1Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. 2Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. 3Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. 4Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” 5So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder.
6Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” 7en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. 8So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. 9Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem.
Jakob se droom by Bet-El
10Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. 11Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. 12Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! 13En kyk, die Here staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. 14Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. 15Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.”
16Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!” 17Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!”
18Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as 'n kopstut neergesit het, geneem en dit as 'n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. 19Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus.
20Jakob het toe 'n gelofte afgelê: “As God met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, 21en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die Here my God wees, 22en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, 'n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.”