Genesing op die Sabbat
1Jesus het weer die •sinagoge binnegegaan. Daar was 'n man met 'n verdorde hand. 2Hulle het Hom dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbat sou gesond maak, sodat hulle Hom kon aankla. 3Hy sê toe vir die man met die verdorde hand: “Kom staan hier tussen hulle!” 4En Hy sê vir hulle: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of om dood te maak?” Hulle het egter stilgebly. 5Nadat Hy woedend in die rondte na hulle gekyk het, diep bedroef oor die hardheid van hulle harte, sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Die man het sy hand uitgesteek, en dit het gesond geword. 6Die •Fariseërs het toe uitgegaan en dadelik saam met die Herodiane planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring.
'n Menigte om Jesus
7Jesus het saam met sy dissipels na die see teruggegaan, en 'n groot menigte uit Galilea het Hom gevolg. Ook uit Judea, 8Jerusalem, Idumea, van oorkant die Jordaan, en uit die omgewing van Tirus en Sidon, het 'n groot menigte na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. 9Hy het toe vir sy dissipels opdrag gegee om vir Hom 'n skuit gereed te hou om te voorkom dat die skare Hom vertrap. 10Hy het immers baie mense gesond gemaak, sodat almal wat aan kwale gely het, om Hom saamgedrom het om aan Hom te raak. 11En die •onrein geeste het elke keer wanneer hulle Hom sien, voor Hom neergeval en hard geskree: “U is die •Seun van God!” 12Hy het hulle uitdruklik opdrag gegee om Hom nie bekend te laat word nie.
Aanwysing van die twaalf
13Hy het toe teen die berg uitgeklim. Hy het hulle op wie sy keuse geval het, nader geroep, en hulle het na Hom gekom. 14Hy het toe twaalf aangestel, wat Hy ook •apostels genoem het, sodat hulle saam met Hom kon wees, en Hy hulle kon uitstuur om te preek, 15en hulle volmag kon hê om demone uit te dryf. 16Hy het hierdie twaalf aangestel: Simon, aan wie Hy die naam •Petrus gegee het, 17Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, die broer van Jakobus – aan hulle het Hy die naam Boanerges, dit is, ‘seuns van die donder’, gegee. 18Ook Andreas, Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus, seun van Alfeus, Taddeus, Simon Kananeus, 19en Judas Iskariot, wat Hom verraai het.
Jesus en Beëlsebul
20Hy het 'n huis binnegegaan, maar die skare het weer so om Hom saamgedrom dat hulle selfs nie eers brood kon eet nie. 21Toe sy eie mense hiervan hoor, het hulle gegaan om Hom met geweld weg te neem, want hulle het gesê dat Hy van sy sinne beroof was. 22Ook die skrifkenners wat afgekom het van Jerusalem, het gesê dat Hy Beëlsebul in Hom het en dat Hy deur die demone se aanvoerder die demone uitdryf. 23Hy het hulle toe nader geroep en deur gelykenisse vir hulle gesê: “Hoe kan Satan vir Satan uitdryf? 24As 'n koninkryk teen homself verdeeld is, kan daardie koninkryk nie staande bly nie, 25en as 'n huis teen homself verdeeld is, sal daardie huis nie staande kan bly nie. 26En as Satan teen homself in opstand kom en verdeeld is, kan hy nie staande bly nie, maar is dit sy einde. 27Bowendien, niemand kan in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel nie, tensy hy eers die sterk man vasbind. Eers dan sal hy sy huis beroof. 28•Amen, Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, 29maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde.” 30Want hulle het gesê: “Hy het 'n onrein gees.”
Jesus se moeder en broers
31Sy moeder en sy broers het daar aangekom, en terwyl hulle buite bly staan, het hulle iemand na Hom gestuur om Hom te roep. 32'n Skare het rondom Hom gesit, en hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters is daar buite en soek U.” 33Maar Hy antwoord hulle en vra: “Wie is my moeder en my broers?” 34Hy het na die mense gekyk wat rondom Hom sit, en gesê: “Kyk, hier is my moeder en my broers. 35Want elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”