Verwerping in Nasaret
1En Hy het van daar af vertrek en na sy tuisdorp gegaan. Sy dissipels het Hom gevolg. 2Toe die Sabbat aanbreek, het Hy die mense in die •sinagoge begin leer, en baie van hulle wat Hom gehoor het, was verwonderd. Hulle het gesê: “Waar kom hy aan hierdie dinge, en watter wysheid is aan hom gegee, dat sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind? 3Is hy dan nie die skrynwerker, die seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? Woon sy susters dan nie hier onder ons nie?” Hulle het aan Hom aanstoot geneem.
4Jesus het toe vir hulle gesê: “'n Profeet is nie sonder eer nie, behalwe in sy tuisdorp, en binne sy familiekring en in sy huis.” 5En Hy kon nie 'n enkele kragtige daad daar verrig nie, behalwe dat Hy 'n paar siekes gesond gemaak het deur hulle die hande op te lê. 6Hy was verbaas oor hulle ongeloof.
Uitstuur van die twaalf
Hy het by die dorpies in die omgewing rondgegaan en die mense onderrig. 7Hy het die twaalf nader geroep en begin om hulle twee-twee uit te stuur. Hy het vir hulle gesag oor die •onrein geeste gegee. 8Ook het Hy hulle beveel om niks vir die pad saam te neem nie, behalwe net 'n wandelstok – nie brood of 'n reissak of geld in die gordel nie. 9Hulle kon wel sandale dra, maar, het Hy gesê: “Julle moenie twee kledingstukke aantrek nie.” 10Hy het ook vir hulle gesê: “Waar julle in 'n huis ingaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. 11Maar as 'n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” 12Hulle het toe uitgegaan en gepreek dat die mense hulle moet bekeer. 13Hulle het baie demone uitgedryf, en baie siekes met olyfolie gesalf en gesond gemaak.
Dood van Johannes die Doper
14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geword. Sommige het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgewek is, en dié kragte daarom in hom werk. 15Ander weer het gesê dit is Elia. Nog ander het gesê dat Hy 'n profeet is, soos een van die profete. 16Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Johannes, wat ek laat onthoof het – dit is hy wat opgewek is.” 17Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. 18Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” 19Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; 20want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister.
21'n Geskikte geleentheid het hom voorgedoen toe Herodes op sy verjaarsdag 'n feesmaal vir sy hoë amptenare, die chiliarge en die vooraanstaande mense van Galilea aangebied het. 22Sy dogter Herodias het ingekom en Herodes en hulle wat aangeleun het vir ete vermaak deur te dans. Die koning sê toe vir die meisie: “Vra my net wat jy wil, en ek sal dit vir jou gee.” 23Hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, selfs die helfte van my koninkryk.” 24Sy het toe uitgegaan en vir haar moeder gesê: “Wat moet ek vra?” En sy het geantwoord: “Die kop van Johannes die Doper.” 25Toe het sy haastig direk na die koning gegaan en hom versoek: “Ek wil hê dat u onmiddellik vir my die kop van Johannes die Doper op 'n skinkbord bring.” 26Die koning het toe baie bedroef geword, maar ter wille van sy eed en die gaste wou hy haar dit nie weier nie. 27Die koning het dadelik sy laksman gestuur en opdrag gegee om die kop te bring. Hy het gegaan en hom in die tronk onthoof. 28Hy het sy kop op 'n skinkbord gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar moeder gegee. 29Toe Johannes se dissipels hiervan hoor, het hulle gekom en sy liggaam weggeneem en dit in 'n graf neergelê.
Eerste vermeerdering van brood
30En die •apostels het by Jesus byeengekom en Hom alles vertel wat hulle gedoen en onderrig het. 31Hy sê toe vir hulle: “Kom julle saam na 'n verlate plek en rus 'n bietjie op julle eie.” Want daar was baie mense wat voortdurend gekom en gegaan het; hulle het selfs nie kans gekry om te eet nie. 32En hulle het in 'n boot vertrek na 'n verlate plek om op hulle eie te wees. 33Maar baie mense wat hulle sien vertrek het, het hulle herken en te voet van al die dorpe af daarheen gestroom, en nog voor hulle daar aangekom. 34Toe Jesus uitklim, het Hy die groot skare gesien en hulle innig jammer gekry, omdat hulle soos skape sonder 'n herder was, en Hy het begin om hulle uitvoerig te onderrig.
35Toe dit al baie laat begin word, kom sy dissipels na Hom en sê: “Dit is 'n verlate plek, en dit is reeds baie laat. 36Stuur hulle weg na die plase in die omgewing en na die dorpies om vir hulleself iets te ete te gaan koop.” 37Maar Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Hulle sê toe vir Hom: “Moet ons dan met tweehonderd denarius gaan brood koop en vir hulle gee om te eet?” 38Maar Hy vra vir hulle: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk!” Hulle het gaan uitvind en kom sê: “Vyf, en twee visse.”
39Hy het hulle opdrag gegee om almal in groepe op die groen gras te laat sit om saam te eet. 40Hulle het in groepe van honderd en van vyftig gaan sit. 41Hy het toe die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Daarna het Hy die brode in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om vir die mense uit te deel. Hy het ook die twee visse onder almal verdeel. 42Almal het geëet en het versadig geword. 43Hulle het twaalf mandjies vol van die stukke brood en van die vis wat oorgebly het, opgetel. 44Daar was vyfduisend mans wat van die brode geëet het.
Jesus loop op die water
45En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die boot te klim en vooruit na die oorkant te vaar, na Betsaida toe, terwyl Hy die skare wegstuur. 46Nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid. 47Toe dit aand geword het, was die boot in die middel van die see, en Hy alleen aan land. 48Hy het gesien dat hulle worstel met die roeiery, want die wind was teen hulle. Teen ongeveer die vierde nagwaak kom Hy op die see na hulle toe aangeloop, en Hy wou by hulle verbygaan. 49Maar toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is 'n spook, en hulle het hard geskreeu; 50want hulle almal het Hom gesien en was vreesbevange. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Hou moed, dit is Ek! Moenie langer bang wees nie!” 51Hy het toe by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was uitermate verbaas, 52want hulle het nie begryp wat met die brode gebeur het nie, omdat hulle harte verhard was.
Genesing van mense in Gennesaret
53Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle by Gennesaret aan wal gegaan en vasgemeer. 54Toe hulle uit die boot klim, het die mense Hom dadelik herken. 55Hulle het haastig deur die hele landstreek gegaan en dié wat siek was, op slaapmatte begin aandra na waar hulle gehoor het Hy is. 56Waar Hy ook al in gehuggies of in dorpe of op plase gekom het, het hulle die siekes op die markpleine neergesit en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat Hom aangeraak het, is genees.