Isak en Abimeleg
1Daar was hongersnood in die land, afgesien van die eerste hongersnood wat daar was in die tyd van Abraham. Isak het toe na Gerar, na Abimeleg, die koning van die Filistyne, gegaan. 2Die Here het aan hom verskyn en gesê: “Moenie afgaan na Egipte nie. Bly in die land waar Ek vir jou sê. 3Woon as •vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag gee Ek al hierdie lande, en Ek sal die eed wat Ek vir jou vader Abraham afgelê het, gestand doen. 4Ek sal jou nageslag so talryk maak soos die sterre aan die hemelruim, en aan jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee. Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, 5omdat Abraham na my stem geluister het en die verpligtinge wat Ek oplê, my bevele, my vaste voorskrifte en my wette, nagekom het.” 6So het Isak toe in Gerar gaan woon.
7Die manne van die plek het hom oor sy vrou uitgevra. Hy het gesê, “Sy is my suster;” want hy was bang om te sê, “my vrou,” anders, het hy gedink, maak die manne van die plek my dood oor Rebekka. Sy was immers beeldskoon.
8Isak was al 'n lang tyd daar, toe kyk Abimeleg, die koning van die Filistyne, af deur die venster en sien – Isak liefkoos dan vir Rebekka, sy vrou! 9Abimeleg ontbied toe vir Isak en sê: “Maar sy is dan eintlik jou vrou! Hoe kon jy gesê het sy is jou suster?” Isak het hom geantwoord: “Omdat ek gedink het dat ek anders oor haar sou sterf.” 10Daarop sê Abimeleg: “Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon iemand uit die volk nie by jou vrou geslaap het nie, en dan het jy skuld oor ons gebring!” 11Abimeleg het toe aan die hele volk 'n bevel uitgereik: “Die een wat aan hierdie man of sy vrou raak, sal beslis sterf.”
12Isak het in daardie landstreek gesaai, en hy het dié jaar honderdvoudig geoes. So het die Here hom geseën. 13Die man het ryk geword; hy het al hoe ryker geword, totdat hy skatryk was. 14Hy het kuddes kleinvee en beeste besit en 'n groot werksmag, sodat die Filistyne hom beny het. 15Al die putte wat die slawe van sy vader in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe het, het die Filistyne toegestop en met grond opgevul. 16Abimeleg sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons af, want jy het heeltemal te sterk geword vir ons.”
17Isak het daarvandaan weggegaan en kamp opgeslaan in die Gerardal. Hy het hom daar gevestig. 18Isak het die putte wat in die tyd van Abraham, sy vader, gegrawe is, en wat die Filistyne ná die dood van Abraham toegestop het, weer oopgegrawe. Hy het hulle dieselfde name gegee wat sy vader hulle gegee het. 19Terwyl die slawe van Isak in die dal grawe, kom hulle toe daar in 'n put af op 'n wateraar. 20Maar die herders van Gerar het met Isak se herders gestry en gesê: “Die water behoort aan ons!” Hy het toe die put Esek genoem, omdat hulle daaroor rusie gemaak het. 21Isak se slawe het toe 'n ander put gegrawe, maar hulle het ook daaroor gestry. Daarom het Isak dit Sitna genoem. 22Hy het daarvandaan verder getrek en 'n ander put gegrawe, maar daaroor is daar nie gestry nie. Hy het dit Regobot genoem, “want,” het hy gesê, “nou het die Here vir ons ruimte gemaak, en ons sal vrugbaar wees in die land.”
23Hy het toe daarvandaan opgetrek na Berseba. 24Daardie nag het die Here aan hom verskyn en gesê: “Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou seën en jou nageslag talryk maak ter wille van Abraham, my dienskneg.” 25Hy het toe daar 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep. Isak het sy tente daar opgeslaan, en sy slawe het daar 'n put uitgekap.
26Abimeleg het uit Gerar na hom gekom, en ook Agussat, sy vriend, en Pigol, die bevelvoerder van sy leër. 27Isak sê toe vir hulle: “Waarom kom julle nou na my toe, terwyl dit julle is wat vyandig was teenoor my, en my van julle af weggestuur het?” 28Hulle het geantwoord: “Ons het duidelik gesien dat die Here met jou is. Toe dink ons: Daar moet tog 'n ooreenkoms tussen ons wees – tussen ons en jou. Ons wil 'n verdrag met jou sluit: 29Jy moet ons nie kwaad aandoen nie, net soos ons nie aan jou geraak het nie, en soos wat ons net goed aan jou gedoen en jou ongedeerd weggestuur het. Jy is nou die geseënde van die Here.”
30Isak het toe vir hulle 'n maaltyd voorberei, en hulle het geëet en gedrink. 31Hulle het vroeg die oggend opgestaan en vir mekaar 'n eed afgelê. Isak het hulle daarna weggesien, en hulle het in vrede van hom af weggegaan.
32Op dieselfde dag het Isak se slawe gekom en hom ingelig oor die put wat hulle gegrawe het. Hulle het vir hom gesê: “Ons het water gekry!” 33Hy het dit toe Seba genoem. Daarom is die naam van die dorp Berseba; dit is vandag nog so.
Jakob se bedrog
34Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Jehudit, die dogter van Beëri, die Hetiet, as vrou geneem, en ook Basemat, die dogter van Elon, die Hetiet. 35Vir Isak en Rebekka was hulle 'n bron van bitter verdriet.