Jerusalem 'n kookpot
1Die woord van die Here het tot my gekom in die negende jaar, op die tiende dag van die tiende maand: 2“Mensekind, skryf vir jou die naam op van hierdie dag, hierdie spesifieke dag; want die koning van Babilonië het op hierdie spesifieke dag die druk op Jerusalem begin toepas. 3Vertel dan vir die rebelse huis 'n gelykenis, en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here:
“Sit 'n pot op, sit dit op,
en gooi ook water daarin.
4Sit stukke vleis daarin,
al die goeie stukke –
boud en blad;
maak dit vol met die beste bene.
5Die beste van die kleinvee,
neem dit,
pak ook bene onder die pot.
Bring die kooksel in die pot
tot by kookpunt,
ook die bene moet daarin gaar kook.
6“ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here:
“Wee die stad van bloedskuld –
'n pot met roes daarin!
Die roes sal nie afkom nie!
Stuk vir stuk moet jy die vleis uithaal.
Die lot word nie oor die stad gewerp nie.
7Ja, haar bloed is in haar.
Op 'n kaal rotsplaat het sy dit laat beland;
sy het dit nie op die grond uitgegooi
om dit met los grond te bedek nie.
8Om woede op te wek,
om wraak te neem,
het Ek die bloed op die kaal
rotsplaat gelaat,
sodat dit nie bedek word nie.
9“ ‘ “Daarom,” so sê my Heer, die Here:
“Wee die stad van bloedskuld!
Op my beurt maak Ek
die houtstapel groot:
10Bring meer hout;
steek aan die vuur!
Laat die vleis deurkook,
laat die sous wegkook –
die bene moet verkool!
11Laat die pot leeg staan op die kole,
sodat dit warm kan word,
die brons daarvan kan gloei,
die •onreinheid daarin kan smelt,
die roes daarvan kan wegbrand!
12Dit is vergeefse moeite;
die dik laag roes kom nie af nie.
Die roes moet in die vuur in!
13Jou onreinheid
is 'n skandelike daad.
Omdat Ek jou wou reinig,
maar jy nie van jou onreinheid
wil afsien nie,
sal jy nie weer rein wees
totdat Ek my woede teen jou
tot bedaring gebring het nie.
14“ ‘ “Ek, die Here, het gepraat. Dit is aan die kom; Ek gaan dit doen; Ek sal dit nie nalaat nie; Ek sal nie jammer kry nie. Volgens jou optrede, volgens jou dade, sal hulle jou oordeel.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.” ’ ”
Esegiël se verlies as teken
15Die woord van die Here het tot my gekom: 16“Mensekind, kyk, Ek gaan wat jy kosbaar ag, met 'n swaar slag van jou wegneem. Maar jy mag nie rou en treur nie; jou trane mag nie vloei nie. 17Sug in stilte. Aan 'n rouplegtigheid vir dooies mag jy nie deelneem nie. Bind jou •tulband om jou kop en trek jou sandale aan jou voete. Moenie jou snor bedek nie, en kos wat mense vir jou bring, mag jy nie eet nie.”
18Ek het die oggend met die mense gepraat, en die aand het my vrou gesterf. Ek het die volgende oggend toe gedoen soos ek beveel is. 19Die mense het vir my gesê: “Wil jy nie vir ons vertel wat dit vir ons beteken dat jy so optree nie?” 20Ek het hulle geantwoord: “Die woord van die Here het tot my gekom, 21‘Sê vir die huis van Israel: “So sê my Heer, die Here, ‘Kyk, Ek gaan my heiligdom ontheilig, daardie bron van julle verwaandheid, wat so kosbaar is in julle oë en wat die hartstog van julle lewens is. Julle seuns en dogters wat julle daar agtergelaat het, sal val deur die swaard.’ 22Dan moet julle doen wat ek gedoen het: Julle snorre mag julle nie bedek nie, en die kos wat mense bring, mag julle nie eet nie. 23Julle tulbande moet op julle koppe wees, en julle sandale aan julle voete; julle mag nie rou en treur nie. Maar julle sal wegteer weens julle sondeskuld en sug teenoor mekaar. 24‘Esegiël sal vir julle 'n teken wees: Net soos hy gedoen het, moet julle doen. Wanneer dit gebeur, sal julle besef dat Ek, die Heer, die Here is.’ ”
25“ ‘En jy, mensekind, die dag wanneer Ek hulle bergvesting van hulle wegneem, hulle pragtige bron van vreugde wat so kosbaar is in hulle oë, hulle hartsverlange, ook hulle seuns en dogters, 26op daardie dag sal een wat ontkom het, beslis by jou aankom met 'n berig vir jou persoonlik. 27Op daardie dag sal jou mond oopgaan teenoor die een wat ontkom het; jy sal kan praat, en jy sal nie meer stom wees nie. So sal jy vir hulle 'n teken wees, en hulle sal besef dat Ek die Here is.’ ”