Stamgebied van Juda
1Dit is die gebied wat deur loting toegewys is aan die stam van Juda se nageslag, vir hulle familiegroepe: langs die grens met Edom, en suidwaarts met die Sinwoestyn as die suidelikste punt.
2Hulle suidelike grens begin by die punt van die Soutsee, vanaf die tong wat na die suide uitsteek; 3dan strek dit verder na die suide van die Akrabbimhoogte, gaan verby Sin en loop suid van Kades-Barnea op. Daarna gaan dit verby Gesron en loop op na Addar, draai dan weg na Karka, 4gaan verby Asmon en strek verder na die Spruit van Egipte. Die verste punt van die grens is die see. Dit is hulle suidelike grens.
5Die grens in die ooste is die Soutsee tot by die monding van die Jordaan.
Die grens aan die noordekant begin by die tong van die see, vanaf die monding van die Jordaan. 6Die grens loop op na Bet-Gogla en gaan noord van Bet-Araba verby; daarna gaan die grens op na die klip van Bohan, seun van Ruben. 7Die grens loop uit die vallei van Agor op na Debir, en draai noord na Gilgal, wat teenoor Adummimhoogte en aan die suidekant van die dal lê. Die grens loop verby die waters van En-Sjemesj; sy verste punt lê by En-Roghel. 8Die grens loop daarna op met die Ben-Hinnomdal na die heuwelrug van die Jebusiete, dit is Jerusalem, in die suide. Die grens loop verder op na die top van die berg, wat langs die Hinnomdal aan die westekant en aan die einde van die vallei van Refaïm in die noorde lê. 9Dan swaai die grens weg van die top van die berg na die fontein van die Water van Neftoag, en strek verder na die dorpe van die berg Efron. Die grens swaai daarna weg na Baäla, dit is Kirjat-Jearim. 10Vanaf Baäla draai die grens weswaarts na die berg Seïr, gaan verby die noordelike heuwelrug van die berg Jearim, dit is Kesalon, daal af na Bet-Semes en gaan verby Timna. 11Die grens strek verder na die noordelike heuwelrug van Ekron, swaai dan weg na Sikaron, gaan verby die berg Baäla en strek verder na Jabneël. Die verste punt van die grens is by die see.
12Die wesgrens is die Groot See en sy gebied.
Dit is, aan alle kante, die grens vir die nageslag van Juda, vir hulle familiegroepe.
Verowering van Hebron en Debir
13Aan Kaleb, seun van Jefunne, is 'n deel gegee tussen die nageslag van Juda, ooreenkomstig die bevel van die Here aan Josua: Kirjat-Arba, dit is Hebron; Arba was die voorvader van Enak. 14Kaleb het die drie Enakiete, Sesai, Agiman en Talmai, die kinders van Enak, daar uitgedryf.
15Daarvandaan het hy opgetrek na die inwoners van Debir. Die naam van Debir was vroeër Kirjat-Sefer. 16Kaleb het gesê: “Die een wat Kirjat-Sefer aanval en inneem – vir hom sal ek my dogter Agsa as vrou gee.” 17Otniël, die seun van Kenas, Kaleb se broer, het die dorp toe ingeneem, en hy het sy dogter Agsa vir hom as vrou gegee. 18Met haar aankoms het sy hom aangespoor om by haar vader 'n stuk land te vra. Toe sy van die donkie afklim, vra Kaleb vir haar: “Wat wil jy hê?” 19Sy sê toe: “Gee vir my 'n buitengewone geskenk. Omdat u vir my grond in die Negev gegee het, moet u vir my waterbronne gee.” Hy het toe vir haar die boonste en die onderste bronne gegee.
20Dit is die erfdeel van die stam van Juda se nageslag, vir hulle familiegroepe:
21Die dorpe aan die verste punt van die stam van Juda se nageslag, by die grens van Edom in die suide, was Kabseël, Eder, Jagur, 22Kina, Dimona, Adada, 23Kedes, Gasor, Jitnan, 24•Sif, Telem, Bealot, 25Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor, 26Amam, Sema, Molada, 27Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet, 28Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja, 29Baäla, Ijjim, Esem, 30Eltolad, Kesil, Gorma, 31Siklag, Madmanna, Sansanna, 32Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon – die dorpe met hulle gehuggies was altesaam 29.
33In die Sjefela was dit Estaol, Sora, Asna, 34Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim, 35Jarmut, Adullam, Sogo, Aseka, 36Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim – 14 dorpe met hulle gehuggies.
37Senan, Gadasa, Migdol-Gad, 38Dilan, Mispe, Jokteël, 39Lagis, Boskat, Eglon, 40Kabbon, Lagmas, Kitlis, 41Gederot, Bet-Dagon, Naäma en Makkeda – 16 dorpe met hulle gehuggies.
42Libna, Eter, Asan, 43Jiftag, Asna, Nesib, 44Keïla, Agsib en Maresa – 9 dorpe met hulle gehuggies.
45Ekron met sy omliggende dorpies en gehuggies; 46vanaf Ekron weswaarts, al die dorpe duskant Asdod met hulle gehuggies; 47Asdod met sy omliggende dorpies en gehuggies; Gasa met sy omliggende dorpies en gehuggies tot by die Spruit van Egipte en die Groot See met die kusgebied.
48In die bergland was dit Samir, Jattir, Sogo, 49Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir, 50Anab, Estemoa, Anim, 51Gosen, Golon en Gilo – 11 dorpe met hulle gehuggies.
52Arab, Duma, Esan, 53Janum, Bet-Tappuag, Afeka, 54Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior – 9 dorpe met hulle gehuggies.
55Maon, Karmel, Sif, Jutta, 56Jisreël, Jokdeam, Sanoag, 57Kajin, Giba en Timna – 10 dorpe met hulle gehuggies.
58Galgul, Bet-Sur, Gedor, 59Maärat, Bet-Anot en Eltekon – 6 dorpe met hulle gehuggies.
60Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba – 2 dorpe met hulle gehuggies.
61In die woestyn: Bet-Araba, Middin, Segaga, 62Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi – 6 dorpe met hulle gehuggies.
63Die nageslag van Juda was egter nie in staat om die Jebusiete, die inwoners van Jerusalem, te verdryf nie. Die Jebusiete het toe saam met die nageslag van Juda in Jerusalem bly woon; dit is vandag nog so.