Ek sal julle laat woon op julle eie grond
1Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Hy het sy Gees gestuur om my uit die stad te bring en Hy het my neergesit in 'n vallei. Die vallei was vol bene van mense wat dood is. 2Die Gees het gesê ek moet rondom die bene loop. Daar was baie bene in die vallei, en die bene was baie droog. 3Die Here het vir my gevra: “Mens, kan hierdie bene weer lewe?”
Ek het geantwoord: “Here, U wat Here is, net U weet dit.”
4Toe sê die Here vir my: “Jy moet my boodskap bring vir hierdie bene, jy moet vir hulle sê: Droë bene, julle moet hoor wat sê die Here. 5Die Here, Hy wat Here is, sê vir hierdie bene: Luister, Ek sal asem in julle laat kom, en julle sal lewe. 6Ek sal spiere aan julle sit, Ek sal vleis oor julle laat kom en Ek sal vel oor julle sit. Ek sal asem in julle gee, en julle sal lewe. Julle sal weet dat Ek die Here is.”
7Ek het die boodskap vir die bene gebring soos die Here vir my gesê het. Terwyl ek dit gedoen het, het ek iets gehoor. Dit was 'n aardbewing. En toe kom al die bene na mekaar toe, elke been het gekom na die been wat by hom pas. 8En terwyl ek kyk, het daar spiere aan die bene gekom, vleis het die bene toegemaak, en daar het 'n vel oor die bene gekom. Maar daar was nie asem in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Mens, jy moet my boodskap bring vir die wind, jy moet my boodskap bring en jy moet vir die wind sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Wind, jy moet kom van die noorde en die suide, die ooste en die weste en jy moet in hierdie dooie mense blaas sodat hulle kan lewe.”
10Ek het die boodskap gebring soos die Here vir my gesê het, en toe kom daar asem in die bene. Hulle het begin lewe en hulle het regop gestaan. Dit was baie baie mense. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, hierdie bene is die hele volk Israel. Hulle sê: ‘Ons is soos droë bene, ons kan niks meer hoop nie. Daar kan nie meer iets gebeur wat goed is vir ons nie.’ 12Daarom, jy moet my boodskap vir hulle bring, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: My volk, Ek sal nou julle grafte oopmaak en Ek sal julle laat uitkom uit julle grafte. Ek sal julle laat teruggaan na die land Israel. 13My volk, julle sal weet dat ek die Here is wanneer Ek julle grafte oopmaak en wanneer Ek julle uit julle grafte bring. 14Ek sal my asem in julle gee, en julle sal lewe. Ek sal julle laat woon op julle eie grond, en julle sal weet dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
Hulle sal nie meer twee volke wees nie
15Ek het gehoor die Here sê vir my: 16“En jy, mens, jy moet 'n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Juda en vir die Israeliete wat hulle bondgenote is.’ Dan moet jy nog 'n plankie neem en jy moet daarop skryf ‘Vir Josef.’ Dit is die plankie van Efraim en al die mense van Israel wat hulle bondgenote is. 17Dan moet jy die twee plankies teen mekaar druk, sodat hulle in jou hand voel soos een plankie. 18En wanneer jou mense vir jou vra: ‘Vertel asseblief vir ons wat beteken die twee plankies,’ 19dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Kyk, Ek neem die plankie van Josef, dit is Efraim en al die Israel-stamme wat hulle bondgenote is, en Ek sit dan daardie plankie op die plankie van Juda en Ek maak een plankie van die twee plankies. Hulle sal soos een plankie in my hand wees. 20Wanneer hulle sien die plankies waarop jy geskryf het, is in jou hand, 21dan moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek sal nou die Israeliete wegneem tussen die volke waar hulle gekom het, Ek sal hulle bymekaarmaak van al die kante en Ek sal hulle na hulle eie land bring. 22Ek sal hulle een volk maak in die land, op die Israel-berge, en hulle almal sal een koning hê. Hulle sal nie meer twee volke wees nie en hulle sal nooit weer twee lande wees nie. 23Hulle sal ook nie weer afgode dien en dinge doen wat Ek haat nie. Hulle sal nie weer opstandig wees sodat hulle onrein word nie. Ek sal hulle red en Ek sal al hulle ongehoorsaamheid wegneem wat hulle sonde laat doen het, Ek sal hulle reinig. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees. 24En my dienaar Dawid sal hulle koning wees. Hy sal die enigste herder vir hulle almal wees, hy sal lewe soos Ek sê en hy sal doen wat Ek wil hê. 25Die Israeliete sal in die land woon wat Ek vir my dienaar Jakob gegee het, die land waar hulle voorvaders gewoon het. Hulle sal altyd daar woon, hulle en hulle kinders en hulle kinders se kinders. My dienaar Dawid sal altyd oor hulle regeer. 26Ek sal 'n verbond maak met hulle, 'n verbond wat vir hulle vrede sal bring. Die verbond sal vir altyd wees. Ek sal vir hulle gee wat hulle nodig het en Ek sal hulle baie laat word. Ek sal my tempel altyd by hulle laat staan. 27My woonplek sal by hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 28En wanneer my tempel altyd by hulle is, dan sal die ander volke weet dat dit Ek, die Here, is wat Israel aan My wy.”