Amnon verkrag sy half-suster Tamar
1Later het daar iets gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad, haar naam was Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, was verlief op Tamar. 2Amnon was so verlief op sy half-suster Tamar dat hy siek gevoel het, want sy was nog 'n jongmeisie en hy het nie geweet hoe hy alleen by haar kon kom nie. 3Maar Amnon het 'n vriend gehad, sy naam was Jonadab. Jonadab was die seun van Dawid se broer Sima. Jonadab was 'n baie slim man. 4Hy het vir Amnon gevra: “Jy is 'n prins. Hoekom lyk jy elke dag soos 'n man wat swaarkry? Vertel vir my.”
Toe sê Amnon vir Jonadab: “Ek is verlief op Tamar, my broer Absalom se suster.”
5Jonadab sê toe vir Amnon: “Jy moet op jou bed gaan lê en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit met jou gaan, dan moet jy vir hom vra: ‘Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my iets gaarmaak en sy moet dit vir my gee om te eet.’ ”
6Amnon het toe op sy bed gaan lê en hy het gemaak of hy siek is.Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, het hy vir die koning gevra: “Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my twee broodjies bak en sy moet dit vir my gee om te eet.”
7Die koning het toe vir Tamar in haar huis laat weet: “Gaan asseblief na jou broer Amnon se huis en maak vir hom iets om te eet.”
8Tamar het na haar broer Amnon se huis gegaan. Hy was in die bed. Sy het deeg geneem en sy het dit geknie en sy het daar by hom broodjies gebak. 9Toe het sy die pan geneem en sy het die broodjies voor hom uitgehaal. Maar hy wou dit nie eet nie. Hy het gesê almal moet uitgaan, en hulle het almal gegaan. 10Toe sê hy vir Tamar: “Bring die kos na my kamer en gee dit daar vir my.”
Tamar het die broodjies geneem wat sy gebak het en sy het dit vir haar broer Amnon in die kamer gebring. 11Maar toe sy dit nader bring sodat hy dit kon eet, gryp hy haar en sê vir haar: “My suster, kom lê by my.”
12Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, jy moenie vir my verkrag nie. So iets is verkeerd, Israeliete mag dit nie doen nie. Moenie hierdie slegte ding doen nie. 13Dink aan my. Waarnatoe sal ek gaan? Dit sal 'n skande wees. En jy, almal sal dink jy is 'n dwaas. Daarom, praat asseblief met die koning, hy sal jou met my laat trou.”
14Maar Amnon wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy en hy het haar verkrag. 15En daarna het Amnon niks meer van haar gehou nie. Hy het haar meer gehaat as wat hy voorheen verlief was op haar. Hy het vir haar gesê: “Jy moet opstaan en loop.”
16Sy het vir hom gesê: “Nou jaag jy my weg. Jy wil 'n ding doen wat baie slegter is as die ding wat jy klaar aan my gedoen het.”
Maar Amnon wou nie luister na haar nie. 17Hy het die jongman geroep wat hom bedien het en hy het vir hom gesê: “Jaag weg hierdie vrou en maak toe die deur agter haar.”
18Tamar het 'n lang rok aangehad, die rok het moue gehad. Prinsesse wat nog jongmeisies was, het altyd dit aangetrek. Amnon se bediende het haar uitgestoot buitetoe en hy het die deur toegemaak agter haar. 19Tamar het as op haar kop gegooi en sy het haar lang rok geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en sy het geloop en skree en sy het gevra dat iemand haar moet help. 20Haar broer Absalom het vir haar gevra: “Het jou broer Amnon iets aan jou gedoen? Toemaar, bly stil. Hy is jou broer. Moenie sleg voel daaroor nie.”
Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly. Sy was 'n eensame vrou. 21Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad. 22En Absalom het niks met Amnon gepraat nie, niks sleg of goed nie, maar hy het vir Amnon gehaat oor die ding wat hy aan sy suster Tamar gedoen het.
Amnon sterf
23Twee jaar later het Absalom mense gekry om sy skape se wol af te skeer by die stad Baäl-Gasor. Die stad het behoort aan die Efraim-stam. Absalom het al die prinse genooi om saam te gaan. 24Hy het ook vir die koning gaan sê: “Ek kry mense om my skape te skeer, ek vra dat die koning en sy amptenare asseblief saam met my moet gaan.”
25Die koning het vir Absalom gesê: “Nee, my seun, dit sal beter wees as ons nie almal gaan nie. Dit sal te veel werk wees vir jou.”
Absalom het weer en weer vir die koning gevra, maar die koning wou nie gaan nie. Toe hy vir Absalom groet, 26het Absalom vir hom gevra: “Mag my broer Amnon dan saam met ons gaan?”
Die koning vra toe: “Hoekom moet hy saam met jou gaan?”
27Absalom het aangehou om vir die koning te vra, en die koning het toe gesê Amnon en al die prinse mag saamgaan. 28Absalom het vir die jongmanne by hom gesê: “Julle moet asseblief kyk wat Amnon doen. Wanneer hy dronk is van die wyn en ek sê: ‘Slaan vir Amnon dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle moenie bang wees nie, dit is ék wat sê julle moet dit doen. Julle moet sterk wees, julle moet dapper manne wees.”
29Absalom se jongmanne het met Amnon gedoen soos Absalom vir hulle gesê het. Toe staan al die prinse op en hulle spring op hulle muile en hulle vlug. 30Hulle was nog op die pad toe Dawid hoor dat Absalom al die prinse doodgeslaan het en dat nie een prins nog lewe nie. 31Die koning het opgestaan en hy het sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy amptenare het ook hulle klere geskeur en hulle het by hom kom staan. 32Maar toe sê Jonadab, die seun van Dawid se broer Sima: “Meneer moenie dink al die jongmanne, die prinse, is dood nie. Net Amnon is dood. 'n Mens kon op Absalom se gesig sien dat hy besluit het om vir Amnon dood te maak, van die dag toe Amnon vir Tamar, Absalom se suster, verkrag het. 33Maar nou moet Meneer die koning nie sleg voel en dink al die prinse is dood nie, want dit is net Amnon wat dood is, en 34Absalom het gevlug.”
Die jongman wat waggestaan het, het gesien daar kom 'n groot klomp mense op die pad agter hom, teen die kant van die berg. 35Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die prinse. Dit is wat ek vir die koning gesê het.”
36En toe Jonadab dit klaar gesê het, het die prinse daar aangekom, en hulle het hard begin huil, en die koning en sy amptenare het ook baie hard begin huil.
37Absalom het gevlug en hy het na Talmai seun van Ammigur, koning van Gesur, toe gegaan. Dawid het aangehou treur oor sy seun. 38Absalom het na Gesur gevlug en hy het drie jaar daar gebly. 39Koning Dawid het nie na Absalom toe gegaan nie, want hy was baie hartseer omdat sy seun Amnon dood is.