Job vervloek die dag toe hy gebore is
1Ná die sewe dae het Job begin praat. Hy het die dag vervloek toe hy gebore is. 2Job het gesê:
3“Ek wens die dag was nooit daar nie,
die dag toe ek gebore is.
Ek wens die nag was nooit daar nie,
die nag toe iemand gesê het
daar is 'n seun gebore.
4Ek wens daardie dag het donker gebly,
God daarbo moes nie daardie dag vir my gegee het nie,
daar moes nie lig geskyn het op daardie dag nie.
5Daardie dag moes donker gebly het, baie donker,
wolke moes dit toegemaak het,
die son moes donker gebly het.
6Daardie nag moes donker gebly het,
dit moes nie een van die dae van die jaar geword het nie,
dit moes nie een van die dae in 'n maand geword het nie.
7Daardie nag moes die laaste nag gewees het,
niemand moes toe bly gewees het nie.
8Die mense wat dae vervloek,
die mense wat weet hoe om die Leviatan
wakker te maak,
hulle moes ook daardie dag vervloek het.
9Die sterre wat vroeg die oggend begin skyn het,
moes donker gebly het.
Dit moes nie lig geword het toe die nag gewag het
vir die lig van die vroeë oggend nie.
10Hoekom?
Want die nag het nie gekeer
dat ek gebore word
en begin het om swaar te kry nie.
11Hoekom het ek nie gesterf voordat ek
gebore is nie?
Of hoekom het ek nie dadelik gesterf
nadat ek gebore is nie?
12Hoekom het my ma my op haar knieë gesit
en my laat drink?
13As dit nie gebeur het nie,
dan het ek stil in die graf gelê,
dan het ek geslaap en gerus
14saam met die konings
en die slim mense van die aarde,
die mense wat vir hulleself
stede gebou het van hope klippe.
15Dan het ek geslaap en gerus
saam met die belangrike mense
wat goud en huise vol silwer
gehad het,
16of ek sou glad nie daar gewees het nie,
soos 'n baba wat doodgebore is
en wat iemand weggesteek het,
soos 'n kind wat nooit die lig gesien het nie.
17Daar in die doderyk
kan die mense wat verkeerd doen,
nie meer probleme maak nie,
daar rus almal wat moeg is.
18Daar kan die gevangenes rustig
en stil wees,
die voormanne raas nie meer met hulle nie.
19Daar is kinders en grootmense saam,
en slawe is daar vry van hulle eienaars.
20Hoekom het God lig gegee vir iemand
wat net swaarkry?
Hoekom het Hy iemand laat lewe
wat altyd ongelukkig is,
21iemand wat wens dat hy sterf,
maar die dood kom nie?
Hoekom laat God iemand lewe wat graag wil sterf
en wat nie wil soek na kosbare goed nie,
22iemand wat baie bly sal wees
wanneer hy in die graf kan gaan lê?
23Hoekom laat God iemand lewe
wat nie weet wat met hom sal gebeur nie
omdat God hom afgesny het van alles?
24Ek kan nie eet nie,
ek hou aan om te sug en te kla,
25want ek was bang vir baie dinge,
en dit alles het gebeur met my.
26Ek kan nie stil en rustig wees nie,
ek kan nie rus nie, ek hou aan
om bekommerd te wees.”