Ondergang van Aleksander
1Die koning van Egipte het talryke leërmagte versamel, soos die sand langs die seestrand, en baie skepe, en het probeer om deur verraad oor die koninkryk van Aleksander beheer te verkry en dit by sy koninkryk te voeg. 2Toe het hy na Sirië vertrek met woorde van vrede. Die stede se inwoners het die hekke vir hom oopgemaak en hom tegemoetgegaan, want dit was 'n bevel van koning Aleksander om hom tegemoet te gaan, omdat hy sy skoonvader was. 3Maar wanneer Ptolemeus in die stede ingaan, het hy in elke stad leërmagte as garnisoen agtergelaat.
4Maar toe hulle Asdod nader, het hulle vir hom die afgebrande heiligdom van Dagon gewys en Asdod en sy verwoeste buitewyke, en die lyke wat verstrooid en verbrand gelê het, wat hy in die oorlog verbrand het, want daarvan het hulle hope op sy pad gemaak. 5Hulle het aan die koning vertel wat Jonatan gedoen het, ten einde die skuld op hom te pak, maar die koning het stilgebly.
6Jonatan het die koning met groot vertoon in Joppe ontmoet en hulle het mekaar gegroet en daar oornag. 7Jonatan het saam met die koning gegaan tot by die rivier wat Eleutherus genoem word en toe na Jerusalem teruggekeer. 8Maar koning Ptolemeus het beheer verkry oor die kusstede tot by Seleukië, aan die see, en het voortdurend bose planne teen Aleksander gesmee. 9Hy het gesante na koning Demetrius gestuur en gesê: “Kom, laat ons 'n verbond met mekaar sluit, en dan sal ek vir jou my dogter, wat Aleksander se vrou is, gee en jy sal oor jou vader se koninkryk regeer. 10Want ek is spyt dat ek my dogter vir hom gegee het, aangesien hy probeer het om my dood te maak.” 11Hy het Aleksander verwyt omdat hy sy koninkryk begeer het. 12Ptolemeus het toe sy dogter van hom weggeneem en vir Demetrius gegee, en hy het vervreemd geraak van Aleksander en hulle haat was opsigtelik.
13Ptolemeus het in Antiogië ingegaan en die kroon van Asië opgesit. Hy het twee krone op sy kop gesit, dié van Egipte en dié van Asië. 14Koning Aleksander was in daardie tyd in Seleukië, want die mense van daardie gebiede het in opstand gekom. 15Aleksander het hiervan gehoor en gekom om teen hom oorlog te maak, en Ptolemeus het uitgetrek en hom met 'n kragtige hand tegemoetgegaan en hom op die vlug gejaag. 16Aleksander het na Arabië gevlug om daar beskerming te kry, en koning Ptolemeus is met hoë aansien vereer. 17Sabdiël, die Arabier, het Aleksander se kop afgesny en aan Ptolemeus gestuur. 18Maar koning Ptolemeus het op die derde dag gesterf en dié wat in sy vestings was, is deur die ander in die vestings doodgemaak. 19Demetrius het in die jaar honderd sewe-en-sestig begin regeer.
Vriendskap tussen Jonatan en Demetrius
20In daardie dae het Jonatan die mense in Juda bymekaargebring om teen die vesting in Jerusalem oorlog te maak en hy het baie oorlogswerktuie vervaardig om daarteen te gebruik. 21Sommige wat hulle volk gehaat het, wettelose mans, het na die koning gegaan en aan hom berig dat Jonatan die vesting beleër. 22Toe hy dit hoor, het hy kwaad geword en onmiddellik kamp opgebreek en na Ptolemaïs gegaan. Hy het aan Jonatan geskryf om dit nie te beleër nie en hom in Ptolemaïs te ontmoet om so gou moontlik met hom te beraadslaag. 23Maar toe Jonatan dit hoor, het hy beveel dat die beleëring van die vesting voortgesit word; hy het van die oudstes van Israel en van die priesters gekies, en homself in gevaar begewe. 24Hy het silwer, goud, klere en baie ander geskenke geneem en na die koning in Ptolemaïs gegaan en sy guns gewen. 25Sekere wettelose mans uit die volk het beskuldigings teen hom ingebring, 26maar die koning het teenoor hom opgetree net soos sy voorgangers teenoor hom opgetree het, en Jonatan in die teenwoordigheid van al sy Vriende vereer. 27Hy het hom in die amp van hoëpriester bevestig en ook in alle ander eervolle posisies wat hy vroeër gehad het, en het hom die vernaamste onder sy beste Vriende gemaak. 28Jonatan het die koning versoek om Juda en die drie distrikte en Samaria belastingvry te maak en het aan hom driehonderd talent belowe. 29Die koning het dit goedgekeur en briewe aan Jonatan geskryf oor al hierdie sake, met die woorde:
30“Koning Demetrius
aan sy broer Jonatan en die volk van die Judeërs:
“Gegroet!
