Sekanja sê hulle moet die vroue en hulle kinders wegstuur
1Terwyl Esra gebid en bely het, het hy gehuil en op die grond gaan lê voor die tempel. 'n Klomp mans en vroue en kinders het by hom kom staan. Ja, die mense het baie hard gehuil. 2Sekanja seun van Jegiël, van die Elam-familie, het begin praat. Hy het vir Esra gesê: “Ons was ontrou aan ons God. Ons het getrou met vroue wat nie Israeliete is nie, hulle is mense van hierdie land. Die dinge het gebeur, maar ons kan nog hoop dat God dit goed sal laat gaan met Israel. 3Ons moet nou vir ons God belowe dat ons al hierdie vroue en hulle kinders sal wegstuur. Meneer en almal wat die wette van ons God respekteer, moet dit besluit. Ons moet doen wat die Here wil hê. 4Esra, jy moet opstaan, want dit is jý wat hierdie ding moet doen. Ons is by jou en ons sal jou help. Jy moet sterk wees en jy moet dit doen.”
5Esra het opgestaan en hy het vir die leiers van die priesters en Leviete en al die ander Israeliete gesê hulle moet belowe dat hulle sal doen wat Sekanja gesê het. Hulle het dit belowe. 6Esra het weggegaan van die tempel en hy het gegaan na die kamer van Joganan seun van Eljasib. Hy het daarnatoe gegaan, maar hy het nie geëet of gedrink nie, want hy het gerou omdat die mense ontrou was, die mense wat gevangenes in Babel was en wat teruggekom het.
Die volksvergadering besluit wat moet gebeur
7Hulle het 'n boodskap gestuur na almal in Juda en Jerusalem. Hulle het gesê die mense wat teruggekom het uit Babel, moet bymekaarkom in Jerusalem. 8Die hoofde en die leiers het besluit dat almal moet kom, en dat hulle elkeen wat ná drie dae nog nie gekom het nie, sal wegjaag van die mense wat teruggekom het. Hulle sal ook sy goed vat. 9Al die mans van Juda en Jerusalem het bymekaargekom voordat drie dae verby was. Dit was op die twintigste dag van die negende maand. Almal het op die oop stuk grond by die tempel gaan sit. Dit het gereën, en hulle het gebewe van die koue, maar ook omdat hulle bang was. 10Die priester Esra het opgestaan en hy het vir hulle gesê: “Julle was ontrou. Julle het getrou met vroue wat nie Israeliete is nie, julle het die sonde van Israel meer gemaak. 11Daarom moet julle nou bely voor die Here, die God van julle voorvaders. Julle moet doen wat Hy wil hê. Julle moet die ander mense in die land los, julle moet skei van die vroue wat nie Israeliete is nie.”
12Die hele vergadering het geantwoord en hard gesê: “Ja, ons moet doen wat jy gesê het. 13Maar hier is baie mense, en dit reën. Ons kan nie hier buite bly staan nie. En ons sal nie in een of twee dae alles kan doen wat jy sê nie, want baie van ons het hierdie sonde gedoen. 14Ons leiers kan hier bly en hulle kan die werk doen wat die hele vergadering moes doen. Almal in die stede wat getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie, kan dan kom wanneer hulle moet kom. Die leiers en regters van die stad kan saam met hulle kom en hulle kan dan doen wat hulle moet doen. Dit moet gebeur totdat die Here nie meer kwaad is vir ons nie.”
15Net Jonatan seun van Asael en Jagseja seun van Tikwa wou dit nie doen nie, en Mesullam en die Leviet Sabbetai wou ook nie. 16Maar die mense wat teruggekom het uit Babel, het gedoen wat hulle besluit het. Die priester Esra het manne gekies. Hulle was familiehoofde, Esra het hulle name genoem. Hulle het saamgekom op die eerste dag van die tiende maand om die werk te doen, 17en op die eerste dag van die eerste maand van die volgende jaar het hulle die laaste van die mans wat getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie, van hulle vroue laat skei.
Die name van die mans wat hulle vroue laat weggaan het
18Daar was ook priesters wat getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie:
Van die familie van Jesua seun van Josadak en sy broers was daar Maäseja en Eliëser en Jarib en Gedalja.
19Hulle het belowe om hulle vroue te laat weggaan, en elkeen het 'n skaap-ram of bok-ram gegee om 'n skuld-offer te wees.
20Van die Immer-familie was daar Ganani en Sebadja.
21Van die Garim-familie was daar Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija.
22Van die Pasgur-familie was daar Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.
23Van die Leviete was daar Josabad en Simi en Kelaja, Petagja, Juda en Eliëser. Kelaja se ander naam was Kelita.
24Van die mense wat sing, was daar Eljasib, en van die poortwagte was daar Sallum en Telem en Uri.
25Ander Israeliete:
Van die Paros-familie was daar Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Elasar, Malkija en Benaja.
26Van die Elam-familie was daar Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia.
27Van die Sattu-familie was daar Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa.
28Van die Bebai-familie was daar Joganan, Sabbi en Atlai.
29Van die Bani-familie was daar Mesullam, Malluk, Adaja, Jasub, Seal en Jeremot.
30Van die Pagat-Moab-familie was daar Adna, Kelal, Semaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse.
31Van die Garim-familie was daar Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simeon, 32Benjamin, Malluk en Semarja.
33Van die Gasum-familie was daar Mattena, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simeï.
34Van die Bani-familie was daar Maädai, Amram, Uel, 35Benaja, Bedja, Keluhi, 36Wanja, Meremot, Eljasib, 37Mattanja, Mattenai, Jaäsai, 38Bani, Binnuï, Simeï, 39Selemja, Natan, Adaja, 40Maknadbai, Sasai, Sarai, 41Asarel, Selemja, Semarja, 42Sallum, Amarja en Josef.
43Van die Nebo-familie was daar Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja. 44Hulle almal was getroud met vroue wat nie Israeliete is nie, en hulle het hulle vroue en kinders laat weggaan.