘Jy sal herder wees van my volk Israel, en jy sal 'n leier word oor Israel.’ ”
3Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het koning Dawid voor die Here 'n verbond met hulle gesluit in Hebron; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel. 4Dawid was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank regeer. 5In Hebron was hy koning oor Juda sewe jaar en ses maande lank, en in Jerusalem was hy koning oor die hele Israel en Juda drie-en-dertig jaar lank.
Inname van Jerusalem
6Die koning en sy manne het na Jerusalem gegaan, na die Jebusiete wat in dié gebied gewoon het. Die Jebusiete het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie! Selfs blindes en kreupeles sal jou afweer deur te sê, ‘Dawid sal hier nie inkom nie!’ ” 7En tog het Dawid die vesting van Sion, dit is die Stad van Dawid, ingeneem. 8Dawid het daardie dag gesê: “Elkeen wat die Jebusiete wil verslaan, moet deur die watertonnel kruip om die kreupeles en blindes by te kom, hulle wat veragtelik is vir Dawid.” Daarom word daar gesê: “'n Blinde en 'n kreupele mag nie die huis binnekom nie.”
9Dawid het in die vesting gaan woon en dit die Stad van Dawid genoem. Dawid het rondom bouwerke opgerig, van die terrasse af na binne. 10Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, die God van alle magte, was met hom.
11Hiram, die koning van Tirus, het gesante na Dawid gestuur, asook sederhout, skrynwerkers en klipmesselaars. Hulle het vir Dawid 'n paleis gebou. 12Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel gevestig het en dat die Here sy koningskap aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.
13Dawid het nog byvroue en vroue uit Jerusalem geneem nadat hy uit Hebron daar aangekom het. Daar is toe vir Dawid nog seuns en dogters gebore. 14Dit is die name van die kinders wat vir hom in Jerusalem gebore is:
Sammua, Sobab, Natan en Salomo;
15Jibgar, Elisua, Nefeg en Jafia;
16Elisama, Eljada en Elifelet.
Stryd teen die Filistyne
17Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek; maar Dawid het daarvan te hore gekom en afgegaan na die bergvesting. 18Die Filistyne het gekom en die vallei van Refaïm beset. 19Dawid het by die Here raad gesoek: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my hand gee?” Die Here het vir Dawid gesê: “Trek op, want Ek sal beslis die Filistyne in jou hand gee.”
20Dawid het in Baäl-Perasim aangekom en hulle daar verslaan. Dawid het gesê: “Die Here het deur my vyande voor my gebreek soos water deurbreek.” Daarom het hy daardie plek Baäl-Perasim genoem. 21Die Filistyne het hulle afgode daar agtergelaat, en Dawid en sy manne het dit saamgeneem.
22Die Filistyne trek toe weer op en beset die vallei van Refaïm. 23Toe Dawid die Here raadpleeg, het Hy gesê: “Moenie van voor teen hulle optrek nie; trek agter hulle om en val hulle aan voor die balsempopuliere. 24Sodra jy die geluid van 'n opmars in die toppe van die balsempopuliere hoor, moet jy toeslaan; want dan gaan die Here voor jou uit om die leër van die Filistyne te verslaan.”
25Dawid het gemaak soos die Here hom beveel het, en hy het die Filistyne verslaan van Geba af tot by Geser.