Die oorlog teen die koning van Arad
1Die koning van Arad, 'n Kanaäniet, het in die Suid-land gewoon. Toe hy hoor dat die Israeliete aankom op die pad na Atarim, het hy oorlog gemaak teen hulle, en party van hulle het sy gevangenes geword. 2Die Israeliete het 'n gelofte gemaak. Hulle het aan die Here belowe en gesê: “As U ons laat wen teen hierdie mense, dan sal ons hulle stede heeltemal verwoes.” 3Die Here het gedoen wat die Israeliete gevra het, Hy het hulle laat wen teen die Kanaäniete. Die Israeliete het die Kanaäniete almal doodgemaak en hulle stede heeltemal verwoes. Hulle het daardie plek toe Gorma genoem.
Die slange en die slang van brons
4Die Israeliete het van Hor-berg verder gegaan op die pad na die Riet-see. Hulle wou óm die land Edom gaan. Maar die mense het moeg geword op die pad 5en hulle het teen God en Moses gepraat en gekla. Hulle het gesê: “Hoekom het julle ons uit Egipte gebring om in die woestyn te sterf? Want hier is nie kos en water nie, en ons is moeg vir hierdie slegte kos.”
6Toe het die Here slange gestuur wat vlerke het. Die slange het die mense gepik, en baie Israeliete het gesterf. 7Die mense het na Moses toe gekom en gesê: “Ons het sonde gedoen, want ons het teen die Here en teen jou gepraat. Jy moet tot die Here bid en jy moet vra dat Hy die slange moet wegneem van ons.”
Moses het toe gebid soos die volk gevra het, 8en die Here het vir hom gesê: “Jy moet 'n slang maak wat vlerke het en jy moet die slang vasmaak aan 'n vlagpaal. As 'n slang iemand gepik het, dan moet daardie persoon na die slang op die paal kyk, en dan sal die persoon nie sterf nie.”
9Moses het 'n slang van brons gemaak en hy het die slang vasgemaak aan 'n vlagpaal. Wanneer 'n slang iemand gepik het, en die persoon kyk na die slang van brons, dan het hy nie gesterf nie.
Die pad na die land Moab
10Die Israeliete het verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan by Obot. 11Hulle het van Obot verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan by Ije-Abarim, naby die land Moab, by die oostekant. 12Hulle het van daar verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan in die Sered-vallei. 13Hulle het van daar verder gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan langs die Arnon-rivier wat uit die Amoriete se land deur die woestyn vloei. Die Arnon-rivier is die grens tussen die land Moab en die land van die Amoriete. 14Dit is hoekom daar in die Boek van die Oorloë van die Here geskryf is:
“By Waheb in Sufa,
en by die valleie,
by die Arnon-rivier,
15en by die veld tot onder
in die valleie,
tot waar die stad Ar is,
langs die land Moab.”
16Die Israeliete het van daar verder gegaan na die put Beër. Die Here het voorheen met Moses van hierdie put gepraat toe Hy gesê het: “Maak die volk bymekaar sodat Ek vir hulle water uit die put kan gee.”
17Daardie tyd het die Israeliete hierdie lied gesing:
“Put, jy moet vol water word,
hulle moet vir jou sing.
18Dit is leiers wat hierdie put
gegrawe het,
die belangrike mense
van die volk
het jou gegrawe
met hulle septers
en hulle kieries.”
Die Israeliete het uit die woestyn na Mattana gegaan, 19van Mattana na Nagaliël, van Nagaliël na Bamot, 20en van Bamot na die vallei wat in die land Moab is, naby die boonste punt van Pisga-berg. Van daar kyk 'n mens af na die droëland.
Die Israeliete oorwin koning Sihon
21Die Israeliete het boodskappers gestuur na Sihon, koning van die Amoriete, en hulle het vir hom gevra: 22“Ons wil deur jou land gaan. Ons sal nie wegdraai na die koringlande of die wingerde nie en ons sal nie water drink uit die putte nie. Ons sal op die Koningspad bly, totdat ons deur jou land is.”
23Maar Sihon wou nie hê dat die Israeliete deur sy land moet gaan nie. Hy het al sy manne bymekaargeroep en hulle het gegaan om die Israeliete in die woestyn te ontmoet. Toe hy by die stad Jahas kom, het hy oorlog begin maak teen die Israeliete. 24Maar die Israeliete het hard geveg en hulle het hom oorwin. Hulle het sy land gevat van die Arnon-rivier tot by die Jabbok-rivier en tot teen die land van die Ammoniete, want die Ammoniete op die grens was baie sterk. 25Die Israeliete het al daardie stede gevat en hulle het in die Amoriete se stede gaan woon, in Gesbon en al die dorpe daar naby. 26Gesbon was die stad van Sihon, koning van die Amoriete. Hy het oorlog gemaak teen die eerste koning van Moab en hy het sy hele land gevat, tot by die Arnon-rivier. 27Dit is hoekom hulle hierdie lied sing:
“Kom na Gesbon, bou dit,
bou die stad van Sihon,
28want daar het 'n vuur
uit Gesbon gekom,
'n vlam uit die stad
van koning Sihon.
Die vuur het die mense
van die stad Ar-Moab
verbrand,
die mense aan wie
die hoë plekke by
die Arnon-rivier behoort.
29Moab, dit sal sleg gaan
met jou.
Volk van Kemos,
julle sal sterf.
Jou seuns vlug,
jou dogters is gevangenes
van Sihon, die koning
van die Amoriete.
30Ons het hulle geskiet.
Die mense het gesterf
van die stad Gesbon
tot by die stad Dibon.
Ons het hulle verwoes
tot by die stad Nofag
naby die stad Medeba.”
31Die Israeliete het gaan woon in die land van die Amoriete. 32Moses het spioene na die stad Jaser gestuur, en die Israeliete het die dorpe naby die stad oorwin. Hulle het die Amoriete wat daar was, weggejaag.
Die Israeliete oorwin koning Og van Basan
33Die Israeliete het weggedraai en hulle het op die pad na die land Basan gegaan. Koning Og van Basan het gekom om hulle te ontmoet, hy en al sy manne het gekom. Hy wou oorlog maak teen hulle by die stad Edreï. 34Die Here het vir Moses gesê: “Jy moenie bang wees vir koning Og nie. Ek sal jou laat wen teen hom en al sy manne en sy land. Jy moet doen met hom wat jy gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.”
35Die Israeliete het Og en al sy manne oorwin. Nie een het aangehou lewe nie. Die Israeliete het sy land gevat.