1Toe koning Hiskia dit hoor, het hy sy klere geskeur, 'n roukleed omgehang en na die huis van die Here gegaan. 2Hy stuur toe vir Eljakim, hoof van die hofhouding, Sebna, die sekretaris, en die oudstes van die priesters in hulle rouklere na die profeet Jesaja, seun van Amos. 3Hulle het vir hom gesê: “So sê Hiskia, ‘Hierdie dag is 'n dag van benoudheid en straf en vernedering; want die kinders het tot by die opening van die baarmoeder gekom, maar daar is geen krag om geboorte te gee nie. 4Miskien hoor die Here u God die woorde van die rabsakee, vir wie die koning van Assirië, sy heer, gestuur het om die lewende God uit te tart; en miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het.’ ”5Toe die dienaars van koning Hiskia by Jesaja aankom, 6sê Jesaja vir hulle: “So moet julle vir julle heer sê, ‘So sê die Here: “Moenie bang wees vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die onderdane van die koning van Assirië My belaster het nie. 7Kyk, Ek gaan 'n gees van hom besit laat neem, en hy sal 'n gerug hoor en terugkeer na sy land. Dan sal Ek hom in sy eie land deur die swaard laat val.” ’ ”
8Die rabsakee het teruggegaan en die koning van Assirië aangetref waar hy besig was om teen Libna te veg. Hy het immers gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het. 9Die koning van Assirië het egter 'n berig gekry oor Tirhaka, die koning van Kus, wat lui: “Hy het uitgetrek om teen u te veg!” Toe hy dit hoor, het hy boodskappers na Hiskia gestuur met die woorde: 10“So moet julle vir Hiskia, die koning van Juda, sê, ‘Moenie dat jou God, op wie jy vertrou, jou bedrieg met die woorde: “Jerusalem sal nie oorgegee word in die hand van die koning van Assirië nie.” 11Kyk, jy het self gehoor wat die konings van Assirië gedoen het aan al die lande deur hulle aan volledige vernietiging oor te gee. Sal jy dan gered word? 12Het die gode van die nasies wat deur my voorvaders uitgedelg is, hulle gered – Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? 13Waar is die koning van Hamat, die koning van Arpad, die koning van Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa?’ ”
14Nadat Hiskia die briewe uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here. Hiskia het dit daar voor die Here oopgesprei. 15Hiskia het toe tot die Here gebid en gesê: 16“Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde; U het die hemel en die aarde gemaak. 17Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk! Hoor al die woorde van Sanherib wat hy met boodskappers gestuur het om die lewende God uit te tart! 18Dit is inderdaad so, Here, dat die konings van Assirië al die nasies en hulle lande verwoes 19en hulle gode in die vuur gegooi het. Want dit was nie gode nie, maar net die werk van mensehande, hout en klip; en hulle het dit vernietig. 20Daarom, Here ons God, verlos ons uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U alleen die Here is.”
21Jesaja, seun van Amos, het toe vir Hiskia laat weet: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Wat jy tot My gebid het oor Sanherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.’ 22Dit is die woord wat die Here oor hom spreek:
“ ‘Sy verag jou,
dryf die spot met jou,
die maagd, die dogter van Sion.
Agter jou rug skud sy haar kop,
die dogter van Jerusalem.
23Wie het jy uitgetart en belaster?
Teen wie het jy jou stem verhef?
Jy het uit die hoogte neergesien
op die Heilige van Israel!
24Deur jou dienaars
het jy die Heer uitgetart.
Jy het gesê: “Met die menigte
van my strydwaens
het ek die hoogste berge bestyg,
die uithoeke van die Libanon.
Ek het sy hoogste seders afgekap,
die keur van sy sipresse.
Ek het sy verste hoogtes
binnegedring,
sy digste struikgewasse.
25Ek is die een wat gegrawe
en water gedrink het.
Met die holte van my voet
het ek al die strome van Egipte
drooggelê.”
26“ ‘Het jy dit nie gehoor nie?
In die verre verlede
het Ek juis dit voorberei,
in die voortyd het Ek dit beplan;
nou laat Ek dit aanbreek –
dat jy versterkte stede
puinhope maak.
27Hulle inwoners was magteloos,
hulle was verskrik en beskaamd.
Hulle was veldplante
en groen spriete,
gras op dakke en terrasse
voordat dit kon saad maak.
28Waar jy woon, jou kom en jou gaan,
ken Ek,
ook jou getier teen My.
29Omdat jy so teen My getier het,
jou astrantheid my ore bereik het,
sit ek my haak deur jou neus
en my stang in jou mond.
Ek laat jou terugkeer met die pad
waarmee jy gekom het.
30“ ‘Dit sal vir jou, Hiskia,
die teken wees:
Eet vanjaar die opslaggraan,
in die tweede jaar
dit wat self opkom;
maar in die derde jaar
moet julle saai en oes,
wingerde plant en die vrugte
daarvan eet.
31“ ‘Wat van die huis van Juda
ontkom het,
wat oorgebly het,
sal na onder wortel skiet,
en na bo vrugte dra.
32Ja, uit Jerusalem
sal wat oorgebly het, uitspruit,
uit die berg Sion
dit wat ontkom het.
Die ywer van die Here,
Heerser oor alle magte,
sal dit doen.’
33“Daarom, so sê die Here
oor die koning van Assirië,
“ ‘Hy sal hierdie stad
nie binnekom nie;
hy sal daarin nie 'n pyl afskiet nie;
hy sal daarteen nie opruk
met 'n skild nie;
hy sal nie 'n beleëringswal
daarteen ophoop nie.
34Met die pad waarmee
hy gekom het,
daarmee sal hy terugkeer,
en hierdie stad
sal hy nie binnekom nie,’
is die uitspraak van die Here.
35‘Ek sal hierdie stad afskerm
om dit te red, om my ontwil
en ter wille van Dawid,
my dienskneg.’ ”
36Die •engel van die Here het uitgetrek en in die kamp van die Assiriërs honderd vyf-en-tagtigduisend neergevel. Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke!
37Daarop het Sanherib, die koning van Assirië, kamp opgebreek, weggetrek en teruggegaan. Hy het in Nineve gebly. 38En toe, terwyl hy besig was om in aanbidding te kniel in die tempel van Nisrok, sy god, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergevel. Hulle het na veiligheid in die land Ararat gevlug. Esarhaddon, sy seun, het in sy plek koning geword.