1Jerubbaäl, dit is Gideon, en al die manskappe wat by hom was, het vroeg opgestaan en kamp opgeslaan by En-Garod. Die kamp van die Midianiete was aan sy noordekant, vanaf die heuwel Morê in die vlakte. 2Die Here sê toe vir Gideon: “Die manskappe wat by jou is, is vir My te veel om die Midianiete in hulle hand te gee, anders spog Israel teenoor My en sê, ‘My eie hand het my verlos.’ 3Kondig dan nou aan, ten aanhore van die manskappe, ‘Wie ook al bang en aan die bewe is, kan omdraai en wegvlug van die berg Gilead.’ ” Van die manskappe het daar toe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly.
4Daarop sê die Here vir Gideon: “Die manskappe is nog te veel. Laat hulle afgaan na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsif. Elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet met jou saamgaan’, hy moet met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek vir jou sê, ‘Hierdie een moet nie met jou saamgaan nie’, hy mag nie met jou saamgaan nie.” 5Hy het die manskappe laat afgaan na die water. Die Here sê toe vir Gideon: “Almal wat met hulle tong van die water oplek soos 'n hond dit oplek, moet jy apart hou van almal wat op hulle knieë afsak om te drink.” 6Die getal manne wat opgelek het, was driehonderd; al die ander manskappe het op hulle knieë afgesak om water te drink. 7Toe sê die Here vir Gideon: “Met die driehonderd man wat die water opgelek het, gaan Ek julle verlos. Ek sal die Midianiete in jou hand gee. Al die ander manskappe kan maar gaan, elkeen na sy woonplek.” 8Die driehonderd man het toe die padkos wat die manskappe by hulle gehad het en hulle •ramshorings geneem. Al die ander manne van Israel het Gideon weggestuur, elkeen na sy tente. Maar die driehonderd man het hy teruggehou.
Die kamp van die Midianiete was onderkant hom in die vlakte. 9Gedurende daardie nag het die Here vir hom gesê: “Staan op, gaan af na hulle kamp; want Ek gee hulle in jou hand. 10Maar as jy bang is om af te gaan, moet jy en Pura, jou dienaar, afgaan na die kamp 11en luister wat hulle sê. Daarna sal jy die moed hê om af te gaan, in die kamp in.” Toe gaan hy en sy dienaar Pura af tot by die kant van die slagordes wat in die kamp was.
12Die Midianiete, die Amalekiete en al die mense uit die ooste het in die vlakte gelê soos groot swerms treksprinkane, en hulle kamele was ontelbaar, so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. 13Toe Gideon daar kom, vertel 'n man juis vir sy vriend van sy droom. “Kyk,” het hy gesê, “ek het 'n droom gehad. Daar was 'n ronde garsbrood wat in die kamp van die Midianiete inrol, tot by 'n tent kom en dit tref, sodat dit val. Dit het die tent laat omdop, sodat dit daar gelê het.” 14Sy vriend antwoord toe en sê: “Dit kan niks anders wees nie as die swaard van Gideon, seun van Joas, die Israeliet. God het die Midianiete en die hele kamp in sy hand gegee.”
15Toe Gideon die vertelling oor die droom en die uitleg daarvan hoor, het hy dadelik in aanbidding neergebuig. Hy het na die kamp van Israel teruggegaan en gesê: “Staan op! Want die Here het die kamp van die Midianiete in julle hand gegee.” 16Hy verdeel toe die driehonderd man in drie eenhede, en gee vir almal ramshorings in die hand en leë kruike met fakkels in die kruike. 17Hy sê vir hulle: “Hou my dop, en maak so: Doen presies wat ek doen wanneer ek by die kant van die kamp kom. 18Wanneer ek en almal wat by my is op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas, rondom die hele kamp, en julle moet skreeu, ‘Vir die Here en vir Gideon!’ ”
19Gideon en die honderd man wat by hom was, kom toe by die kant van die kamp aan teen die begin van die middelste nagwaak, net toe die wagte behoorlik opgestel was. Hulle blaas toe op die ramshorings en breek die kruike wat in hulle hande was, stukkend. 20Die drie eenhede het tegelyk op die ramshorings geblaas, die kruike gebreek, in hulle linkerhande die fakkels gehou, en in hulle regterhande die ramshorings om daarop te blaas. Hulle het uitgeroep: “'n Swaard van die Here en van Gideon!” 21Hulle het bly staan, elkeen waar hy was, rondom die kamp. Die hele kamp het rondgehardloop, geskreeu en op die vlug geslaan. 22Toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die Here in die hele kamp die een se swaard teen die ander gerig. Die krygsmag het gevlug tot by Bet-Sitta, in die rigting van Sereda, tot op die oewer van die Megolastroom by Tabbat.
23Die manskappe van Israel is uit Naftali, Aser en die hele Manasse opgeroep. Hulle het die Midianiete agternagesit. 24Gideon het ook nog boodskappers rondgestuur in die hele berggebied van Efraim om te sê: “Trek af om die Midianiete voor te keer. Beset hulle toegang na die water tot by Bet-Bara, die hele Jordaan.”
So is elke man van Efraim opgeroep, en hulle het die toegang na die water tot by Bet-Bara beset, die hele Jordaan. 25Hulle het die twee •aanvoerders van die Midianiete, Oreb en Seëb, gevang. Hulle het Oreb doodgemaak by die rots van Oreb, en Seëb het hulle doodgemaak by die parskuip van Seëb. Hulle het die Midianiete agtervolg, en die koppe van Oreb en Seëb het hulle na Gideon gebring van oorkant die Jordaan af.