Jonatan se waarskuwing aan Dawid
1Dawid het uit Najot in Rama gevlug. Hy het by Jonatan gekom en hom reguit gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my skuld, wat is my sonde voor jou pa, dat hy my lewe soek?” 2Hy het hom geantwoord: “Hoegenaamd nie! Jy sal nie sterf nie! Kyk, my pa doen niks, groot of klein, sonder om my in te lig nie. Waarom sou my pa hierdie saak vir my wegsteek? Dit kan nie wees nie.”
3Maar Dawid het verder onder eed verklaar en gesê: “Jou pa weet baie goed dat ek jou guns gewen het, daarom dink hy, ‘Jonatan mag nie hiervan weet nie, anders is hy ontsteld.’ Maar so waar as die Here leef en jy leef: Daar is maar net een tree tussen my en die dood!”
4Jonatan sê toe vir Dawid: “Wat jou wens ook al is, sal ek vir jou doen.” 5Dawid het vir Jonatan gesê: “Kyk, môre is dit nuwemaan, dan is ek verplig om saam met die koning aan te sit vir ete. Maar laat my gaan, dan sal ek in die veld skuilhou tot die derde aand. 6As jou pa uitdruklik oor my navraag doen, moet jy sê, ‘Dawid het my dringend versoek om gou na Betlehem, na sy tuisdorp, te gaan, want daar is 'n •maaltydoffer vir die hele familie.’ 7As hy sê, ‘Goed!’ is jou dienaar veilig; maar as hy baie kwaad word, weet dan dat die onheil, wat hom betref, vasstaan. 8Bewys trou aan jou dienaar, want in 'n verbond voor die Here het jy jou dienaar aan jou verbind. As ek skuld dra, maak jy my dan dood. Maar aan jou pa – om watter rede sou jy my aan hom uitlewer?”
9Toe sê Jonatan: “Dit sal hoegenaamd nie met jou gebeur nie! Want, as ek vir seker weet dat dit by my pa vasstaan om die onheil oor jou te bring – sal ek jou dan nie daarvan vertel nie?” 10Dawid vra toe vir Jonatan: “Wie sal my kom vertel of jou pa jou 'n harde antwoord gegee het?” 11Toe sê Jonatan vir Dawid: “Kom, laat ons uitgaan veld toe.”
Toe hulle twee buite in die veld was, 12sê Jonatan vir Dawid: “Voor die Here, die God van Israel: Ek sal môre of oormôre ongeveer hierdie tyd my pa uitvra. En kyk, as dit gunstig is vir Dawid – sal ek dan nie iemand na jou stuur om jou in te lig nie? 13Mag die Here vir my, Jonatan, swaar straf as ek dít nie doen nie: As onheil oor jou my pa se keuse is, sal ek jou inlig en jou wegstuur, dat jy veilig kan weggaan. En mag die Here dan by jou wees, soos Hy by my pa was. 14En mag dit nie gebeur dat, terwyl ek nog leef, jy die trou van die Here nie aan my bewys nie, en ook nie dat, wanneer ek dood is, 15jy jou guns aan my huis onttrek nie – ook nie wanneer die Here elke vyand van Dawid van die aardbodem af verdelg het nie.”
16Jonatan het 'n verbond gesluit met die huis van Dawid, en die Here het wraak geneem op Dawid se vyande. 17Jonatan het weer vir Dawid 'n eed laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom innig liefgehad.
18Jonatan sê toe vir hom: “Môre is dit nuwemaan. Jy sal gemis word, want jou plek sal leeg wees. 19Maar op die derde dag, wanneer dit weer 'n gewone werksdag is, moet jy ver afgaan, tot jy kom by die plek waar jy weggekruip het. Gaan sit dan langs die Ezel-rots. 20Ek aan die ander kant, sal self drie pyle daar langsaan skiet, asof ek na 'n teiken skiet. 21Kyk, dan gaan ek my jong dienaar stuur met die woorde, ‘Gaan soek die pyle!’ As ek duidelik vir die jong dienaar sê, ‘Kyk, die pyle is van jou af duskant toe; kry dit!’ kom dan, want jy is veilig en daar is geen probleem nie, so waar as die Here leef! 22Maar as ek dít vir die jong man sê, ‘Kyk, die pyle is van jou af anderkant toe’, gaan, want die Here stuur jou weg. 23Wat die saak betref waaroor ons, ek en jy, gepraat het, kyk, die Here is vir ewig getuie tussen my en jou.”
