Benjamin gaan saam na Egipte
1Daar was nie kos in Kanaän nie. 2Die koring wat Jakob se seuns in Egipte gaan koop het, het ook alles opgeraak. Hulle pa het vir hulle gesê: “Julle moet teruggaan en julle moet kos vir ons gaan koop.”
3Juda sê toe vir hom: “Die man het baie duidelik vir ons gewaarsku en gesê: ‘Julle mag nie weer hier kom as julle broer nie saam met julle kom nie.’ 4As Pa vir Benjamin saam met ons laat gaan, dan sal ons na Egipte gaan en vir Pa kos gaan koop. 5Maar as Pa hom nie laat saamgaan nie, dan sal ons nie gaan nie, want die man het vir ons gesê ons mag nie terugkom as ons broer nie by ons is nie.”
6Toe vra Jakob: “Hoekom het julle vir my hierdie probleme gemaak? Hoekom het julle vir die man vertel dat julle nog 'n broer het?”
7Hulle het gesê: “Die man het ons uitgevra oor onsself en oor ons familie. Hy het gevra of ons pa nog lewe en of ons nog 'n broer het. Ons het hom net vertel wat hy gevra het. Ons het nie geweet hy sou sê ons moet ons broer saambring nie.”
8Juda het vir sy pa Jakob gesê: “Laat die seun saam met my gaan en laat ons gereedmaak en gaan, sodat ons en Pa en ons familie kan lewe en nie sterf van die honger nie. 9Ek sal seker maak dat hy veilig is. Ek belowe dat ek vir Benjamin sal oppas. As ek hom nie terugbring sodat hy hier voor Pa kom staan nie, dan sal ek altyd skuldig wees by Pa. 10As ons nie so lank gewag het nie, dan kon ons nou al twee maal daarnatoe gegaan het en teruggekom het.”
11Hulle pa Jakob sê toe vir hulle: “As dit dan so moet wees, dan moet julle dit doen. Neem presente, die beste van ons land, in julle sakke saam en gee dit vir die man. Gee vir hom 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, 'n bietjie gom, 'n bietjie hars, 'n bietjie neute en amandels. 12Neem twee maal soveel geld saam, neem ook die geld terug wat bo in julle sakke was. Miskien was dit 'n fout. 13Neem julle broer en gaan terug na daardie man toe. 14Ek bid dat God die Almagtige sal help dat die man vriendelik met julle sal wees. Ek bid dat hy julle broer Simeon en ook vir Benjamin sal laat terugkom saam met julle. Ek is bang ek verloor al my seuns.”
15Die broers het toe die presente geneem en ook twee maal meer geld as die eerste maal. Hulle het vir Benjamin saamgeneem. Hulle het na Egipte gegaan en voor Josef gaan staan. 16Toe Josef vir Benjamin by hulle sien, het hy vir die bestuurder van sy huis gesê: “Bring die manne na my huis. Slag 'n bees en maak kos gaar, want hulle sal vanmiddag saam met my eet.”
17Die man het gedoen wat Josef gesê het en hy het Josef se broers na Josef se huis geneem. 18Die broers het bang geword toe hy hulle na Josef se huis neem. Hulle het gesê: “Dit is oor die geld wat die eerste maal in ons sakke was. Hulle bring ons hiernatoe om ons te vang en in die tronk toe te sluit. Ons sal hulle slawe word en hulle sal ons donkies vat.”
19Hulle het toe gaan praat met die man wat die bestuurder was van Josef se huis. Hulle het vir hom gesê: 20“Asseblief, Meneer, ons het voorheen hiernatoe gekom om koring te koop. 21Toe ons by die plek kom waar ons wou slaap, het ons ons sakke oopgemaak, en toe sien ons elkeen se geld is bo in sy sak. Die geld was dieselfde soos wat ons betaal het. Nou het ons die geld teruggebring. 22Ons het ook ander geld saamgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld teruggesit het in ons sakke nie.”
23Die bestuurder van die huis sê toe: “Julle moenie bekommerd of bang wees nie. Julle God en julle pa se God het vir julle geld in julle sakke gegee. Ek het die geld gekry wat julle betaal het.”
Hy bring toe vir Simeon na hulle toe.
24Die bestuurder het die broers na Josef se huis geneem. Hy het vir hulle water gegee om hulle voete te was en hy het vir hulle donkies kos gegee. 25Hy het vir hulle gesê hulle sal daar eet. Toe het die broers hulle presente reggesit om dit vir Josef te gee wanneer hy die middag kom.
26Toe Josef by die huis kom, het hulle die presente gebring en voor hom gebuig. 27Josef het vir hulle gevra hoe dit gaan. Hy het ook gevra: “Gaan dit goed met julle pa wat so oud is? Julle het my van hom vertel toe julle die eerste maal hier was. Lewe hy nog?”
28Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met ons pa. Hy lewe nog.”
Hulle het gekniel en voor hom gebuig.
29Toe Josef opkyk, sien hy sy broer Benjamin. Hy en Benjamin het dieselfde ma gehad. Toe vra hy: “Is dit julle jongste broer van wie julle my vertel het?”
Josef het vir Benjamin gesê: “Ek bid dat God goed sal wees vir jou.”
30Toe gaan Josef vinnig uit die kamer, want hy wou huil omdat sy broer gekom het. Hy het in 'n ander kamer gaan huil. 31Daarna het hy sy gesig gewas en teruggekom. Hy was kalm en hy het gesê: “Sit die kos op die tafel.”
32Josef se slawe het sy kos altyd apart bedien by sy eie tafel. Josef se broers het ook by hulle eie tafel gesit. Die Egiptenaars wat by Josef geëet het, het hulle kos ook apart gekry, want die Egiptenaars eet nie saam met Hebreërs nie. Hulle sal dit nooit doen nie, want hulle dink dit is baie verkeerd.
33Die broers het voor Josef gesit, elkeen op sy eie plek. Die slawe het die broers langs mekaar laat sit, van die oudste tot die jongste. Die broers het na mekaar gekyk en hulle was verbaas.
34Josef het vir die broers kos van sy tafel aangegee, maar Benjamin se kos was vyf maal meer as die ander broers se kos. Hulle het saam met Josef wyn gedrink en dronk geword.