Josef se versoening met sy broers
1Josef het die hoof van sy huishouding beveel: “Vul die manne se sakke met kos, soveel as wat hulle kan dra. Sit elkeen se silwer terug bo in sy sak. 2My beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit, saam met die silwer vir sy graan.” Hy het presies gedoen wat Josef gesê het.
3Die oggend toe dit lig word, is die manne weggestuur, hulle en hulle donkies. 4Hulle het die stad verlaat, maar was nog nie ver weg nie, toe sê Josef vir die hoof van sy huishouding: “Maak klaar, sit die manne agterna en wanneer jy hulle inhaal, moet jy vir hulle vra, ‘Waarom het julle goed met kwaad vergeld? 5Is dit nie waaruit my heer drink en waarmee hy altyd die toekoms voorspel nie? Julle het verkeerd opgetree met wat julle gedoen het!’ ”
6Hy het hulle toe ingehaal en hierdie woorde vir hulle gesê. 7Hulle sê toe vir hom: “Waarom sê my heer sulke woorde? U dienaars sal nooit so iets doen nie! 8Kyk, die silwer wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän vir u teruggebring. Hoe sal ons dan nou silwer of goud uit die huis van u heer steel? 9Die een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterf, en ons sal ook my heer se slawe word.”
10Hy het geantwoord: “Nou goed, soos julle sê, so sal dit wees: Die een by wie dit gevind word, sal my slaaf word; maar julle sal onskuldig wees.” 11Hulle het gou elkeen sy sak op die grond neergesit, en elkeen van hulle het sy sak oopgemaak. 12Hy het dit deursoek; by die oudste het hy begin en by die jongste geëindig. Die beker is toe in Benjamin se sak gevind! 13Toe skeur hulle hulle klere, laai elkeen sy donkie en keer terug na die stad.
14Toe Juda en sy broers by Josef se huis aankom, was hy nog daar. Hulle het voor hom op die grond neergeval. 15Josef het vir hulle gesê: “Wat is dit wat julle nou gedoen het? Besef julle nie dat 'n man soos ek altyd die toekoms moet voorspel nie?”
16Juda sê toe: “Wat kan ons vir my heer sê? Wat kan ons aanvoer? Hoe kan ons onsself regverdig? Dit is God wat die sondeskuld van u dienaars aan die lig gebring het. Kyk, ons is nou my heer se slawe, ons en ook die een by wie die beker gevind is.” 17Maar hy antwoord: “Ek sal so iets nooit doen nie. Die man by wie die beker gevind is, net hy sal my slaaf word. En julle, trek in vrede op na julle vader!”
18Juda gaan toe nader aan hom en sê: “Asseblief, my heer, laat u dienaar tog persoonlik met my heer praat. Moet u nie vir u dienaar vererg nie; u is immers soos die farao. 19My heer het sy dienaars gevra, ‘Het julle nog 'n vader of 'n broer?’ 20En ons het my heer geantwoord, ‘Ons het 'n ou vader en 'n jong broer, 'n kind van sy ouderdom. Sy eie broer is oorlede, en hy is al wat van sy moeder oorgebly het. Sy vader is lief vir hom.’ 21U het toe vir u dienaars gesê, ‘Bring hom af na my, dat ek hom onder oë kan kry.’ 22Ons het my heer geantwoord, ‘Die jong man kan nie sy vader verlaat nie. As hy sy vader verlaat, sal sy vader sterf.’ 23U het toe vir u dienaars gesê, ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle nie weer my gesig sien nie.’ 24Ons het daarna opgetrek na u dienaar, my vader, en hom die woorde van my heer meegedeel. 25Ons vader het gesê, ‘Gaan koop weer vir ons 'n bietjie kos!’ 26Maar ons het gesê, ‘Ons kan nie daarheen afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, kan ons gaan, want ons sal nie die man se gesig kan sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ 27En u dienaar, my vader, het vir ons gesê, ‘Julle weet self dat my vrou vir my net twee seuns in die wêreld gebring het. 28Die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: “Hy is sonder enige twyfel verskeur!” En ek het hom tot nou toe nie weer gesien nie. 29As julle nou hierdie een ook van my wegneem, en 'n noodlottige ramp tref hom, sal julle my grys hare deur teenspoed in die •doderyk laat afgaan.’ 30Daarom, as ek by u dienaar, my vader, aankom, en die jong man aan wie hy so geheg is, is nie by ons nie – 31die oomblik dat hy sien die jong man is nie daar nie, sal hy sterf. U dienaars sal die grys hare van ons vader, u dienaar, met verdriet in die doderyk laat afgaan. 32Aangesien u dienaar borg gestaan het vir die jong man by my vader deur te sê, ‘As ek hom nie na u terugbring nie, sal ek altyd teenoor my vader skuldig staan,’ 33laat u dienaar asseblief dan nou in die plek van die jong man as slaaf van my heer agterbly. Maar die jong man, laat hy saam met sy broers optrek. 34Want hoe kan ek na my vader optrek, en die jong man is nie by my nie? Anders moet ek die ramp aanskou wat my vader tref.”