Eerste ses seëls
1Ek het gesien toe die Lam een van die sewe seëls oopbreek. En ek het een van die vier lewende wesens soos die geluid van 'n donderslag hoor sê: “Kom!” 2Ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. Sy ruiter hou 'n boog vas, en 'n oorwinnaarskroon is aan hom gegee. Hy het opgetrek as oorwinnaar, en om te oorwin.
3Toe Hy die tweede seël oopbreek, het ek die tweede lewende wese hoor sê: “Kom!” 4'n Ander perd, 'n vuurrooie, het toe uitgegaan. Aan sy ruiter is vergun om die vrede van die aarde weg te neem, sodat mense mekaar kon doodmaak. Aan hom is ook 'n groot swaard gegee.
5Toe Hy die derde seël oopbreek, het ek die derde lewende wese hoor sê: “Kom!” Ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd. Sy ruiter hou 'n weegskaal in sy hand. 6Ek het toe iets soos 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: “'n Rantsoen koring kos 'n denarius, en drie rantsoene gars kos 'n denarius, en moenie dat daar skade kom met die olyfolie en die wyn nie.”
7Toe Hy die vierde seël oopbreek, het ek die vierde lewende wese hoor sê: “Kom!” 8Ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. Sy ruiter se naam is Dood, en die Hades volg hom. Aan hulle is volmag gegee om 'n kwart van die aarde dood te maak deur die swaard, hongersnood, 'n dodelike siekte, en die wilde diere van die aarde.
9Toe Hy die vyfde seël oopbreek, het ek aan die voet van die altaar die siele gesien van dié wat doodgemaak is vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het. 10Hulle het met 'n harde stem geroep: “Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek?” 11Daarop is aan elkeen van hulle 'n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog 'n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees.
12Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het 'n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. 13Ook die sterre het uit die hemelruim op die aarde geval, soos wanneer 'n vyeboom sy groen navye afgooi as dit deur 'n stormwind geruk word. 14Die hemel het verdwyn, soos 'n boekrol wat opgerol word, en elke berg en eiland is uit sy staanplek verskuif. 15Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. 16Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; 17want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”