Israel in ballingskap
1In die twaalfde regeringsjaar van Agas, koning van Juda, het Hosea, seun van Ela, in Samaria koning geword oor Israel en nege jaar lank regeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie soos die konings van Israel voor hom nie. 3Dit is hy teen wie Salmaneser, die koning van Assirië, opgetrek het. Hosea het sy onderdaan geword en was aan hom skatpligtig. 4Maar die koning van Assirië het by Hosea 'n sameswering ontdek, naamlik dat hy boodskappers gestuur het na So, die koning van Egipte, en nie die belasting vir die koning van Assirië geneem het nie, soos wat jaar ná jaar gebeur het. Daarop het die koning van Assirië hom gevange geneem en in die tronk aangehou.
5Toe het die koning van Assirië deur die hele land getrek, na Samaria opgeruk en dit drie jaar lank beleër. 6In die negende regeringsjaar van Hosea het die koning van Assirië Samaria ingeneem en Israel weggevoer na Assirië. Hy het hulle in Galag en aan die Gabor, 'n rivier in Gosan, en ook in dorpe van Medië, laat woon.
7Dit het gebeur omdat die Israeliete gesondig het teen die Here hulle God wat hulle uit Egipteland laat optrek het, onder die hand van die farao, die koning van Egipte, uit. Hulle het vir ander gode ontsag gehad 8en die voorskrifte gevolg van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, en van die konings van Israel wat dit nagekom het. 9Die Israeliete het dinge versin oor die Here hulle God wat nie reg is nie. Hulle het vir hulle offerhoogtes gebou in al hulle dorpe, of dit nou by 'n wagtoring of by 'n versterkte stad was. 10Hulle het gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. 11Hulle het daar op al die offerhoogtes offers verbrand, net soos die nasies wat die Here in ballingskap voor hulle uit verdryf het. Hulle het verkeerde dinge gedoen en so die Here uitgetart. 12Hulle het die afgodsbeelde gedien waarvan die Here vir hulle gesê het: “Julle mag so iets nie doen nie!” 13Die Here het Israel en Juda by monde van elkeen van sy profete, deur elke siener, gewaarsku: “Draai terug van julle verkeerde paaie af! Kom my gebooie en vaste voorskrifte na, volgens die hele wet wat Ek julle voorouers beveel het en wat Ek by monde van my diensknegte, die profete, aan julle voorgehou het.”
14Maar hulle het nie geluister nie. Hulle was so hardnekkig soos hulle voorouers, wat hulle vertroue nie gestel het in die Here hulle God nie. 15Hulle het sy vaste voorskrifte en sy verbond wat Hy met hulle voorouers gesluit het, verwerp, ja, sy bepalings waardeur Hy hulle gewaarsku het. Hulle het agter nuttelose afgode aangeloop en self nutteloos geword. Hulle het die nasies wat rondom hulle was, gevolg – nasies oor wie die Here hulle opdrag gegee het om nie soos hulle te maak nie. 16Hulle het al die gebooie van die Here hulle God verontagsaam en vir hulle gegote beelde gemaak – daardie twee kalwers! Hulle het 'n asjera gemaak. Hulle het voor al die hemelliggame in aanbidding gebuig en Baäl gedien. 17Hulle het hulle seuns en hulle dogters in die vuur geoffer, voorspellings gemaak en wiggelary beoefen. Hulle het hulle daaraan oorgegee om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hom so uitgetart.
18Die Here het baie toornig geword op Israel en hulle uit sy teenwoordigheid verwyder. Niemand het oorgebly nie – slegs die stam van Juda. 19Ook Juda het nie die gebooie van die Here hulle God nagekom nie, maar het die gebruike van Israel, dit wat hulle gedoen het, gevolg. 20Die Here het die hele nageslag van Israel verwerp. Hy het hulle verneder en in die hand van plunderaars oorgegee, totdat Hy hulle uit sy teenwoordigheid uitgeban het. 21Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jerobeam, seun van Nebat, koning gemaak. Jerobeam het Israel van die Here af weggedryf en hulle groot sonde laat doen. 22Die Israeliete het al die sondes wat Jerobeam gedoen het, nagevolg. Hulle het nie daarvan afgewyk nie, 23totdat die Here Israel uit sy teenwoordigheid verwyder het, soos wat Hy by monde van al sy diensknegte, die profete, gespreek het. Israel is van sy grond af weggevoer na Assirië; dit is vandag nog so.
