Oorloë teen die Ammoniete en Arameërs
1'n Tyd daarna het Nagas, die koning van die Ammoniete, gesterf, en sy seun het in sy plek koning geword. 2Dawid sê toe: “Ek wil welwillendheid betoon teenoor Ganun, seun van Nagas, omdat sy vader teenoor my welwillendheid betoon het.” Dawid stuur toe boodskappers om met hom meegevoel te betuig oor sy vader. Toe Dawid se amptenare in die land van die Ammoniete kom om met Ganun meegevoel te betuig, 3sê die •hoë amptenare van die Ammoniete vir Ganun: “Eer Dawid u vader, volgens u mening, omdat hy mense na u stuur wat meegevoel betuig? Is dit nie met die doel om inligting in te win en omver te werp nie? Sy amptenare het net na u gekom om die land te verken.”
4Ganun het toe Dawid se amptenare gevat en hulle kaal geskeer. Hy het hulle klere in die helfte afgesny, tot by die sitvlak, en hulle toe weggestuur. 5Nadat hulle vertrek het en daar aan Dawid berig gebring is oor die manne, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet, want die manne was verskriklik verneder. Die koning het gesê: “Bly in Jerigo totdat julle baarde gegroei het, en kom dan terug.”
6Toe die Ammoniete besef dat hulle hulleself veragtelik gemaak het by Dawid, het Ganun en die Ammoniete 'n duisend kikkar silwer gestuur om vir hulle strydwaens en spanne perde te huur in Aram-Naharajim, en by die Arameërs van Maäga en Soba. 7Hulle het vir hulle twee-en-dertigduisend strydwaens, asook die koning van Maäga en sy manskappe, gehuur. Hulle het gekom en voor Medeba kamp opgeslaan. Ook die Ammoniete het uit hulle dorpe byeengekom en gekom om te veg.
8Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met 'n hele leër heldhaftiges uitgestuur. 9Die Ammoniete het uitgetrek en gevegslinies by die ingang na die stad opgestel. Die konings wat gekom het, was egter op hulle eie in die veld. 10Toe Joab sien dat daar gevegslinies voor en agter hom is, het hy 'n keuse gemaak uit al die keurtroepe in Israel en hulle teenoor die Arameërs opgestel. 11Die res van die manskappe het hy geplaas onder bevel van Abisai, sy broer, en hulle teenoor die Ammoniete opgestel. 12Hy het gesê: “As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die Ammoniete vir jou te sterk word, sal ek jou help. 13Wees dapper en laat ons ons inspan ter wille van ons mense en die dorpe van ons God. En die Here – wat goed is in sy oë, sal Hy doen.”
14Toe het Joab en die manskappe by hom nader gegaan vir die geveg teen die Arameërs, maar hulle het voor hom uit gevlug. 15Die Ammoniete het gesien dat die Arameërs vlug. Toe het ook hulle voor sy broer Abisai uit gevlug en die stad binnegegaan. Joab het toe maar na Jerusalem gegaan.
16Toe die Arameërs sien dat hulle deur Israel verslaan is, het hulle boodskappers uitgestuur en die Arameërs wat anderkant die Rivier was, laat optrek. Sofak, die bevelvoerder van die leër van Hadad-Eser, was op die voorpunt. 17Toe Dawid die berig kry, het hy die hele Israel byeengebring, die Jordaan oorgesteek, by die Arameërs aangekom, en gevegslinies teen hulle opgestel. Dawid het die linies teenoor die Arameërs opgestel vir die geveg, en hulle het teen hom geveg. 18Maar die Arameërs het op die vlug geslaan voor Israel. Dawid het van die Arameërs seweduisend trekperde en veertigduisend van die voetsoldate doodgemaak. Sofak, die •aanvoerder van die leër, het hy ook doodgemaak. 19Die dienaars van Hadad-Eser het gesien dat hulle deur Israel verslaan is, en het met Dawid vrede gesluit en sy dienaars geword. Die Arameërs was nie gewillig om weer die Ammoniete te help nie.