Bedreiging van Jerusalem deur Sanherib
1Ná hierdie maatreëls en bewyse van trou het Sanherib, die koning van Assirië, gekom, Juda binnegeval en die versterkte stede onder beleg geplaas, met die gedagte om hulle vir homself te verower. 2Toe Hiskia sien dat Sanherib kom en dat sy doel oorlog teen Jerusalem was, 3het hy saam met sy •hoë amptenare en sy krygshelde besluit om die waterfonteine wat buite die stad was, te bedek. Hulle het hom gehelp. 4Baie mense het byeengekom en al die fonteine bedek, asook die stroom wat onder die grond vloei. Hulle het gesê: “Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind?” 5Hy het hom ingespan en die hele muur waarin 'n bres was, herbou en torings daarop aangebring, met 'n ekstra muur aan die buitekant. Hy het die terrasse in die Stad van Dawid herstel, en baie wapens gemaak, ook kleinskilde. 6Hy het militêre bevelvoerders oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeengebring. Hy het hulle bemoedig en gesê: 7“Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: 8By hom is 'n menslike mag, maar by ons is die Here ons God om ons te help en ons oorlog te voer.” Die manskappe is bemoedig deur die woorde van Hiskia, koning van Juda.
9Hierna het Sanherib, koning van Assirië, terwyl hy self by Lagis was met sy volle strydmag by hom, sy amptenare na Jerusalem gestuur, na Hiskia, koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, met die boodskap: 10“So sê Sanherib, die koning van Assirië, ‘Waarop vertrou julle, dat julle 'n beleëring afwag in Jerusalem? 11Mislei Hiskia julle nie om julle maar net aan die dood deur honger en dors oor te gee as hy sê “Die Here ons God sal ons red uit die greep van die koning van Assirië” nie? 12Is dit nie hy, Hiskia, wat God se offerhoogtes en altare verwyder het en vir Juda en Jerusalem gesê het “By net een altaar sal julle in aanbidding buig en daarop offers verbrand” nie? 13Weet julle nie wat ek, ek en my voorvaders aan al die volke van lande gedoen het nie? Was die gode van die nasies van die lande enigsins in staat om hulle lande uit my hand te red? 14Wie onder al die gode van daardie nasies, wat my voorvaders aan volledige vernietiging oorgegee het, was in staat om sy volk uit my hand te red? Ja, sou julle God dan in staat wees om julle uit my hand te red? 15Moet dan nou nie dat Hiskia julle bedrieg en julle op hierdie manier mislei nie. Moet hom nie glo nie, want geen god van enige nasie of koninkryk kon sy volk red uit my hand, of uit die hand van my voorvaders nie. Hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan red?’ ”
16Sanherib se amptenare het nog meer te sê gehad teen die Here God, en teen sy dienskneg Hiskia. 17Sanherib het selfs briewe geskryf om die Here, die God van Israel, uit te tart deur oor Hom te sê: “Net soos die gode van die nasies van die lande hulle mense nie uit my hand kon red nie, net so sal die God van Hiskia nie sy volk uit my hand red nie.” 18Hulle het dit in Judees uitgeskreeu vir die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om hulle bang te maak en hulle te verskrik, sodat hulle die stad kon inneem. 19Hulle het gepraat oor die God van Jerusalem soos oor die gode van die volke van die aarde, wat maar net 'n maaksel van mensehande is.
20Koning Hiskia en die profeet Jesaja, seun van Amos, het hieroor gebid en na die hemel om hulp geroep. 21Toe stuur die Here 'n •engel, en dié het elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis. Hy het beskaamd na sy land teruggekeer. Toe hy in die huis van sy god kom, het sy eie seuns hom daar met die swaard neergevel.
22Die Here het Hiskia en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sanherib, koning van Assirië, ja, uit almal se hand. Hy het vir hulle aan alle kante rus gegee. 23Baie mense het voortdurend vir die Here offers na Jerusalem gebring, ook kosbaarhede vir Hiskia, koning van Juda. Hy het ná hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies.
Hiskia se verdere lewe en dood
24In daardie dae het Hiskia tot die dood toe siek geword. Toe hy tot die Here gebid het, het Hy hom geantwoord en vir hom 'n teken gegee. 25Omdat Hiskia se hart egter hoogmoedig geraak het, het hy nie in ooreenstemming met die weldaad teenoor hom gereageer nie. Toe het 'n oordeel uit toorn teen hom en teen Juda en Jerusalem losgebreek. 26Maar Hiskia het hom verootmoedig oor die hoogmoed van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die oordeel uit toorn van die Here in die dae van Hiskia nie teen hulle voortgeduur het nie.
27Hiskia het baie groot rykdom en eer verwerf, en skatkamers vir silwer, goud, edelstene, speserye, kleinskilde en allerlei kosbaarhede vir hom opgerig, 28asook voorraadkamers vir die opbrengs van koring, •nuwe wyn en olie, en stalle vir elke soort grootvee, en stalle vir kleinvee. 29Hy het vir hom dorpe aangelê en 'n groot hoeveelheid kleinvee en beeste verkry – ja, God het vir hom besonder baie besittings gegee.
30Dit was Hiskia wat die boonste uitloop van die water van die Gihon bedek en dit ondergronds direk wes na die Stad van Dawid gelei het. Hiskia was suksesvol in alles wat hy aangepak het. 31Dit was ook so met die gesante van die •hoë amptenare van Babel, wat na hom gestuur is om ondersoek te doen na die teken wat daar in die land was. God het hom verlaat om hom te toets, om te weet wat alles in sy hart aangaan.
32Die verdere geskiedenis van Hiskia en sy dade van trou, kyk, dit is opgeteken in die openbaring van die profeet Jesaja, seun van Amos, in die boekrol van die konings van Juda en Israel. 33Hiskia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom begrawe teen die skuinste by die grafte van die nageslag van Dawid. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het besondere eer aan hom bewys met sy dood. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.