Jakob by Laban
1Jakob het haastig vertrek en na die land van die mense in die ooste gegaan. 2Hy sien toe meteens 'n put in die veld. En kyk, daar was drie troppe kleinvee wat daar rus, want uit hierdie put het hulle die troppe kleinvee water gegee. Die klip oor die opening van die put was groot. 3Wanneer al die troppe daar bymekaar was, het hulle die klip weggerol van die opening van die put en die kleinvee water gegee. Dan het hulle die klip teruggeplaas op sy plek oor die opening van die put.
4Jakob vra toe vir hulle: “My broers, waarvandaan is julle?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.” 5Hy vra toe vir hulle: “Ken julle vir Laban, die seun van Nahor?” Hulle het geantwoord: “Ons ken hom.” 6Toe vra hy hulle: “Gaan dit goed met hom?” Hulle het geantwoord: “Goed. Kyk, daar kom Ragel, sy dogter, met die kleinvee aan.” 7Hy sê toe: “Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Gee die kleinvee water en laat hulle wei!” 8Hulle het egter gesê: “Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie. Dan word die klip van die put se opening af weggerol, en gee ons die kleinvee water.”
9Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee wat aan haar vader behoort, daar aan, want sy was 'n veewagter. 10Toe Jakob vir Ragel, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en ook die kleinvee van Laban, sy moeder se broer, sien, het hy nader gegaan. Jakob het die klip van die put se opening af weggerol, en die kleinvee van Laban, sy moeder se broer, water gegee. 11Jakob het Ragel gesoen en hardop gehuil. 12Jakob vertel toe vir Ragel dat hy bloedfamilie van haar vader is, en dat hy Rebekka se seun is. Sy het gehardloop en dit vir haar vader gaan vertel.
13Toe Laban die nuus oor Jakob, sy suster se seun, hoor, het hy gehardloop om hom te ontmoet, hom omhels, hom gesoen en na sy huis geneem. Jakob het vir Laban die hele gebeure oorvertel. 14Laban sê toe vir hom: “Jy is beslis my vlees en bloed.” Hy het 'n volle maand by hom gebly.
15Daarna sê Laban vir Jakob: “Is dit omdat jy bloedfamilie is dat jy verniet vir my moet werk? Sê vir my wat jou vergoeding moet wees.” 16Laban het twee dogters gehad. Die oudste se naam was Lea en die jongste se naam was Ragel. 17Lea se oë was dof, maar Ragel het 'n mooi voorkoms gehad; sy was beeldskoon. 18Jakob was verlief op Ragel; hy sê toe: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir Ragel, u jongste dogter.” 19Laban het geantwoord: “Dit is beter as ek haar vir jou gee as dat ek haar vir 'n ander man gee. Bly by my!” 20Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel. In sy oë was dit soos 'n paar dae, want hy was lief vir haar.
21Jakob sê toe vir Laban: “Gee my vrou, want my dienstyd is voltooi. Ek wil by haar ingaan.” 22Laban het al die manne van die omgewing byeengebring en 'n feesmaal gehou. 23Toe dit aand word, het hy sy dogter Lea geneem en haar vir Jakob gebring. Hy het toe by haar ingegaan. 24(Laban het vir haar, vir sy dogter Lea, sy slavin Silpa as slavin gegee.)
25Toe dit oggend word, toe is dit Lea! Hy het vir Laban gesê: “Wat het u my aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek vir u gewerk het nie? Waarom het u my mislei?” 26Laban het geantwoord: “Dit word nie hier by ons so gedoen nie – om die jongste dogter voor die eersgeborene af te gee nie. 27Voltooi hierdie een se week, dan gee ons vir jou ook die ander een vir die diens wat jy by my sal lewer vir 'n verdere sewe jaar.”
28Jakob het toe so gemaak. Hy het die week met haar voltooi. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. 29Laban het sy slavin Bilha aan sy dogter Ragel as slavin vir haar gegee. 30Jakob het ook by Ragel ingegaan. Hy het dan ook vir Ragel meer liefgehad as vir Lea. So het hy 'n verdere sewe jaar by Laban gewerk.
31Die Here het gesien dat Lea die nie-geliefde is, en Hy het haar moederskoot oopgemaak; maar Ragel was onvrugbaar. 32Lea het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Ruben genoem, want sy het gesê: “Ja, die Here het my ellende raakgesien, want nou sal my man my liefhê.”
33Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Ja, die Here het gehoor dat ek die nie-geliefde is, want Hy het my ook hierdie seun gegee.” En sy het hom Simeon genoem.
34Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sê sy: “Uiteindelik sal my man hom nou by my aansluit, want ek het al vir hom drie seuns in die wêreld gebring.” Daarom het sy hom Levi genoem.
35Sy het weer swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Sy het gesê: “Hierdie keer sal ek die Here prys.” Daarom het sy hom Juda genoem. Sy het toe opgehou om kinders in die wêreld te bring.