1Wee hulle wat vaste voorskrifte
van onreg uitvaardig,
skrywers wat voortdurend
iets neerskryf wat moeite besorg –
2om die regte van armes
te dwarsboom,
om die magteloses van my volk
van hulle reg te ontneem,
sodat weduwees hulle buit
kan word,
en hulle die vaderloses kan beroof.
3Wat gaan julle doen
op die dag van afrekening,
tydens die storm
wat uit die verte aankom?
Na wie sal julle vlug vir hulp,
en waar gaan julle
julle rykdom agterlaat?
4Niks daarvan nie!
Hulle sal tussen gevangenes
die rug buig,
en tussen gesneuweldes val.
Ondanks dit alles het sy toorn
nie bedaar nie,
en bly sy hand steeds uitgestrek.
5“Wee Assirië,
die stok van my toorn!
My verontwaardiging –
'n staf is dit in hulle hand.
6Teen 'n nasie, vervreem van God,
stuur Ek hom;
teen die volk op wie my gramskap rus,
gee Ek hom volmag,
om oorlogsbuit te roof
en buit te maak,
om van hulle 'n vertrapte ding,
soos die kleigrond van strate,
te maak.
7Maar hy het dit nie so bedink nie,
sy hart het dit nie so beplan nie;
want sy voorneme was
om uit te delg,
om tallose nasies uit te roei.
8Hy het immers gesê,
‘Is my bevelvoerders
nie almal konings nie?
9Is Kalno nie soos Karkemis,
en Hamat soos Arpad
of Samaria soos Damaskus nie?
10Soos my hand die koninkryke
van nuttelose afgode bekom het,
hulle wie se gesnede beelde
dié van Jerusalem
en Samaria oortref het –
11sal ek dan nie met Jerusalem
en haar afgode maak
net soos ek met Samaria
en haar nuttelose afgode gemaak het nie?’ ”
12En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë, 13omdat hy gesê het:
“Met die krag van my hand
het ek opgetree,
en in my wysheid –
ja, ek het insig.
Ek verwyder die grense van volke,
hulle voorraadkamers plunder ek,
en, as die sterke, slaan ek
wie op trone sit, neer.
14Asof dit 'n voëlnes is,
het my hand die rykdom
van die volke bekom;
soos mens eiers insamel
wat in 'n nes agtergelaat is,
het ek die hele aarde ingesamel.
Daar was nie 'n vlerk wat geklap het,
'n bek wat oopgegaan
of getjirp het nie.”
15Kan 'n byl spog teen die een
wat met hom kap;
of kan 'n saag hom groot hou
teen die een wat met hom saag,
asof 'n stok die een swaai
wat hom optel,
of 'n staf die een optel
wat nie hout is nie?
16Daarom sal die Heer, die Here,
Heerser oor alle magte,
onder Assirië se vet mense
'n uitterende siekte instuur,
en onder sy geëerdes
sal 'n brand uitbreek
wat soos 'n egte vuur sal brand.
17Die Lig van Israel
sal 'n vuur word,
en sy Heilige 'n vlam.
Die vlam sal brand
en hulle onkruid en doringstruike
op een dag verteer.
18Dit sal die geëerdes
van sy bos en wingerd vernietig –
siel sowel as liggaam.
Dit sal wees soos 'n invalide
wat wegkwyn.
19Wat oorbly van die bome
van sy bos,
sal so min wees dat 'n kind
dit sal kan neerskryf.
20Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die Here, die Heilige van Israel. 21'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. 22Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – 23ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die Here, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek.
24Daarom, so sê my Heer, die Here, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. 25Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.”
26Die Here, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte.
27Op daardie dag sal Assirië se las
van jou skouer val,
sy juk van jou nek,
ook die strop van die juk
voor die skof.
28Hy het teen Aja opgetrek,
hy het by Migron verbygegaan;
by Migmas het hy sy toerusting
geberg.
29Hulle trek oor die pas:
“Geba is ons oornagplek.”
Rama is vreesbevange,
Gibea van Saul vlug.
30Skreeu hardop, dogter van Gallim!
Luister mooi, Lajesa!
Magtelose Anatot!
31Madmena vlug weg;
die inwoners van Gebim
soek skuiling.
32Vandag nog roep hy halt in Nob.
Hy beduie met sy hand
na die berg van die dogter
van Sion,
die heuwel van Jerusalem.
33Kyk, die Heer, die Here,
Heerser oor alle magte,
gaan met skrikwekkende krag
die blaredak wegkap;
dié wat hoog uitgegroei het,
word afgekap,
die hoës sink neer.
34Hy sal die struikgewas in die bos
uitkap met 'n ysterwerktuig,
en die Libanon, die magtige, sal val.