Job se antwoord op Bildad se eerste betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Inderdaad! Ek weet dat dit so is.
Maar hoe kan 'n sterfling voor God
die reg aan sy kant hê?
3As iemand graag 'n regstryd
met Hom wil voer,
sal hy hom nie eers
een uit 'n duisend keer kan verweer nie.
4God wat wys van hart en sterk in vermoë is –
wie was al in verset teen Hom
en het ongedeerd daarvan afgekom?
5Hy is die een wat berge verskuif
sonder dat hulle dit agterkom,
wat hulle in sy toorn omkeer;
6Hy wat die aarde uit sy plek skud,
sodat sy pilare bewe;
7Hy wat die son aanspreek,
sodat dit nie skyn nie,
en wat so die sterre verseël;
8wat die hemel oopspan, Hy alleen,
wat op die see se rûe trap;
9wat die sterrebeeld van die
Leeu, Orion en die Sewester gemaak het,
ook die kamers van die suide;
10wat groot en ondeurgrondelike dinge,
ontelbare wonders, doen.
11Kyk, Hy kom langs my verby,
maar ek sien Hom nie raak nie.
Hy gaan verby,
maar ek gewaar Hom nie.
12Kyk, Hy ruk weg;
wie kan Hom teenhou?
Wie kan vir Hom sê,
‘Wat doen U?’
13God wend nie sy toorn af nie –
onder Hom kruip die helpers van Rahab.
14Hoe kan ék my dan
teen Hom verweer,
my woorde in verweer teen Hom kies,
15ek wat, al het ek gelyk,
my nie sal kan verweer nie?
By my teenstander
moet ek om genade smeek.
16As ek my op Hom beroep,
en Hy antwoord my,
glo ek nie dat Hy
op my roepstem sal ag slaan nie,
17Hy wat my met 'n stormwind vasgryp,
en my wonde sonder rede
meer maak.
18Hy laat my nie toe om my asem
terug te kry nie,
maar versadig my met bitterheid.
19As dit oor krag gaan –
Hy is die Sterke!
As dit oor reg gaan,
sê Hy, ‘Wie kan My dagvaar?’
20Al het ek gelyk,
verklaar my mond my skuldig;
al tree ek onberispelik op,
toon dit dat ek verkeerd is.
21Ek tree onberispelik op.
Ek gee nie om vir my lewe nie;
ek verag my bestaan.
22Dit is om't ewe.
Daarom sê ek,
‘Onberispelik of goddeloos –
Hy vernietig albei.’
23As 'n ramp onverwags die dood bring –
Hy dryf die spot met die wanhoop van onskuldiges.
24Die aarde is oorgegee
in die hand van goddeloses;
die gesigte van die aarde se regters bedek Hy.
As dit nie Hy is nie,
wie is dit dan?
25“My dae is vinniger as 'n hardloper,
dit het weggeglip;
dit het niks goeds opgelewer nie,
26dit gly verby saam met papirusbootjies,
soos 'n arend wat sweef bo 'n prooi.
27As ek sê,
‘Ek wil my klagte vergeet,
my gesigsuitdrukking verander
en vrolik lyk,’
28word ek bang vir al my lyding:
Ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
29Ek is die een wat skuldig sal bly.
Waarom sou ek my dan nog vermoei vir niks?
30Al was ek my met sneeuwater,
en reinig my hande met potas,
31sal U my steeds in 'n kuil
dompel,
sodat selfs my klere my afstootlik vind.
32“Ja, Hy is nie 'n mens, soos ek,
dat ek my teenoor Hom kan verweer,
en ons saam na die gereg kan gaan nie.
33As daar maar iemand was
wat die saak tussen ons kon besleg,
wat sy hand oor ons albei kon hou!
34God sou sy staf van my moes verwyder;
sy verskrikking sou my dan nie ontstel nie.
35Dan kon ek praat
sonder om Hom te vrees;
maar in my geval is dit nie so nie.