Rigters 10
Tola en Jaïr
1Ná Abimeleg het Tola, seun van Puwwa, seun van Dodo, 'n man uit Issaskar, opgestaan om Israel te verlos. Hy het by Samir, in die heuwelland van Efraim, gewoon. 2Hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig. Toe hy gesterf het, is hy in Samir begrawe.
3Ná hom het Jaïr, 'n man uit Gilead, opgestaan en Israel twee-en-twintig jaar lank gerig. 4Hy het dertig seuns gehad wat op dertig donkiehingste gery en dertig dorpe gehad het. Dit word vandag nog Gawwoot-Jaïr genoem, en is in die Gileadstreek geleë. 5Jaïr het gesterf, en is in Kamon begrawe.
Jefta
6Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en ook die gode van Aram, van Sidon, van Moab, van die Ammoniete en van die Filistyne. Hulle het die Here verlaat en Hom nie gedien nie. 7Die toorn van die Here het teen Israel ontbrand, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van die Filistyne en die Ammoniete. 8Hulle het in daardie jaar die Israeliete begin vernietig en verdruk. Vir agttien jaar het hulle dit gedoen aan al die Israeliete wat oorkant die Jordaan was, in die gebied van die Amoriete wat in Gilead is; 9en toe steek die Ammoniete die Jordaan oor om ook teen Juda en Benjamin en die huis van Efraim oorlog te maak. Vir Israel was dit 'n tyd van groot benoudheid.
10Die Israeliete het toe na die Here om hulp geroep: “Ons het teen U gesondig, want ons het ons God verlaat en die Baäls gedien.” 11Maar die Here het vir die Israeliete gesê: “Het Ek julle nie verlos van Egipte, van die Amoriete, die Ammoniete en die Filistyne nie? 12Die Sidoniërs, die Amalekiete en die Midianiete het julle verdruk, en toe julle na My om hulp roep, het Ek julle uit hulle hand verlos. 13Maar júlle het My verlaat en het ander gode gedien; daarom gaan Ek julle nie weer verlos nie. 14Gaan dan, roep om hulp na die gode wat julle gekies het; laat hulle julle verlos in julle tyd van nood.” 15Die Israeliete sê toe vir die Here: “Ons het gesondig! Doen U met ons wat ook al goed is in u oë; maar red ons asseblief net vandag uit!” 16Hulle het toe die vreemde gode tussen hulle verwyder en die Here gedien; en Hy kon toe nie meer Israel se swaarkry verduur nie.
17Die Ammoniete is opgeroep en het kamp opgeslaan in Gilead, terwyl die Israeliete bymekaargekom en kamp opgeslaan het by Mispa. 18Die manskappe, die •aanvoerders van Gilead, sê toe vir mekaar: “Wie is die man wat die stryd teen die Ammoniete sal aanpak? Hy sal 'n leier wees vir al die inwoners van Gilead.”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.