Salwing van Dawid as koning
1Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My 'n koning gesien.”
2Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek gaan? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.” Toe sê die Here: “'n Verskalf moet jy saam met jou neem en dan moet jy sê, ‘Om aan die Here 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het.’ 3Nooi jy dan vir Isai na die offer en Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Jy moet vir My die een salf wat Ek vir jou sal sê.”
4Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet en vra: “Beteken u koms vrede?” 5Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die Here 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die •maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi.
6Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die Here, sy gesalfde!” 7Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want:
“Die mens kyk na wat hy sien,
maar die Here kyk na die hart.”
8Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.” 9Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die Here nie gekies nie.”
10So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het hulle nie gekies nie.” 11Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.”
12Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en 'n goeie voorkoms. Die Here sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” 13Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem.
Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan.
Dawid in Saul se diens
14Die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat van die Here af kom, het hom beangs gemaak. 15Saul se amptenare het vir hom gesê: “Kyk, dit is 'n bose gees van God wat u beangs maak. 16U Majesteit moet maar net praat. U dienaars hier voor u sal iemand soek wat weet hoe om op 'n lier te speel. Wanneer die bose gees van God oor u kom, kan hy dit bespeel en dit sal goed wees vir u.”
17Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk asseblief vir my uit vir iemand wat goed kan speel, en bring hom na my.” 18Een van die jong manne antwoord toe en sê: “Kyk, ek het 'n seun van Isai, van Betlehem, gesien wat weet hoe om te speel. Hy is 'n dapper kryger, 'n krygsman; hy kan sy woord goed doen en is aantreklik. En die Here is met hom.”
19Saul stuur toe boodskappers na Isai met die versoek: “Stuur Dawid, jou seun wat by die kleinvee is, na my.” 20Isai neem toe 'n donkie en stuur dit met brood, 'n leersak wyn en 'n boklam, met sy seun Dawid na Saul.
21Dawid het by Saul aangekom en in sy diens getree. Saul het baie van hom gehou, en Dawid het sy wapendraer geword. 22Saul het vir Isai laat weet: “Dawid moet asseblief in my diens bly, want hy het guns gevind in my oë.”
23Telkens wanneer die gees van God oor Saul gekom het, het Dawid die lier geneem en daarop gespeel. Dit het vir Saul verligting gebring; dit het hom goed gedoen. Die bose gees het dan van hom gewyk.