Hernuwing van die verbond
1Die koning het boodskappers uitgestuur, en hulle het al die oudstes van Juda en Jerusalem by hom byeengebring. 2Die koning het toe opgegaan na die huis van die Here; al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem was saam met hom, ook die priesters en die profete, ja, die hele volk, van klein tot groot. Ten aanhore van hulle almal het hy al die woorde van die •boekrol met die verbond wat in die huis van die Here gevind is, voorgelees. 3Daarna het die koning by die pilaar gaan staan en voor die Here die verbond gesluit. Hulle het onderneem om die Here te volg, om sy gebooie, sy bepalings en sy vaste voorskrifte met hulle hele hart en hulle hele wese na te kom, deur die woorde van hierdie verbond wat in hierdie boekrol geskryf is, gestand te doen. Die hele volk het tot die verbond toegetree.
4Die koning het toe vir Gilkija, die hoëpriester, vir die priesters tweede in rang, en ook die deurwagters, opdrag gegee om uit die •tempel van die Here al die voorwerpe wat vir Baäl en Asjera, asook al die hemelliggame gemaak is, uit te bring. Hy het dit buite Jerusalem op die terrasse by die Kidron verbrand en die as daarvan na Bet-El geneem. 5Hy het weggedoen met die afgodspriesters wat die konings van Juda aangestel het, hulle wat offers verbrand het op die offerhoogtes in die dorpe van Juda en in die omgewing van Jerusalem, en ook van dié wat offers verbrand het vir Baäl, vir die son en maan, die sterrebeelde in die diereriem, en al die ander hemelliggame. 6Hy het ook die asjera uit die huis van die Here na die Kidrondal buite Jerusalem geneem. Hy het dit in die Kidrondal verbrand, dit fyngestamp tot stof, en die stof weggegooi by die begraafplek van die gewone mense. 7Hy het die vertrekke van die manlike tempelprostitute wat in die huis van die Here was en waar die vroue afskortings geweef het vir Asjera, afgebreek. 8Hy het al die priesters uit die dorpe van Juda laat kom en die offerhoogtes waar die priesters offers verbrand het, verontreinig, van Geba tot Berseba. Hy het die offerhoogtes by die stadspoorte afgebreek, dié wat by die ingang na die poort van Josua, die stadsbestuurder, was, aan die linkerkant wanneer 'n mens by die stadspoort ingaan. 9Die priesters van die offerhoogtes het egter nie na die Here se altaar in Jerusalem opgegaan nie, maar hulle het ongesuurde brood geëet saam met hulle stamgenote. 10Hy het ook Tofet, wat in die Ben-Hinnomdal was, verontreinig, sodat niemand sy seun of sy dogter vir Moleg in die vuur sou offer nie.
11Hy het weggedoen met die perde wat die konings van Juda aan die songod opgedra het, by die ingang na die huis van die Here, by Netan-Meleg, die paleisamptenaar se vertrek, wat in die buitegeboue was. Die strydwaens van die songod het hy verbrand. 12Die altare wat op die dak van die bovertrek van Agas was, wat die konings van Juda opgerig het, en die altare wat Manasse opgerig het in die twee voorhowe van die huis van die Here, het die koning afgebreek. Hy het dit vinnig daarvandaan verwyder en die stof daarvan in die Kidrondal gegooi. 13Die offerhoogtes wat oos van Jerusalem was, aan die suidekant van die Berg van Ergernis, het die koning verontreinig, die offerhoogtes wat Salomo, die koning van Israel, opgerig het vir Astarte, die verfoeilike godin van die Sidoniërs, vir Kemos, die verfoeilike god van Moab, en vir Milkom, die afstootlike god van die Ammoniete. 14Hy het die gedenkstene stukkend gebreek, die asjeras afgekap en die plekke daarvan met mensbeendere gevul.
15Selfs die altaar wat in Bet-El was en die offerhoogte wat Jerobeam, seun van Nebat, opgerig het, waarmee hy Israel laat sondig het, selfs daardie altaar en die offerhoogte het hy afgebreek. Hy het die offerhoogte afgebrand, tot stof vergruis en die asjera verbrand. 16Toe Josia omdraai, sien hy die grafte wat daar op die heuwel was. Hy het toe die beendere uit die grafte laat haal. Hy het dit op die altaar verbrand en dit verontreinig, ooreenkomstig die woord van die Here wat die man van God uitgeroep het, hy wat hierdie gebeure aangekondig het.