31“Die afskrif van die brief wat ons aan ons familielid Lasthenes oor julle geskryf het, skryf ons ook aan julle, sodat julle daarvan kennis kan neem,
32“ ‘Koning Demetrius
aan sy vader Lasthenes:
Gegroet!
33“ ‘Ons het besluit om die volk van die Judeërs, wat ons vriende is en hulle verpligtinge teenoor ons nakom vanweë hulle goedgesindheid teenoor ons, goed te behandel. 34Ons bevestig aan hulle die gebiedsgrense van Juda en die drie provinsies, Afairema, Lidda en Ratamin – hulle word uit Samaria by Juda gevoeg en ook al die gebiede wat aan almal behoort wat in Jerusalem offer, in die plek van die kroonbelasting wat die koning voorheen jaarliks van hulle ontvang het uit die opbrengs van die land en die vrugteboorde. 35Die ander dinge wat ons toekom uit die tiendes, die belastings, die soutputte en die kroonbelasting, skeld ons hulle van nou af alles vry, as hulp. 36Nie een van hierdie bepalings sal ongeldig gemaak word nie – nou en vir altyd.
37“ ‘Sorg dan nou dat 'n afskrif hiervan gemaak word, en laat dit aan Jonatan gegee en op 'n opvallende plek op die heilige berg geplaas word.’ ”
Trifo se planne teen Demetrius
38Toe koning Demetrius sien dat die land onder hom rustig was en dat niemand hom teenstaan nie, het hy al sy magte ontbind en elkeen na sy eie plek gestuur, behalwe die buitelandse magte wat hy as huursoldate gewerf het van die heidennasies se eilande af. Daarom het al die leërmagte wat onder sy vaders gedien het, hom gehaat. 39Trifo was een van dié wat voorheen vir Aleksander ondersteun het en hy het agtergekom dat al die leërmagte oor Demetrius mor. Hy het na Imalkue gegaan, die Arabier wat vir Antiogus, die kind van Aleksander, grootgemaak het. 40Hy het by hom aangedring om Antiogus aan hom te oorhandig sodat hy in die plek van sy vader kon regeer. Hy het hom alles vertel wat Demetrius gedoen het en van die haat waarmee sy leërmagte hom haat, en hy het 'n hele ruk daar gebly.
41Jonatan het 'n boodskap na koning Demetrius gestuur om die manskappe op die vesting in Jerusalem te verwyder, en ook dié in die ander vestings, want hulle het teen Israel bly veg. 42Demetrius het 'n boodskap aan Jonatan gestuur met die woorde: “Ek sal nie slegs hierdie dinge vir jou en jou volk doen nie, maar wanneer ek 'n goeie geleentheid kry, sal ek jou en jou volk in 'n uitsonderlike mate vereer. 43Jy sal dan nou goed doen as jy vir my manskappe stuur wat saam met my kan veg, want al my leërmagte het in opstand gekom.” 44Jonatan het drieduisend sterk manne na hom in Antiogië gestuur. Toe hulle by die koning kom, was hy verheug oor hulle koms.
45Die stad se inwoners, ongeveer honderd-en-twintigduisend mans, het in die middel van die stad bymekaargekom en wou die koning doodmaak. 46Maar die koning het die paleis in gevlug, en die stad se inwoners het die strate oorgeneem en begin veg. 47Die koning het die Judeërs se hulp ingeroep, en hulle het almal by hom bymekaargekom en toe deur die stad versprei. Hulle het op daardie dag ongeveer honderdduisend doodgemaak. 48Hulle het die stad aan die brand gesteek, daardie dag baie oorlogsbuit gevat en die koning gered. 49Die stad se inwoners het gesien dat die Judeërs die stad beheer het soos hulle plan was en hulle geesdrif het verswak en hulle het smekend na die koning uitgeroep en gesê: 50“Reik ons die regterhand en laat die Judeërs ophou veg teen ons en die stad!” 51Hulle het toe hulle wapens neergegooi en vrede gemaak. Die Judeërs is in die teenwoordigheid van die koning en almal in sy koninkryk vereer en hulle het met baie oorlogsbuit na Jerusalem teruggekeer.
