1Maar die Here sal Hom
oor Jakob ontferm;
Hy sal Israel weer kies,
en hulle op hulle grond tot rus bring.
Vreemdelinge sal by hulle aansluit,
hulle by die huis van Jakob voeg.
2Volke sal Israel neem
en hulle terugbring na hulle plek.
Dan sal die huis van Israel
hulle as eiendom neem,
as slawe en slavinne
op die grondgebied van die Here.
Israel sal dié wegvoer wat hulle
as gevangenes weggevoer het,
en heers oor dié wat hulle
verdruk het.
3En dan, die dag wanneer
die Here jou rus gee
van jou swaarkry en jou onrus,
en van die harde arbeid
wat jou opgelê is,
4sal jy hierdie spotlied sing
oor die koning van Babilonië.
Jy sal sê:
“Hoe het die verdrukker
tot 'n einde gekom,
die verdrukking opgehou!
5Die Here het die stok
van goddeloses gebreek,
die staf van die heersers,
6wat volke in gramskap
geslaan het met slae
sonder ophou,
wat nasies in toorn vertrap het
met vervolging
sonder om terug te hou.
7Die hele aarde beleef
rus en kalmte,
mense breek uit in jubelkrete.
8Selfs die sipresse
is verheug oor jou;
die seders van die Libanon sê,
‘Vandat jy daar lê,
klim geen houtkapper
op na ons toe nie.’
9Die •doderyk daaronder
is in beroering oor jou,
om jou te ontmoet by jou aankoms.
Dit maak die skimme wakker
oor jou;
al die voorbokke van die aarde,
al die konings van die nasies
staan op van hulle trone.
10Hulle almal reageer en sê vir jou,
‘Ook jy is so swak gemaak soos ons,
net soos ons het jy geword.
11Jou hoogmoed is afgebring
na die doderyk,
ook die geluid van jou harpe.
Onder jou vorm maaiers 'n bed,
wurms bedek jou.’ ”
12Hoe het jy geval
uit die hemelruim,
môrester, seun van die daeraad!
Hoe is jy tot op die grond neergekap,
jy wat nasies verslaan het!
13Jy is die een wat in jou hart gesê het:
Na die hemel wil ek opgaan;
hoog bo die sterre van God
wil ek my troon oprig.
Ek wil gaan sit op die berg
van samekoms,
in die afgeleë noorde.
14Ek wil opgaan tot bo die rûe van wolke,
my gelykstel aan die Allerhoogste.
15Jy is egter na die doderyk afgebring,
tot in die afgeleë put.
16Hulle kyk na jou,
hulle staar na jou,
hulle beskou jou aandagtig:
“Is dit die man wat die aarde
laat beef het,
koninkryke laat sidder het?
17Hy het die bewoonde wêreld
soos 'n woestyn gemaak,
die stede daarvan afgebreek.
Sy gevangenes het hy nie vrygelaat
om huis toe te gaan nie.”
18Al die konings van die nasies,
hulle almal, rus eervol,
elkeen in sy eie tuiste.
19Maar jy, jy is weggesmyt,
weg van jou graf,
soos 'n verfoeilike takkie,
oordek met gesneuweldes,
met hulle wat deurboor is
deur die swaard,
dié wat afdaal na die klippe
van die put –
as 'n vertrapte lyk.
20Jy sal nie met hulle
verenig word in 'n graf nie;
want jou land het jy verwoes,
jou mense het jy doodgemaak.
Die geslag kwaaddoeners
sal nooit weer vermeld word nie.
21Maak vir sy kinders
'n slagplek gereed
weens die sondeskuld
van hulle voorouers.
Hulle mag nie opstaan
en die land in besit neem,
sodat die oppervlakte
van die aarde weer
vol stede is nie.
22“Ek sal teen hulle opstaan,”
is die uitspraak
van die Here, Heerser oor alle magte.
“Ek sal van Babel uitroei
naam en oorblyfsel,
kind en nageslag,”
is die uitspraak van die Here.
23“Ek maak van Babel
waterryke vleilande,
die domein van uile.
Ek sal haar wegvee
met 'n besem wat verdelg.”
Dit is die uitspraak
van die Here, Heerser oor alle magte.
24Die Here, Heerser oor alle magte,
het 'n eed afgelê met dié woorde:
“Soos Ek iets bedink,
so sal dit gebeur;
soos Ek beplan,
kom dit tot stand:
25Dit is om Assirië te breek
in my land;
op my berge sal Ek hom vertrap.
Sy juk sal van my volk wyk,
sy las sal van hulle skouers wyk.”
26Dit is die besluit wat oor
die hele aarde geneem is;
en dit is die hand wat uitgestrek is
oor al die nasies.
27Ja, die Here, Heerser oor alle magte,
het besluit –
wie kan dit verydel?
Sy hand is uitgestrek –
wie kan dit afweer?
28In die sterfjaar van koning Agas is hierdie profesie ontvang:
29“Jy, ganse Filistea,
moet jou nie verheug
dat die stok wat jou geslaan het,
gebreek is nie!
Want uit die wortel van 'n slang
sal 'n kobra voortkom;
en dié lewer weer
'n vlieënde vurige slang.
30In my weiding sal armes wei,
en die behoeftiges sal veilig gaan lê;
maar deur honger sal Ek jou wortel
laat sterf,
en wat van jou oorbly,
sal die hongersnood ombring.
31“Huil, poort!
Roep om hulp, stad!
Sidder, ganse Filistea!
Want uit die noorde
kom 'n rookwolk,
en daar is in sy geledere
niemand wat uitsak nie.
32Watter antwoord
moet die gesante van die nasie
dan kry?
‘Die Here het Sion gegrondves,
en in haar sal die magteloses
van sy volk skuiling vind.’ ”