17Josia het gevra: “Watter grafsteen is dit wat ek hier sien?” Die manne van die dorp het hom geantwoord: “Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie gebeure voorspel het, dit wat u met die altaar van Bet-El gedoen het.” 18Daarop sê hy: “Laat hom met rus; niemand moet sy beendere versteur nie.” Hulle het sy beendere en die beendere van die profeet wat uit Samaria gekom het, ongeskonde gelaat.
19Ook al die tempels op die offerhoogtes wat in die dorpe van Samaria was, wat die konings van Israel opgerig het om die Here uit te tart, het Josia verwyder. Hy het daarmee gemaak net soos wat hy in Bet-El gedoen het. 20Hy het al die priesters van die offerhoogtes wat daar was, op die altare geslag en mensbeendere daarop verbrand. Toe het hy na Jerusalem teruggekeer.
21Daarna het die koning die hele volk opdrag gegee en gesê: “Vier die Pasga vir die Here julle God, soos dit geskryf staan in hierdie boekrol met die verbond.” 22Ja, 'n Pasga soos hierdie is nie gevier sedert die tyd van die rigters wat Israel gerig het nie, ook nie gedurende al die dae van die konings van Israel en die konings van Juda nie. 23Maar eers in die agttiende regeringsjaar van koning Josia is hierdie Pasga vir die Here in Jerusalem gevier.
24Ook die dodebesweerders en waarsêers, die huisgode en die afgodsbeelde, al die verfoeilike gode wat in die land Juda en in Jerusalem te sien was, het Josia uitgeroei, om uitvoering te gee aan die woorde van die wet wat opgeteken was in die boekrol wat Gilkija, die priester, in die huis van die Here gevind het. 25'n Koning soos hy was daar nie voor hom nie – iemand wat na die Here teruggekeer het met sy hele hart en met sy hele wese en met al sy krag, in ooreenstemming met die hele Wet van Moses. En ná hom het daar ook nie iemand soos hy opgestaan nie.
26En tog het die Here nie afgesien van sy verskriklike brandende toorn wat teen Juda gebrand het oor al die treiterings waarmee Manasse Hom getart het nie. 27Die Here het gesê: “Ook Juda sal Ek uit my teenwoordigheid verwyder, soos Ek Israel verwyder het; en Ek sal hierdie stad, Jerusalem, wat Ek uitverkies het, verwerp, asook die tempel waarvan Ek gesê het, ‘My Naam sal daar wees.’ ”
Josia se dood
28Die verdere geskiedenis van Josia en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 29In sy tyd het farao Nego, koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier. Koning Josia het hom tegemoetgetrek, maar Nego het hom by Megiddo doodgemaak toe hy hom teëkom. 30Sy dienaars het hom dood op 'n strydwa teruggebring van Megiddo af. Hulle het hom na Jerusalem geneem en hom in sy graf neergelê. Die volk van die land het Jehoagas, seun van Josia, geneem, hom gesalf en hom koning gemaak in die plek van sy vader.
Jehoagas koning van Juda
31Jehoagas was drie-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het drie maande lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Gamutal, dogter van Jeremia, uit Libna. 32Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het. 33Farao Nego het hom in Ribla, in die land Hamat, gevange gehou – hy kon nie in Jerusalem regeer nie. Nego het ook die land 'n boete opgelê van honderd kikkar silwer en 'n kikkar goud. 34Farao Nego het Eljakim, 'n seun van Josia, koning gemaak in die plek van sy vader Josia, en het sy naam verander na Jojakim. Jehoagas het hy geneem en met hom na Egipte gegaan. Jehoagas het daar gesterf.
Jojakim koning van Juda
35Die silwer en die goud het Jojakim aan die farao gelewer. Hy moes egter die land belas om die geld op bevel van die farao te kon lewer. Volgens elkeen se geskatte waarde, het hy die silwer en die goud by die volk van die land ingevorder om dit aan farao Nego te lewer. 36Jojakim was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sebida, dogter van Pedaja, uit Ruma. 37Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos sy voorvaders gedoen het.