Tweede brief (vervolg): Oor die verbondsark
1“'n Mens vind in die verslae dat die profeet Jeremia die ballinge opdrag gegee het om van die vuur te neem, soos reeds vermeld is, 2asook dat die profeet aan die ballinge die Wet gegee en hulle beveel het om nie die opdragte van die Here te vergeet nie en om nie in hulle gedagtes verlei te word as hulle die goue en silwerbeelde sien en hulle versierings nie. 3En met ander soortgelyke woorde het hy hulle vermaan om nie die Wet uit hulle harte te ban nie.
4“In die geskrif het ook gestaan dat die profeet op grond van 'n goddelike openbaring beveel het dat die tent en die ark hom moet volg, asook dat hy na die berg vertrek het waar Moses opgegaan en God se erfdeel aan die volk aanskou het. 5Toe Jeremia daar kom, het hy 'n grotwoning gevind en die tent en die ark en die altaar vir die reukwerk daar ingebring en die ingang verseël. 6Maar toe sommige van dié wat hom vergesel het, nader gaan om die pad te merk, kon hulle dit nie vind nie. 7Toe Jeremia dit te wete kom, het hy hulle berispe en gesê: “Die plek moet onbekend bly, totdat God weer sy volksmenigte versamel en aan hulle genade betoon. 8Dan sal die Here hierdie dinge aandui, en die heerlikheid van die Here en die wolk sal verskyn soos dit sigbaar was in die tyd van Moses en toe Salomo gebid het dat die plek op grootse wyse geheilig word.”
9“Verder is ook in besonderhede vertel hoe die wyse man by die inwyding van die tempelterrein na die voltooiing daarvan 'n offer gebring het. 10Net soos Moses tot die Here gebid het, en vuur uit die hemel neergedaal en die offerande verteer het, só het Salomo ook gebid en die vuur het neergedaal en die •brandoffers verteer. 11En Moses het gesê: “Omdat die •reinigingsoffer nie geëet is nie, is dit verteer.” 12Op dieselfde wyse het ook Salomo die agt dae gevier.
13“En hulle vertel dieselfde dinge ook volledig in die dokumente en in die kronieke van Nehemia, asook dat Nehemia 'n biblioteek tot stand gebring het, en dat hy die boeke oor die konings en van die profete en van Dawid en die briewe van die konings oor wydingsoffers versamel het. 14Op dieselfde wyse het ook Judas al die boekrolle versamel wat verlore gegaan het deur die oorlog wat oor ons gekom het, en hulle is nou by ons. 15Indien julle dit nodig het, stuur mense om dit na julle weg te bring.
16“Omdat ons op die punt staan om die reiniging te vier, skryf ons vir julle. Julle sal goed doen indien julle ook hierdie dae vier. 17Dit is God wat sy hele volk gered het en wat die erfdeel, die koningskap, die priesterskap en die heiliging aan hulle almal teruggegee het, 18soos wat Hy deur sy Wet beloof het. Ons vestig ons hoop op God, dat Hy Hom spoedig oor ons sal ontferm en ons uit alle windstreke onder die hemel by sy heilige plek sal versamel. Want Hy het ons gered uit groot rampe en Hy het die plek gereinig.”
Skrywer se voorwoord
19Al hierdie sake, naamlik die verhaal van Judas die Makkabeër en sy broers en die reiniging van die grootse tempelterrein en die inwyding van die altaar, 20en verder die oorloë teen Antiogus Epifanes en sy seun Eupator, 21asook die verskynings wat uit die hemel gekom het tot hulle wat met toewyding dapper geveg het ter wille van die Judaïsme, sodat hulle, hoewel klein in getal, die ganse land geplunder en die barbaarse hordes agtervolg het 22en die wêreldberoemde tempelterrein herower en die stad bevry het, en bowendien die wette wat op die punt was om afgeskaf te word, herstel het, omdat die Here in sy allesomvattende goedheid hulle genadig was 23– dit alles wat deur Jason van Sirene in vyf •boekrolle uiteengesit is, sal ons probeer om in een deel saam te vat. 24Toe ons 'n oorsig kry van die groot getalle daarvan, wat dit moeilik maak, vanweë die magdom materiaal, vir diegene wat hulle in die verhale van die geskiedenis wil verdiep, 25het ons oorweeg om vir dié wat graag lees 'n onderhoudende verhaal te skryf en vir dié wat lief is vir studie, iets wat maklik gememoriseer kan word en nuttig is vir almal wat dit in die hande kry. 26Vir ons wat die moeisame geswoeg van die samevatting onderneem het, was dit geen maklike taak nie, maar 'n werk van sweet en slaaplose nagte. 27Net soos dit vir iemand wat 'n feesmaal voorberei en die voordeel van ander soek, nie maklik is nie, verduur ons die moeisame geswoeg graag ter wille van die dank van baie mense. 28Die noukeurige uiteensetting van al die besonderhede het ons oorgelaat aan die oorspronklike skrywer, maar ons het ons daarop toegespits om die hooftrekke in 'n kort samevatting weer te gee, 29want net soos die boumeester van 'n nuwe huis moet sorg dra vir die hele struktuur, en die een wat deur inbranding die wasskilderye en ander skilderwerk onderneem, die besonderhede vir die versiering moet nagaan, so is dit na my mening die geval met ons. 30Dit is die taak van die skrywer van die geskiedenis om in besonderhede te tree, en sake van alle kante te bespreek en stuk vir stuk na te gaan, 31maar die man wat die verwerking doen, moet toegelaat word om bondigheid van uitdrukking na te streef en die volledige weergawe van die geskiedwerk te vermy. 32Laat ons dus van hier af met die verhaal begin en niks meer by die voorwoord voeg nie; dit sou onsinnig wees om die voorwoord van die verhaal langer te maak en die verhaal self in te kort.