Jehoas koning van Juda
1Jehoas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sibja, uit Berseba. 2Jehoas het gedoen wat reg is in die oë van die Here solank as wat die priester Jojada geleef het. 3Jojada het vir Jehoas twee vroue gekies, en hy het seuns en dogters verwek.
4'n Tyd daarna het Jehoas hom voorgeneem om die huis van die Here op te knap. 5Hy het die priesters en Leviete byeengebring en vir hulle gesê: “Gaan uit na die dorpe van Juda en samel geld in by die hele Israel vir die jaarlikse herstelwerk aan die huis van julle God. Julle moet die saak vinnig afhandel.” Die Leviete het egter nie vinnig opgetree nie. 6Die koning ontbied toe die hoëpriester Jojada, en sê vir hom: “Waarom het jy nie by die Leviete daarop aangedring om uit Juda en Jerusalem die heffing vir die tent met die Getuienis in te vorder nie, soos ingestel deur Moses, die dienskneg van die Here, en deur die geloofsgemeenskap van Israel? 7Want die goddelose Atalia – dit was haar seuns wat by die huis van God ingebreek en selfs al die •heilige gawes van die huis van die Here vir die Baäls gebruik het.”
8Die koning het toe opdrag gegee, en hulle het 'n kis gemaak en dit buite by die poort van die huis van die Here neergesit. 9'n Oproep is in Juda en Jerusalem gemaak om vir die Here die heffing te bring wat Moses, die dienskneg van God, Israel in die woestyn opgelê het. 10Al die leiers en die hele volk was verheug. Hulle het dit gebring en in die kis gegooi, totdat dit vol was. 11Telkens wanneer die kis, onder beheer van die Leviete, na die toesighouer van die koning gebring is, en hulle sien dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en die verteenwoordiger van die hoëpriester gekom, die kis leeggemaak, dit opgetel en weer teruggeneem na sy plek. So het hulle dag ná dag gemaak en baie geld ingesamel.
12Die koning en Jojada het dit gegee aan hulle wat die dienswerk in die huis van die Here moes uitvoer. Hulle het dan klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die Here op te knap, ook bewerkers van yster en brons, om die huis van die Here te herstel. 13Die werksmanne het gewerk, en die herstelwerk het in hulle hande goed gevorder. Hulle het die huis van God opgebou tot sy oorspronklike ontwerp en dit versterk.
14Toe hulle klaar was met die werk, het hulle die res van die geld voor die koning en Jojada gebring. Hy het daarvan gereedskap gemaak vir die huis van die Here: gereedskap vir die dienswerk en die •brandoffers, bakke en ander goue en silwergereedskap. Hulle het gereeld brandoffers gebring in die huis van die Here, solank Jojada geleef het.
15Jojada het oud geword, en ná 'n vol lewe het hy gesterf. Hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het. 16Hulle het hom begrawe in die Stad van Dawid, by die konings, omdat hy goed gedoen het in Israel, ook met betrekking tot God en sy •tempel.
17Ná die dood van Jojada het die leiers van Juda gekom en diep voor die koning neergebuig; toe het die koning na hulle geluister. 18Hulle het die huis van die Here, die God van hulle voorouers, verlaat, en die asjeras en afgodsbeelde gedien. Toe het 'n oordeel uit toorn Juda en Jerusalem getref oor hierdie skuldlas van hulle. 19Die Here het profete onder hulle ingestuur om hulle na Hom te laat terugkeer. Die profete het hulle tereggewys, maar hulle het nie geluister nie. 20Die Gees van God het toe van Sagaria, seun van die priester Jojada, besit geneem. Hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God, ‘Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat.’ ” 21Hulle het egter 'n komplot teen Sagaria gesmee en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here. 22Koning Jehoas het nie die troue liefde onthou wat Sagaria se vader, Jojada, aan hom betoon het nie, en het sy seun vermoor. Toe hy sterf, het hy gesê: “Mag die Here dit sien en rekenskap eis.”
23Teen die wending van die jaar het die leër van die Arameërs teen hom opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die bevelvoerders van die volk uit die geledere van die volk uitgewis, en al die buit wat hulle gemaak het, na die koning van Damaskus gestuur. 24Alhoewel die leër van die Arameërs met 'n klein getal manne gekom het, het die Here 'n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat Juda die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het. Hulle het die straf oor Jehoas voltrek. 25Toe hulle van hom weggetrek het – ja, hulle het hom ernstig gewond agtergelaat – het sy amptenare teen hom 'n komplot gesmee oor die bloed van die seun van Jojada, die priester. Hulle het hom op sy bed om die lewe gebring – so het hy gesterf. Hy is in die Stad van Dawid begrawe, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie.
26Dit was die manne wat teen hom 'n komplot gesmee het: Sabad, seun van Simeat die Ammoniet, en Josabad, seun van Simriet die Moabiet. 27Wat sy nageslag betref, die talle profesieë teen hom, en die instandhouding van die huis van God, kyk, dit is opgeteken in die aantekeninge in die boekrol van die konings. Sy seun Amasia het in sy plek koning geword.