Ontrou van Israel en Juda
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Gaan roep uit ten aanhore van Jerusalem, ‘So sê die Here:
“Ek onthou jou –
die trou van jou jeug,
die liefde van jou bruidstyd,
hoe jy my gevolg het in die woestyn,
in 'n land waar nie gesaai word nie.
3Israel was heilig vir die Here,
die eerste vrugte van sy opbrengs.
Almal wat daarvan sou eet,
sou skuldig wees –
onheil sou hulle oorval,” ’ ”
is die uitspraak van die Here.
4Hoor die woord van die Here,
huis van Jakob,
en al die familiegroepe
van die huis van Israel!
5So sê die Here:
“Watter onreg het julle voorouers by My gevind,
dat hulle hulle aan My onttrek het,
nuttelose afgode gevolg
en self nutteloos geword het?
6Hulle het nie gevra nie,
‘Waar is die Here wat ons
uit Egipteland laat optrek het,
wat ons in die woestyn gelei het –
in 'n land van woestynvlaktes en afgronde,
'n land van droogte en diepe duisternis,
'n land waardeur niemand trek nie,
en waar geen mens woon nie?’
7Ek het julle gebring
na 'n land met boorde,
om die vrugte en die goeie daarvan te geniet.
Maar julle het ingekom
en my land verontreinig;
van my eiendom het julle
iets afstootliks gemaak.
8Die priesters het nie gevra,
‘Waar is die Here?’ nie;
hulle wat die onderrig hanteer,
ken My nie.
Die herders het teen My oortree;
die profete profeteer vir Baäl,
en hulle volg dié wat geen
voordeel bied nie.
9Daarom kla Ek julle steeds aan,”
is die uitspraak van die Here,
“en ook julle kleinkinders sal Ek aankla.
10Ja, gaan maar oor na die eilande
van die Kittiërs en kyk self!
Stuur maar na Kedar
'n afvaardiging, en let goed op –
kyk of so iets al gebeur het!
11Het 'n nasie sy gode al verruil?
En dit is nie eers gode nie!
Maar my volk het sy Majesteit
verruil vir hulle wat geen
voordeel bied nie.
12Staan verslae daaroor, hemele!
Sidder en beef onbedaarlik!”
is die uitspraak van die Here.
13“Want twee wandade
het my volk gepleeg:
My, die fontein van lewende water,
het hulle verlaat
om vir hulle opgaarputte uit te kap –
gebarste opgaarputte
wat nie water hou nie.
14“Is Israel 'n dienskneg?
Of is hy van geboorte af 'n slaaf?
Waarom het hy dan buit geword?
15“Die jong leeus brul teen hom;
hulle brul hard.
Hulle het sy land 'n woesteny gemaak;
sy stede is verwoes, sonder inwoners.
16Ook die mense van Nof en Tagpanhes
sal jou skedel verpletter.
17Het jy, Israel,
dit nie aan jouself gedoen,
deurdat jy die Here jou God verlaat het
toe Hy jou op die pad gelei het nie?
18Daarom, wat wil jy bereik
deur na Egipte te gaan?
Is dit om die Sigor se water te drink?
Wat wil jy bereik
deur na Assirië te gaan?
Is dit om die Rivier se water te drink?
19Jou boosheid vermaan jou;
jou afvalligheid wys jou tereg.
Erken dan en sien in
dat dit sleg en bitter is
wanneer jy die Here jou God verlaat,
en daar by jou geen vrees vir My is nie,”
is die uitspraak van my Heer,
die Here, Heerser oor alle magte.
20“Ja, lank gelede het jy jou juk gebreek,
jou stroppe stukkend geruk en gesê,
‘Ek weier om te dien!’
Maar op elke hoë heuwel
en onder elke skaduryke boom
het jy gaan lê en hoereer.
21Ek self het jou geplant as 'n keurdruif,
'n egte, edel wortelstok.
Hoe kon jy dan verander in wilde druiwe,
in 'n vreemde wingerdstok!
22Ja, al was jy jou af met soda,
en gebruik baie loog;
jou sondeskuld bly 'n vlek voor My,”
is die uitspraak van my Heer, die Here.
23“Hoe kan jy sê,
‘Ek het my nie verontreinig nie;
die Baäls het ek nie gevolg nie’?
Kyk net na jou pad in die dal!
Besef wat jy gedoen het!
Jy is 'n vinnige jong kameelkoei
wat heen en weer rondhardloop,
24soos 'n wilde donkie
gewoond aan die woestyn.
In haar heftige drang snuif sy die wind.
Haar bronstigheid –
wie kan dit beteuel?
Almal wat haar soek,
hoef hulle nie te vermoei nie.
In haar bronstyd sal hulle
haar vind.
25Weerhou jou voete van kaalvoet loop,
en jou keel van dors!
Maar jy sê, ‘Tevergeefs!
Nee, want ek het vreemdes lief;
hulle sal ek volg.’
26Soos 'n dief in die skande kom
wanneer hy betrap word,
so staan die huis van Israel beskaamd
– hulle, hulle konings,
hulle •hoë amptenare,
hulle priesters en profete –
27hulle wat vir 'n stuk hout sê,
‘Jy is my vader!’
en vir 'n klip,
‘Jy het my in die wêreld gebring!’
Want hulle draai hulle rug op My
en wys nie hulle gesig nie.
Maar in die tyd van hulle teenspoed sê hulle,
‘Staan op en verlos ons!’
28Waar is jou gode wat jy vir jou gemaak het?
Laat hulle opstaan,
as hulle jou kan verlos
in die tyd van jou teenspoed.
Want soveel as wat jou dorpe is,
soveel het jou gode geword, Juda.
29Waarom kla julle Mý aan?
Julle het almal teen My oortree,”
is die uitspraak van die Here.
30“Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan;
teregwysing het hulle nie aanvaar nie.
Julle swaarde het julle profete verslind,
soos 'n leeu wat verskeur.”
31Julle is daardie geslag.
Slaan ag op die woord van die Here!
“Het Ek 'n woestyn geword vir Israel
of 'n land van digte duisternis?
Waarom sê my volk,
‘Ons loop vry rond;
ons sal nie weer na U gaan nie?’
32“Sal 'n jong meisie haar juwele vergeet,
of 'n bruid haar lyfserpe?
Tog het my volk My vergeet,
ontelbare dae lank al.
33Hoe goed vind jy jou pad
om liefde te gaan soek!
Daarom kan jy ook die slegste vroue jou paaie leer!
34Selfs aan die some van jou klere
word dit gevind –
die bloed van mense,
van onskuldige behoeftiges,
wat jy nie by 'n inbraak betrap het nie.
Maar teen dit alles in 35 hou jy vol,
‘Ek is onskuldig;
sy toorn is beslis van my afgewend.’
Kyk, Ek gaan met jou 'n regstryd voer,
omdat jy volhou,
‘Ek het nie gesondig nie.’
36Hoe uiters maklik verander jy van koers.
Ook in Egipte sal jy bedroë daarvan afkom,
net soos jy in Assirië bedroë daarvan afgekom het.
37Ook daarvandaan sal jy weggaan
met jou hande op jou kop.
Want die Here het dit waarop
jy jou vertroue plaas, verwerp.
Jy sal nie slaag by hulle nie.”