52Koning Demetrius het op die troon van sy koninkryk gaan sit en die land was rustig onder hom. 53Maar hy het sy woord verbreek oor alles wat hy gesê het en hom van Jonatan vervreem en nie die gunste wat Jonatan hom bewys het, terugbetaal nie, maar hom erg verdruk.
54Hierna het Trifo en die jong kind Antiogus saam met hom teruggekeer, en Antiogus het koning geword en 'n kroon opgesit. 55Al die leërmagte wat Demetrius ontslaan het, het by Antiogus bymekaargekom. Hulle het teen Demetrius oorlog gevoer, maar hy het ontsnap en is op die vlug gejaag. 56Trifo het op die diere beslag gelê en oor Antiogië beheer verkry. 57Die jong Antiogus het aan Jonatan geskryf en gesê: “Ek bevestig jou in die amp van hoëpriester, stel jou oor die vier distrikte aan en maak jou een van die •Vriende van die Koning.” 58Hy het vir hom goue borde en eetgerei gestuur en hom toestemming gegee om uit goue bekers te drink, purper aan te trek en 'n goue gespe te dra. 59Hy het sy broer Simon as generaal aangestel oor die Leer van Tirus tot by die grense van Egipte.
Veldtogte van Jonatan en Simon
60Jonatan het vertrek en deur Oorkant die Rivier en die stede beweeg, en die hele leërmag van Sirië het by hom bymekaargekom om 'n bondgenootskap met hom te sluit. Hy het na Askelon gegaan en die stad se inwoners het hom met groot vertoon tegemoetgegaan. 61Hy het daarvandaan na Gasa vertrek, maar Gasa se inwoners het die stad toegesluit. Hy het dit toe beleër, die voorstede aan die brand gesteek en hulle geplunder. 62Nadat Gasa se inwoners Jonatan daarom versoek het, het hy hulle die regterhand gereik. Hy het hulle hoë amptenare se seuns as gyselaars geneem en hulle na Jerusalem gestuur. Hy het deur die land gegaan tot by Damaskus. 63Jonatan het gehoor dat Demetrius se bevelvoerders met 'n groot leërmag na Kedes in Galilea gekom het en hom uit sy amp wou verwyder. 64Hy het hulle tegemoetgegaan, maar sy broer Simon in die gebied agtergelaat. 65Simon het by Bet-Sur kamp opgeslaan, dae lank daarteen geveg en dit omsingel. 66Hulle het hom versoek om die regterhand te neem en hy het dit aan hulle gereik. Hy het hulle egter daarvandaan verdryf, die stad ingeneem en 'n garnisoen daar gestasioneer.
67Jonatan en sy leërafdeling het by die water van Gennesaret kamp opgeslaan. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en na die vlakte van Gasor verskuif. 68En sowaar, daar was die leërafdeling van die buitelanders besig om hom in die vlakte tegemoet te trek. Hulle het vir hom 'n hinderlaag in die berge opgestel, maar hom ook reg van voor af tegemoetgetrek. 69Die manne in die hinderlaag het uit hulle posisies opgespring en die geveg begin. 70Al diegene saam met Jonatan het gevlug. Nie een van hulle het agtergebly nie, behalwe Mattatias, die seun van Absalom, en Judas, die seun van Galfi, die bevelvoerders van die leërmagte. 71Jonatan het sy klere geskeur, grond op sy kop gestrooi en gebid. 72Hy het teruggekeer na die geveg met hulle, hulle op die vlug gejaag en die vyand het gevlug. 73Toe sy manne wat op die vlug was dit sien, het hulle na hom teruggedraai en saam met hom die vyand tot by Kedes, tot by hulle kamp, agtervolg en daar kamp opgeslaan. 74Ongeveer drieduisend manskappe van die buitelanders het op daardie dag gesneuwel. Toe het Jonatan na Jerusalem teruggekeer.