Mislukte poging om Kanaän in te neem
1Dit is die woorde wat Moses gesê het vir die hele Israel oorkant die Jordaan. Dit was in die droë streek in die Araba teenoor Suf, tussen Paran en Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab. 2Dit neem elf dae vanaf Horeb tot by Kades-Barnea met die pad deur die Seïrberge. 3In die veertigste jaar, op die eerste dag van die elfde maand, het Moses alles vir die Israeliete gesê net soos die Here hom beveel het om vir hulle te sê. 4Dit het gebeur nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Gesbon regeer het, en Og, die koning van Basan, wat in Astarot regeer het, by Edreï verslaan het.
5Oorkant die Jordaan, in die land Moab, het Moses begin om hierdie wet vir hulle uiteen te sit. Hy het gesê:
6“Die Here ons God het by Horeb met ons gepraat. Hy het gesê, ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. 7Breek julle kamp op en trek na die bergland van die Amoriete en al die omliggende gebiede: die Araba, die bergland, die Sjefela, die Negev en die kusvlakte – dit wil sê, die land van die Kanaäniete en ook die Libanon en die gebied tot by die groot rivier, die Eufraat. 8Kyk, Ek bied vir julle die land aan. Gaan en neem die land in besit wat Ek, die Here, met 'n eed aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle en hulle nageslag ná hulle te gee.’
9“In daardie tyd het ek, Moses, vir julle gesê, ‘Ek kan julle nie meer alleen dra nie. 10Die Here julle God het julle baie laat word. Kyk, julle is nou al so baie soos die sterre aan die hemelruim. 11Mag die Here, die God van julle voorvaders, julle nog 'n duisend maal meer maak, ja, mag Hy julle seën soos Hy vir julle gesê het. 12Maar hoe kan ek alleen julle laste dra, julle probleme en geskille? 13Bring vir julle uit elke stam verstandige manne met insig en ervaring sodat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.’
14“Julle het my daarop geantwoord en gesê, ‘Wat u gesê het ons moet doen, is goed.’ 15Ek het toe julle stamhoofde geneem, verstandige manne met ervaring, en hulle as hoofde oor julle aangestel: •aanvoerders oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien, as opsieners oor julle stamme.
16“Ek het in daardie tyd julle regters opdrag gegee en gesê, ‘Luister na albei partye en gee 'n regverdige uitspraak tussen volksgenote, en ook tussen 'n volksgenoot en 'n •vreemdeling by hom. 17Moenie partydig wees in 'n regsaak nie. Luister na die onbelangrike persoon soos julle na die belangrike persoon sou luister. Moet julle nie deur 'n mens laat afdreig nie, want die regspraak is 'n saak van God. 'n Saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, dan sal ek dit verhoor.’ 18So het ek julle in daardie tyd beveel wat julle alles moet doen.
19“Ons het toe by Horeb kamp opgebreek en deur daardie groot en vreesaanjaende woestyn, wat julle self gesien het, getrek. Soos die Here ons God ons beveel het, het ons met die pad na die bergland van die Amoriete getrek en by Kades-Barnea uitgekom. 20Daar het ek vir julle gesê, ‘Julle het die bergland van die Amoriete bereik wat die Here ons God vir ons gaan gee. 21Kyk, die Here julle God bied die land vir julle aan. Trek op, neem dit in besit soos die Here, die God van julle voorouers, vir julle gesê het. Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie.’
22“Maar julle het almal na my gekom en gesê, ‘Ons wil manne voor ons uitstuur sodat hulle vir ons die land kan verken en aan ons verslag kan lewer oor die pad waarlangs ons moet optrek, en oor die stede waarby ons gaan uitkom.’ 23Ek het dit goed gevind en het toe twaalf van julle manne aangewys, een uit elke stam. 24Hulle het vertrek en in die bergland opgegaan. Hulle het tot by die Eskoldal gevorder, dit verken, 25van die vrugte van die land geneem en dit afgebring na ons toe. Hulle het aan ons verslag gelewer en gesê, ‘Dit is 'n goeie land wat die Here ons God vir ons gaan gee.’