Immigrante in Israel
24Die koning van Assirië het mense uit Babel, Kuta, Awwa, Hamat en Sefarwajim gebring en hulle in die plek van die Israeliete, in die dorpe van Samaria, gevestig. Hulle het van Samaria besit geneem en hulle in die dorpe daar gevestig.
25Aan die begin van hulle verblyf het hulle nie vir die Here ontsag gehad nie. Die Here het toe leeus onder hulle ingestuur, wat aanmekaar van hulle doodgemaak het. 26Hulle het vir die koning van Assirië gesê: “Die nasies wat u weggevoer en in die dorpe van Samaria gevestig het, ken nie die wet van die God van die land nie. Daarom het Hy leeus onder hulle ingestuur en kyk, dié maak hulle dood omdat hulle niks weet van die wet van die God van die land nie.” 27Die koning van Assirië het toe opdrag gegee: “Laat een van die priesters wat julle daarvandaan weggevoer het, daarheen terugkeer. Hy moet gaan en hom daar vestig, sodat hy hulle die wet van die God van die land kan leer.” 28Een van die priesters wat uit Samaria weggevoer is, het toe gekom en in Bet-El gaan woon; hy het hulle geleer hoe hulle vir die Here ontsag moet toon.
29Hulle het egter, nasie vir nasie, steeds hulle eie gode gemaak en in die tempels op die offerhoogtes neergesit, die offerhoogtes wat die mense van Samaria gebou het – nasie vir nasie in hulle dorpe waar hulle gewoon het. 30Die mense van Babel het Sukkot-Benot gemaak, die mense van Kuta het Nergal gemaak, en die mense van Hamat het Asima gemaak. 31Die mense uit Awwa het Nibgas en Tartak gemaak, en dié uit Sefarwajim het hulle seuns vir Adrammeleg en Annameleg, die gode van Sefarwajim, verbrand. 32Hulle het ook vir die Here ontsag gehad, maar hulle het vir hulleself uit eie geledere priesters vir die offerhoogtes aangestel, en dié het vir hulle diens gedoen in die tempels op die offerhoogtes. 33Vir die Here het hulle ontsag gehad, maar hulle eie gode het hulle bly dien in ooreenstemming met die gebruik van die nasies waarvandaan hulle weggevoer is.
34Tot vandag toe handhaaf hulle die vroeëre gebruike. Hulle het nie ontsag vir die Here nie, en tree nie op in ooreenstemming met die vaste voorskrifte en bepalings wat hulle ontvang het nie, of ooreenkomstig die wet en gebod wat die Here die nageslag van Jakob, aan wie Hy die naam Israel gegee het, beveel het nie. 35Toe die Here met hulle 'n verbond gesluit het, het Hy hulle beveel: “Julle mag nie vir ander gode ontsag hê, en julle mag nie voor hulle in aanbidding buig nie. Julle mag hulle nie dien nie, en julle mag nie vir hulle offers slag nie. 36Maar die Here, Hy wat julle met groot krag en 'n uitgestrekte arm uit Egipteland laat optrek het, vir Hom moet julle ontsag hê, voor Hom moet julle in aanbidding buig en vir Hom moet julle offers slag. 37Die vaste voorskrifte, die bepalings, die wet en die gebod wat Hy vir julle neergeskryf het, moet julle altyd noukeurig nakom. Julle mag nie vir ander gode ontsag hê nie. 38Die verbond wat Ek met julle gesluit het, mag julle nie vergeet nie. Julle mag vir geen ander gode ontsag hê nie – 39vir die Here julle God alleen moet julle ontsag hê. Hy is die Een wat julle sal red uit die hand van al julle vyande.” 40Hulle het egter nie geluister nie, maar ooreenkomstig hulle vroeëre gebruike opgetree.
41Hierdie volksgroepe het vir die Here ontsag gehad, maar hulle gesnede beelde het hulle bly dien. Ook hulle kinders en kleinkinders doen wat hulle voorouers gedoen het; dit is vandag nog so.