Opkoms van Antiogus Epifanes
1Ná die oorwinning deur Aleksander, seun van Filippus die Macedoniër, wat uit die land Chettiim gekom het, en wat vir Darius, die koning van die Perse en van die Meders, verslaan het, het hy koning in sy plek geword. Hy was vroeër alreeds koning oor Griekeland, 2en het baie oorloë gevoer, vestings ingeneem en konings van die aarde se bloed vergiet. 3Hy het tot by die eindes van die aarde gegaan en oorlogsbuit geneem by 'n menigte nasies. Die aarde het stil geword voor hom; hy is baie opgehemel, en hy het hooghartig begin raak. 4Hy het 'n buitengewoon magtige leërmag versamel, en hy het geheers oor lande en hulle nasies en regeerders. Hulle het skatpligtig teenoor hom geword. 5Hierna het hy bedlêend geraak, en hy het geweet dat hy besig was om te sterf. 6Toe het hy sy bevelvoerders geroep, dié van hoë aansien wat van jongs af saam met hom grootgeword het, en terwyl hy nog leef, het hy sy koninkryk onder hulle verdeel. 7Aleksander het twaalf jaar lank regeer, en gesterf. 8Sy bevelvoerders het die mag oorgeneem, elkeen in sy eie gebied. 9Hulle het almal krone opgesit ná sy dood, en ook hulle seuns ná hulle, baie jare lank, en hulle het onheil oor die aarde laat toeneem. 10Uit hulle het 'n sondige afstammeling gekom, koning Antiogus se seun, Antiogus Epifanes, wat vroeër 'n gyselaar in Rome was. Hy het koning geword in die honderd-sewe-en-dertigste jaar van die koninkryk van die Grieke.
Afvallige Judeërs
11In daardie dae het wettelose mans uit Israel gekom, en hulle het baie mense oortuig deur te sê: “Kom, laat ons 'n verbond sluit met die heidennasies rondom ons, want nadat ons van hulle afgeskei geraak het, het baie ellendes ons getref.” 12Hierdie saak was goed in hulle oë. 13Gevolglik het sommige van die volk moed geskep en na die koning gegaan, en hy het hulle die reg gegee om die gebruike van die heidennasies na te volg. 14Hulle het 'n gimnasium in Jerusalem gebou, volgens die gebruike van die heidennasies, 15en hulle het hulleself onbesnede gemaak. So het hulle afgewyk van die heilige verbond. Hulle het in dieselfde juk getrek as die heidennasies en hulle het hulleself verkoop om kwaad te doen.
Verowering van Egipte
16Toe die koninkryk van Antiogus goed gevestig was, het hy hom voorgeneem om ook koning van Egipteland te word, sodat hy oor albei koninkryke kon regeer. 17Hy het Egipte binnegeval met 'n groot leërmag, met strydwaens en olifante, met ruiters en met 'n groot vloot. 18Hy het oorlog gemaak teen Ptolemeus, die koning van Egipte. Ptolemeus was vreesbevange vir hom en het gevlug; en baie het verwond neergeval. 19Hulle het die versterkte stede in die landstreek van Egipte ingeneem en hy het oorlogsbuit van Egipteland geneem.
Plundering van die tempel in Jerusalem
20Nadat Antiogus Egipte verslaan het, het hy in die honderd-drie-en-veertigste jaar teruggekeer. Hy het opgegaan na Israel, na Jerusalem, met 'n swaar gewapende leërmag. 21Hy het vol hoogmoed in die heiligdom ingegaan. Hy het die goue altaar gevat, die lampstaander en al sy bybehore, 22die tafel vir die •vertoonbrode, die drankofferbekers, die offerbakke, die goue wierookhouers, die voorhangsel, die krone en die goue versiering wat voor die •tempel was – dit alles het hy gestroop. 23Hy het boonop die silwer en die goud en die kosbare voorwerpe gevat, en die verborge skatte wat hy gevind het, geneem. 24Nadat hy al hierdie goed gevat het, het hy teruggekeer na sy eie land. Hy het 'n bloedbad aangerig, en hy het uiters hoogmoedige dinge kwytgeraak.
25Daar het 'n groot droefheid
oor Israel gekom,
in elkeen van die streke,
26die hoë amptenare en oudstes
het getreur,
die jongmeisies en jong mans
het swak geword,
die vroue se skoonheid het afgeneem.
27Elke bruidegom
het 'n klaaglied aangehef,
sy wat in die bruidskamer gesit het,
het getreur.
28Die land is geskud as gevolg
van sy bewoners,
die hele huis van Jakob
het hom in skande gehul.
