1Josafat het rykdom en aansien in oorvloed verwerf, en toe het hy Agab se aangetroude familie geword. 2Ná 'n paar jaar het hy na Agab in Samaria afgegaan. Agab het vir hom en die manskappe by hom kleinvee en beeste in oorvloed geslag, en hom mislei om teen Ramot in Gilead op te trek. 3Agab, die koning van Israel, vra toe vir Josafat, die koning van Juda: “Sal jy saam met my na Ramot in Gilead gaan?” Josafat het hom geantwoord: “Ek is soos jy, en my manskappe is asof dit jou manskappe is, saam met jou in die stryd.” 4Josafat sê toe vir die koning van Israel: “Raadpleeg net eers die woord van die Here.”
5Die koning van Israel het toe die profete, vierhonderd man, byeengebring en vir hulle gevra: “Moet ons na Ramot in Gilead optrek vir die geveg, of moet ek daarvan afsien?” Hulle antwoord was: “Trek op! God sal dit in die hand van die koning gee.” 6Toe vra Josafat: “Is hier nie nog 'n profeet van die Here nie, sodat ons deur hom die Here kan raadpleeg?” 7Die koning van Israel het Josafat geantwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg. Maar ek, ek het 'n weersin in hom, want hy profeteer niks goeds oor my nie, net altyd onheil. Dit is Miga, seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so sê nie.” 8Die koning van Israel ontbied toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga, seun van Jimla.”
9Terwyl die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, elkeen op sy troon gesit het, geklee in koninklike drag, op 'n dorsvloer by die ingang van die stadspoort van Samaria, het al die profete voor hulle vurig geprofeteer. 10Sedekia, seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: “So sê die Here, ‘Hiermee gaan u die Arameërs gaffel totdat hulle vernietig is.’ ” 11Al die ander profete was besig om dieselfde te profeteer en het gesê: “As u optrek na Ramot in Gilead, sal u sukses behaal. Die Here sal dit in die hand van die koning gee.”
12Die boodskapper wat gegaan het om Miga te ontbied, het vir hom gesê: “Kyk, die woorde van die profete is, asof uit een mond, gunstig vir die koning. Laat jou woorde asseblief wees soos een van hulle se woorde. Voorspel iets goeds!” 13Maar Miga het geantwoord: “So waar as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek oordra.”
14Toe hy by die koning aankom, sê die koning vir hom: “Miga, moet ons na Ramot in Gilead gaan vir die geveg of moet ek daarvan afsien?” Hy antwoord hom toe: “As julle optrek, sal julle sukses behaal. Hulle sal in julle hand gegee word.” 15Daarop sê die koning vir hom: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy in die Naam van die Here met my niks anders as die waarheid sal praat nie?”
16Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel gesien, uitmekaar gedryf op die berge soos 'n kudde wat nie 'n herder het nie. Die Here het gesê, ‘Hierdie mense het geen gesagvoerder nie. Laat elkeen van hulle in vrede terugkeer na sy huis.’ ” 17Daarop sê die koning van Israel vir Josafat: “Het ek dit nie vir jou gesê nie? Hy profeteer oor my niks goeds nie, net onheil.” 18Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die Here! Ek het die Here sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. 19Toe sê die Here, ‘Wie sal Agab, die koning van Israel, mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ ”
Verder sê Miga: “Die een het dit voorgestel en die ander dat. 20'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die Here en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die Here vir hom, ‘Hoe?’ 21Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die Here, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ 22Daarom, kyk, die Here het 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u geplaas. Die Here self het onheil teen u gelas.”
23Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Op watter manier het die Gees van die Here dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” 24Maar Miga het gesê: “Kyk, jy gaan dit ervaar op daardie dag wanneer jy van een binnekamer na die ander gaan om weg te kruip.”
25Toe sê die koning van Israel: “Neem Miga en laat hom teruggaan na Amon, die stadsbestuurder, en Joas, die seun van die koning, 26en sê, ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis, en gee hom 'n karige rantsoen brood en water totdat ek ongedeerd terugkom.” ’ ” 27Maar Miga het gesê: “As u wel ongedeerd terugkom, het die Here nie deur my gespreek nie.” Hy sê toe ook nog: “Mense, luister, almal van julle!”
28Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. 29Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan.
30Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” 31Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep, en die Here het hom te hulp gekom. God het hulle van hom af weggelok. 32En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai.
33Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” 34Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning van Israel het hom teenoor die Arameërs tot die aand toe staande gehou op sy strydwa. Teen sononder het hy gesterf.