Elifas se eerste betoog
1Elifas uit Teman het hierop gereageer en gesê:
2“Kan mens 'n woord na jou kant toe waag?
Sal jy ontstemd raak?
Maar woorde terughou –
wie kan dit doen?
3Kyk, jy het baie mense tereggewys;
slap hande het jy sterk gemaak.
4Jou woorde het die een
wat struikel, regop gehelp;
wankelrige knieë
het jy stewig gemaak.
5Maar noudat dit jou oorkom,
is jy ontstemd;
noudat dit jou tref,
is jy ontsteld.
6Is jou ontsag vir God dan nie dit
waarop jy staatmaak nie?
Is jou hoop nie gevestig op jou
onberispelike optrede nie?
7Dink tog daaraan:
Wie het, terwyl hy onskuldig is, omgekom?
Waar is opregtes al uitgewis?
8Wat ek waargeneem het, is:
Wie onreg inploeg en teenspoed saai,
oes dit ook.
9Deur die asem van God
kom hulle om,
deur die wind uit sy neus
gaan hulle tot niet.
10Daar is die gebrul van 'n leeu,
die stem van 'n maanhaar,
maar die tande van jong leeus
word gebreek.
11By gebrek aan prooi
kom die leeumannetjie om,
die welpies van die leeuwyfie
raak verstrooi.
12“Na my toe het 'n woord
in die geheim gekom;
my oor het die fluistering daarvan
opgevang.
13Te midde van verontrustende
gedagtes in naggesigte,
terwyl 'n diep slaap mense oorval,
14het vrees en bewing my beetgepak
en my hele liggaam laat sidder.
15'n Gees het langs my verbygegaan,
dit het die hare op my lyf laat rys.
16Hy het gaan staan,
maar ek kon nie sy voorkoms
herken nie;
die gedaante was reg voor my oë.
'n Fluisterende stem
is wat ek gehoor het,
17‘Kan 'n mens regverdiger
as God wees,
of kan 'n man reiner
as sy Maker wees?
18Kyk, as Hy selfs in sy dienaars
nie sy vertroue stel nie,
en sy boodskappers blameer
vir dwaling,
19hoeveel te meer geld dit dan
hulle wat in huise van klei woon,
met fondamente in die stof?
Vinniger as 'n mot
word hulle platgetrap.
20Tussen dagbreek en sononder
word hulle verpletter;
sonder dat dit opgemerk word,
kom hulle vir ewig om.
21Word hulle tenttoue
nie losgemaak nie?
Hulle sterf – sonder wysheid.’