26“Maar julle was nie bereid om op te trek nie. Julle was opstandig teen die bevel van die Here julle God 27en het in julle tente gesit en mor en gesê, ‘Dit is omdat die Here ons haat dat Hy ons uit Egipteland uitgelei het om ons in die hand van die Amoriete oor te gee en om ons uit te delg. 28Waar moet ons nou heen gaan? Ons volksgenote het ons laat moed verloor toe hulle gesê het dat daar mense is wat groter en langer is as ons, dat daar groot stede is wat hemelhoog versterk is en dat hulle selfs Enakiete daar gesien het.’
29“Ek het vir julle gesê, ‘Julle mag nie paniekerig raak nie en julle mag nie vir hulle bang wees nie. 30Die Here julle God wat voor julle uit gaan, Hy self sal vir julle veg net soos al die vorige kere toe Hy dit voor julle oë vir julle gedoen het in Egipte 31en in die woestyn. Daar het julle gesien dat die Here julle God julle die hele pad wat julle gekom het tot op hierdie plek dra, soos 'n man sy seuntjie dra.’
32“Ondanks dié versekering het julle geen vertroue gestel in die Here julle God nie, 33Hy wat voor julle uit gegaan het op die pad om telkens vir julle 'n plek uit te soek waar julle kon kamp en wat snags met die vuur en bedags met die wolk vir julle die pad gewys het waarlangs julle moes trek. 34Die Here het daardie woorde van julle duidelik gehoor en toornig geword. Hy het 'n eed gesweer en gesê, 35‘Niemand van hierdie manne, hierdie slegte geslag, sal die goeie land sien wat Ek plegtig beloof het om aan julle voorouers te gee nie, 36behalwe Kaleb, die seun van Jefunne. Hy sal die land sien en vir hom en sy kinders sal Ek die grond gee waarop hy geloop het, omdat hy volkome getrou gebly het aan My, die Here.’
37“Ook op my was die Here toornig deur julle toedoen. Hy het gesê, ‘Ook jy sal nie daar ingaan nie. 38Josua, die seun van Nun, wat in jou diens is, hy sal daar ingaan; hom moet julle ondersteun, want hy is die een wat Israel die land in besit sal laat neem. 39Julle klein kindertjies wat julle gedink het oorlogsbuit gaan word en julle groter kinders wat nou nog nie die verskil tussen goed en kwaad ken nie, hulle sal daar ingaan; vir hulle sal Ek dit gee, ja, hulle sal dit in besit neem. 40Maar wat julle betref: Draai weg, trek die woestyn in, in die rigting van die Rietsee.’
41“Julle het toe daarop geantwoord en vir my gesê, ‘Ons het teen die Here gesondig! Ons sal optrek en gaan veg net soos die Here ons God ons beveel het.’ Julle het toe ook elkeen sy oorlogswapens aangegord, omdat dit vir julle maklik gelyk het om in die bergland op te gaan. 42Maar die Here het vir my gesê, ‘Sê vir hulle: “Julle mag nie optrek nie en julle mag nie gaan oorlog maak nie, want Ek is nie in julle midde nie. Julle mag nie deur julle vyande verslaan word nie.” ’ 43Ek het dit vir julle gesê, maar julle wou nie luister nie. Julle was opstandig teen die bevel van die Here en het selfversekerd in die bergland opgetrek. 44Die Amoriete wat in daardie bergland woon, het uitgetrek om teen julle te veg. Hulle het julle gejaag soos 'n swerm bye 'n mens jaag en julle uitmekaar laat spat van Seïr af tot by Gorma. 45Nadat julle teruggekom het, het julle voor die Here gaan huil; maar Hy wou nie na julle gekerm luister nie en het nie aan julle aandag gegee nie. 46Julle het toe lank by Kades gebly – 'n baie lang tyd.”