Timoteus by Paulus
1Paulus het na Derbe gegaan, en toe na Listra. En kyk, daar was 'n dissipel met die naam Timoteus – die seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse pa. 2Hy was iemand oor wie die broers in Listra en Ikonium goeie getuienis gelewer het. 3Paulus wou Timoteus saam op reis neem, en het hom laat besny ter wille van die Jode wat in daardie streke gewoon het, omdat almal geweet het dat sy vader 'n Griek was. 4Soos hulle van stad tot stad gereis het, het hulle die voorskrifte waarop die •apostels en ouderlinge in Jerusalem besluit het, aan die gelowiges oorgedra om dit te onderhou. 5Sodoende is die •gemeentes in die geloof versterk en hulle het van dag tot dag in getal toegeneem.
Paulus se visioen in Troas
6Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. 7Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. 8Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. 9Daardie nag het Paulus 'n visioen gehad. 'n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” 10Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig.
Bekering van Lidia
11Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, 12en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. 13Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 14'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. 15Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.
Paulus en Silas in die tronk
16Terwyl ons 'n keer op pad was na die bidplek, het 'n slavin met 'n gees van waarsêery wat met haar voorspellings baie wins vir haar eienaars ingebring het, ons tegemoet gekom. 17Sy het agter Paulus en ons aan geloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle 'n weg tot verlossing!” 18Dit het sy dae aaneen gedoen. Paulus het daaroor ontsteld geraak, omgedraai en vir die gees gesê: “Ek gebied jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan!” En presies op daardie oomblik het die gees uitgegaan. 19Toe haar eienaars merk dat hulle hoop op 'n inkomste daarmee heen was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die markplein gesleep tot voor die owerhede; 20en nadat hulle hulle voorgebring het, het hulle vir die stadsbestuurders gesê: “Hierdie mense stook onrus in ons stad, want hulle is Jode 21en verkondig gebruike wat vir ons as Romeine nie toelaatbaar is om te aanvaar of na te volg nie.” 22Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. 23Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. 24In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem.
25Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. 26Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. 27Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. 28Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” 29Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. 30Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” 31En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” 32Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. 33En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. 34Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het.
35Teen dagbreek het die stadsbestuurders die geregsdienaars gestuur met die opdrag: “Laat daardie mense vry!” 36Die tronkbewaarder het die boodskap aan Paulus oorgedra: “Die stadsbestuurders het laat weet dat julle vrygelaat moet word. Kom dan nou uit en gaan in vrede!” 37Maar Paulus het die geregsdienaars geantwoord: “Hulle het ons sonder verhoor in die openbaar laat slaan en in die tronk laat gooi, alhoewel ons Romeinse burgers is, en nou wil hulle ons stilletjies uitgooi? Beslis nie! Laat hulle ons self kom uitlei.” 38Die geregsdienaars het hierdie boodskap aan die stadsbestuurders oorgedra. Toe hulle hoor dat Paulus en Silas Romeinse burgers is, het hulle bang geword. 39Hulle het hulle om verskoning kom vra, hulle uitgelei en versoek om die stad te verlaat. 40Toe hulle uit die tronk kom, het hulle na Lidia se huis gegaan. Daar het hulle die broers gesien, hulle moed ingepraat en vertrek.