Inname van Jerusalem
29Ná twee jaar het die koning sy hoofbelastingbeampte na die stede van Juda gestuur, en hy het Jerusalem met 'n swaar gewapende leërmag binnegeval. 30Hy het op verraderlike wyse woorde van vrede met hulle gepraat, en hulle het hom vertrou. Hy het skielik die stad aangeval en dit 'n groot slag toegedien, en hy het baie mense uit Israel om die lewe gebring. 31Hy het oorlogsbuit van die stad geneem en die stad aan die brand gesteek, en die huise afgebreek, asook die mure rondom die stad. 32Hulle het die vroue en die kinders gevange geneem en die veekuddes gebuit. 33Hulle het die Stad van Dawid met 'n groot en versterkte muur herbou, asook met versterkte torings; en dit het vir hulle 'n vesting geword. 34Hulle het 'n sondige heidennasie daar gevestig, wettelose mans, en hulle het hulleself daarbinne verskans. 35Hulle het vir hulleself wapens en kos opgeberg, en hulle het al die oorlogsbuit van Jerusalem wat hulle bymekaargemaak het, daar gestoor. Hulle het 'n groot valstrik geword –
36dit het 'n valstrik
vir die heiligdom geword,
'n voortdurende bose bedreiging
vir Israel.
37Hulle het onskuldige bloed
rondom die heiligdom vergiet
en die heiligdom besoedel.
38Deur hulle toedoen het die inwoners
van Jerusalem gevlug,
en sy het 'n woning vir vreemdelinge geword;
sy het 'n vreemdeling geword vir haar nageslagte,
en haar kinders het haar verlaat.
39Haar heiligdom het verlate
geword soos 'n woestyn;
haar feeste is verander in droefheid,
haar Sabbatte in 'n bespotting,
haar waardigheid in veragting.
40In ooreenstemming met die mate
wat haar eer toegeneem het,
is haar skande vermeerder;
haar trots is in droefheid verander.
Heidense gebruike in Juda
41Koning Antiogus het aan sy hele koninkryk geskryf dat hulle almal een volk moet word 42en dat elkeen sy eie gebruike moet los. Al die heidennasies het dit volgens die bevel van die koning aanvaar. 43Baie mense uit Israel het sy godsdiens goedgekeur. Hulle het aan die afgodsbeelde geoffer en die Sabbat ontheilig. 44Die koning het deur middel van boodskappers briewe na Jerusalem en die stede van Juda gestuur met die opdrag dat hulle wette moet navolg wat vir die land vreemd was – 45dat •brandoffers, diereoffers en drankoffers in die heiligdom verbied moet word, dat die Sabbatdae en feeste ontheilig moet word; 46dat die heiligdom en die priesters verontreinig moet word; 47dat altare, heiligdomme en afgodstempels gebou moet word; dat varke en •onrein diere geoffer moet word; 48dat hulle seuns onbesnede gelaat moet word, en dat hulle siele veragtelik gemaak moet word deur elke onreinheid en ontheiliging, 49sodat hulle die Wet sal vergeet en al die voorskrifte verander. 50Elkeen wat nie volgens die bevel van die koning optree nie, sou sterf. 51In ooreenstemming met al hierdie bevele het hy aan sy hele koninkryk geskryf, en hy het opsigters aangestel oor die hele volk. Hy het al die stede in Juda, ja, stad vir stad, beveel om te offer. 52Baie mense uit die volk het hulle geskaar by almal wat die Wet verlaat het, en hulle het kwaad aangerig in die land 53en veroorsaak dat Israel weggekruip het in elke toevlugsoord wat hulle gehad het. 54Op die vyftiende dag van Kislef, in die honderd-vyf-en-veertigste jaar, het hy 'n gruwel van verwoesting op die altaar gebou, en in die omringende stede van Juda het hulle altare opgerig. 55Hulle het reukwerk laat brand voor die deure van huise en in die strate. 56Die boekrolle van die Wet wat hulle gevind het, het hulle opgeskeur en verbrand. 57Waar 'n •boekrol van die verbond by iemand gekry is, of as iemand die Wet goedgekeur het, is so iemand op bevel van die koning doodgemaak. 58Hulle het met alle geweld teen Israel bly optree, teen diegene wat maand ná maand in die stede gevind is. 59Op die vyf-en-twintigste dag van die maand, terwyl hulle geoffer het op die altaar wat bo-op die brandofferaltaar geplaas was, 60het hulle die vroue wat hulle kinders laat besny het, volgens opdrag doodgemaak, 61en hulle het die ongebore babas om die nekke van die vroue gehang. Hulle het ook die vroue se huishoudings en die mense wat die besnydenis uitgevoer het, doodgemaak. 62Maar baie mense in Israel was standvastig en vasbeslote om nie onrein dinge te eet nie. 63En hulle het verkies om eerder te sterf, sodat hulle nie deur voedsel verontreinig sou word nie; en hulle het nie die heilige verbond ontheilig nie, en het gesterf.
64So was daar 'n baie groot woede oor Israel.