24Dawid het toe in die veld gaan wegkruip. Dit was nuwemaan en die koning het by die maaltyd gaan sit om te eet. 25Toe die koning op sy plek gaan sit soos die vorige kere, op die plek teen die muur, het Jonatan opgestaan. Abner het langs Saul gesit, en Dawid se plek was leeg.
26Saul het dié dag egter niks gesê nie, want hy het gedink: “Iets het voorgeval dat hy nie rein is nie; ja, hy is nie rein nie.” 27Op die dag ná nuwemaan, die tweede dag, was Dawid se plek weer leeg. Saul vra toe vir sy seun Jonatan: “Waarom het die seun van Isai nie gister en ook nie vandag na die maaltyd gekom nie?”
28Jonatan het Saul geantwoord: “Dawid het my ernstig versoek om na Betlehem te gaan. 29Hy het gesê, ‘Laat my asseblief gaan, want dit is die offer van ons familiegroep in die dorp en my broer het my self die opdrag gegee. As jy my dan nou goedgesind is, laat ek asseblief vrygestel word, sodat ek my familielede kan sien.’ Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.”
30Saul het hom vir Jonatan vererg en vir hom gesê: “Jou eiewys klein misbaksel! Weet ek nie maar te goed dat jy die seun van Isai verkies, tot jou eie skande en tot skande van jou ma wat aan jou geboorte gegee het nie? 31Want solank die seun van Isai op aarde leef, sal nie jy of jou koningskap staande bly nie. En nou, stuur iemand en bring hom na my! Hy is so goed soos dood!” 32Jonatan het egter sy vader, Saul, geantwoord en vir hom gesê: “Waarom moet hy sterf? Wat het hy gedoen?”
33Toe gooi Saul sy vegspies na hom om hom te tref. Jonatan het besef dat, wat sy vader betref, dit 'n uitgemaakte saak was om Dawid dood te maak. 34Jonatan het briesend kwaad van die tafel af opgestaan. Hy het nie enige kos geëet op tweede nuwemaan nie; want hy was ontsteld oor Dawid, omdat sy vader hom verneder het.
35In die oggend het Jonatan, volgens die afspraak met Dawid, uitgegaan na die veld. 'n Jong dienaartjie was saam met hom. 36Hy sê toe vir die jong dienaar: “Hardloop; gaan haal die pyle wat ek afskiet!” Die jong dienaar het gehardloop, en hy het 'n pyl bo-oor hom afgeskiet. 37Toe die jong dienaar by die plek kom waarheen Jonatan die pyl geskiet het, roep Jonatan agter die jong dienaar aan en sê: “Lê die pyl nie verder van jou af nie?” 38Jonatan het ook agter die jong dienaar aan geroep: “Maak baie gou! Moenie gaan staan nie!”
Die jong dienaar van Jonatan het die pyl opgetel en by sy heer gekom. 39Die jong dienaar self het niks geweet nie. Net Jonatan en Dawid het van die saak geweet. 40Jonatan gee toe sy wapens vir die jong dienaar wat by hom was en sê vir hom: “Gaan, neem dit stad toe!”
41Toe die jong dienaar weg is, staan Dawid langs die kliphoop op, val neer met sy gesig na die grond, en buig drie maal diep neer. Hulle het mekaar gesoen en saam gehuil totdat Dawid buite homself was.
42Jonatan sê toe vir Dawid: “Gaan in vrede, want ons twee het in die Naam van die Here 'n eed afgelê en gesê, ‘Die Here self sal getuie wees tussen my en jou, en tussen my nageslag en jou nageslag vir ewig.’ ”
43Daarna het hy opgestaan en weggegaan, en Jonatan het die stad binnegegaan.