Koring-offers en drank-offers
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom wat Ek vir julle gee om in te woon, 3en een van julle wil vir My 'n vuur-offer gee wat vir My lekker ruik, 'n bees of 'n bok of 'n skaap om 'n brand-offer te wees, of 'n gelofte-offer, of 'n offer wat hy graag wil bring, of 'n offer op een van julle feeste, 4dan moet hy saam met sy offer ook 'n koring-offer gee. Die koring-offer moet 'n tiende wees van 'n efa van die beste meel wat julle meng met 'n kwart hin olyf-olie. 5Saam met elke skaap-lam wat 'n brand-offer of 'n ander offer is, moet jy ook 'n kwart hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. 6Of wanneer iemand 'n skaap-ram offer, dan moet hy ook 'n koring-offer gee van twee tiendes van 'n efa van die beste meel wat hy meng met 'n derde hin olyf-olie, 7en hy moet 'n derde hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. Dit moet 'n offer wees wat lekker ruik vir My. 8En wanneer iemand 'n bul gee om 'n brand-offer te wees, of 'n gelofte-offer, of 'n ete-offer vir My, 9dan moet hy saam met die bul ook 'n koring-offer gee van drie tiendes van 'n efa van die beste meel wat hy meng met 'n halwe hin olyf-olie 10en hy moet ook 'n halwe hin wyn gee om 'n drank-offer te wees. Dit moet 'n vuur-offer wees wat lekker ruik vir My. 11Julle moet dit doen saam met elke bul of skaap-ram, elke skaap-lam of bok-lam wat julle offer. 12Julle moet dit doen saam met elke dier wat julle offer. 13Elke Israeliet moet dit doen wanneer hy vir My 'n vuur-offer gee wat lekker moet ruik vir My. 14En wanneer daar by julle of julle nageslag vreemdelinge of ander mense woon, en een van hulle wil vir My 'n vuur-offer gee wat lekker ruik vir My, dan moet hy doen soos julle doen. 15Die volksvergadering moet altyd dieselfde wet gebruik vir julle en vir die vreemdelinge wat by julle of julle nageslag woon, julle en die vreemdelinge is dieselfde vir My. 16Julle en die vreemdelinge wat by julle woon, moet almal doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit.”
Die offer van die eerste deeg
17Die Here het vir Moses gesê: 18“Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer julle in die land kom waarnatoe Ek julle bring, 19en julle eet van die kos wat die land vir julle gee, dan moet julle vir My 'n deel van die kos gee. 20Julle moet vir My 'n rondebrood gee van die eerste deeg wat julle knie. Julle moet dit gee om 'n offer van die dorsvloer te wees. 21Julle en julle nageslag moet altyd vir My 'n offer gee van die eerste deeg wat julle knie.”
Die sonde-offer wanneer mense foute maak
22Die Here het ook vir Moses gesê: “Wat moet julle doen wanneer julle 'n fout maak en julle doen nie alles wat Ek vir Moses gesê het nie? 23Ek het vir Moses gesê om alles vir julle te sê, en dit bly waar van die dag toe Ek dit gesê het tot die tyd van julle nageslag. 24Wanneer julle 'n fout gemaak het, maar die volksvergadering het nie geweet dat dit 'n fout is nie, dan moet die hele vergadering 'n bul gee om 'n brand-offer te wees wat vir My lekker ruik. Hulle moet dit gee saam met die koring-offer en die drank-offer wat hulle saam met die brand-offer moet bring, en ook 'n bok-ram om 'n sonde-offer te wees. 25Die priester doen dan versoening vir die hele vergadering van die Israeliete, en Ek sal hulle vergewe, want dit was 'n fout, maar hulle het hulle offers gegee, die vuur-offer vir My, en ook die sonde-offer vir die fout wat hulle gemaak het. 26Ek sal die hele vergadering van die Israeliete vergewe en ook die vreemdelinge wat tussen hulle woon, want dit is al die mense van die volk wat die fout gemaak het.
27“Wanneer een persoon 'n fout maak, dan moet hy 'n jaaroud bok-ooi gee om 'n sonde-offer te wees. 28Die priester doen dan versoening vir die persoon wat die fout gemaak het. Die persoon het 'n fout gemaak en hy het sonde gedoen teen My, en die priester moet versoening doen vir hom, sodat Ek hom kan vergewe. 29Daar moet dieselfde wet wees vir Israeliete en vir die vreemdelinge wat by hulle woon, dit moet dieselfde wet wees vir al die mense wat foute maak.”
Wanneer iemand weet dat hy verkeerd doen, maar hy doen dit
30Die Here het ook gesê: “Maar wanneer 'n Israeliet of 'n vreemdeling 'n fout maak, en hy weet dat hy verkeerd doen, maar hy doen dit, dan wys hy dat Ek nie vir hom belangrik is nie, en dan moet julle hom afsny van die volk. 31Hy het gewys dat die dinge wat Ek sê, nie vir hom belangrik is nie, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie, en julle moet hom afsny, dit is sy eie skuld.”
Wanneer iemand die Sabbatdag ontwy
32Toe die Israeliete in die woestyn was, het hulle op die Sabbatdag iemand gekry wat hout bymekaarmaak. 33Die mense wat hom gekry het toe hy die hout bymekaargemaak het, het hom na Moses en Aäron en die hele volksvergadering gebring. 34Hulle het nie geweet wat hulle moet doen met hom nie, en hulle het hom by hulle gehou. 35Die Here het toe vir Moses gesê: “Die man moet sterf, dit is seker. Die hele volksvergadering moet hom buite die kamp doodgooi met klippe.”
36Die hele vergadering het hom uit die kamp geneem en hulle het hom doodgegooi met klippe. Hy het gesterf soos die Here vir Moses gesê het.
Die Israeliete moet tossels aan hulle klere dra
37Die Here het vir Moses gesê: 38“Jy moet vir die Israeliete sê dat hulle en hulle nageslag tossels aan die hoeke van hulle bo-klere moet sit, en hulle moet 'n blou toutjie vasmaak aan die tossels op elke hoek. 39Julle moet die tossels hê, want wanneer julle die tossels sien, dan sal julle alles onthou wat Ek gesê het en julle sal dit doen. Dan sal julle nie doen wat julle self graag wil doen nie en julle sal nie ontrou word aan My nie. 40Julle sal alles onthou wat Ek vir julle gesê het en julle sal dit doen en julle sal gewy wees aan My, julle God. 41Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het sodat Ek julle God kan wees. Ek is julle God die Here.”